6 April 1652 | Jan van Riebeeck kom aan

jan-van-riebeeck-painting-900x315Volk wat die Here ken, in Afrika gevestig

Ds. Cornelis Bertie Brink (1901–1972) het as predikant van die toe groot en belangrike NG Gemeente Johannesburg van 1945 tot 1959 ’n leidende rol gespeel in die Afrikanergemeenskap van die Goudstad en as moderator van die Transvaalse Sinode (1951 tot 1957) in die land se kerklike lewe.

In 1952, met die 300-jarige herdenking van die volksplanting, het ds. Brink die volgende boodskap oor die betekening van Jan van Riebeeck en sy geselskap se koms na die Kaap die Goeie Hoop geskryf. Hoe relevant is dit vandag, byna 70 jaar later?

Vir historici en mense wat maklik ’n beeld van die gang van die geskiedenis deur die eeue in hul gees te voorskyn kan roep, lê die 6de April 1652 moontlik nie ver weg in die verlede nie. Hulle sien die drie eeue as een dag en is in staat om die begin en oorsprong van wat vandag is, te soek en te vind in wat toe was.

CB_Brink

Ds. en mev. Brink (weerskante) by die bekende Johannesburgse geneesheer dr. I.P. Schabort (derde van links) en dié se eggenote (tweede van links).

Vir ons gewone mense is dit moeiliker; ons beskou nie so maklik die tydperk wat verby is as ’n geheel nie. Dit is vir ons eerder ’n aaneenskakeling van losstaande gebeurtenisse wat somtyds niks met mekaar te maak het nie. En tog gewaar ons die leiding van ’n onsigbare Hand in die lotgevalle van die blanke bevolking wat duidelik bestem is om in Suid-Afrika ’n enige tuiste en ’n vaderland te vind. Daarvoor sal daar dankbaarheid by ons wees by die herdenking van die volksplanting aan die Kaap drie eeue gelede.

Want die beskawing en die Christendom is hier gevestig geraak in die donker vasteland van Afrika. Hoeveel opoffering, ontbering en volharding dit veral in die beginjare geverg het, kan ons ons nouliks meer voorstel; maar ons weet dat die gedagte in daardie tyd bestaan het dat die nedersetting aan die Kaap “het sop de kool niet waerdigh” was, en dat die bewindhebbers vir ’n lang tyd aan niks meer gedink het as om “een beknopte residentie aan de Caep te houden”.

Teen wil en dank egter moes hulle die volksplanting sien uitbrei; die volkslewe het spoedig begin vorm aanneem; die volkskarakter is gesmee en getemper in die skool van ontbering en lyding tot ’n daadwerklike geloof in die almag en goedheid van God. Soos Israel van ouds, het die Here ’n volk versamel van die Ooste en die Weste, van die Noorde en van die see af, en hulle wat gedwaal het in die woestyn, op die woeste paaie, het die Here gelei op ’n regte pad om te gaan na ’n stad om in te woon. In Afrika is ’n volk wat die Here ken, gevestig. Daarvoor is ons dankbaar.

En daarby is volgens die raad van God ’n taak verrig en ’n roeping volbring. Die vlym van onvriendelike kritiek vervul ons soms met ’n gevoel van hulpeloosheid en laat ons dink aan die koms van die beskawing en die Christendom na Suid-Afrika as ’n oorsaak van vloek en veroordeling vir die land en sy miljoene inboorlinge. Maar teen wil en dank weer, sonder dat ons dit altyd opsetlik gewil het, is ons gelei om “onder deze wilde brutale menschen” die Christelike leer voort te plant en te verbrei, soos Van Riebeeck gebid het.

Veel minder as wat ons skuldig was om te doen, dit is waar, maar veel meer as wat ons moontlik sou gedink het. Ons durf vra waar in die kolonisasiebeleid van watter volk ook al het so ’n klein getal mense so baie gedoen vir so vele? Daarvoor sal ons dank betuig aan die Here. En ook sal ons Hom dank vir die grond wat ons nou het om die vierde eeu, met alles wat hy vir ons in sy duistere skoot verborge hou, onbevreesd tegemoet te sien.

Daar is moeilikhede op ons pad en daar grom gevare om ons heen; maar is hulle meer onoorkomelik en onoorwinbaar as die wat sewe of agt geslagte voor ons getrotseer het? Ons vermeende of werklike verleenthede van vandag kan met Gods hulp sovele geleenthede word wat ons kan aangryp om nogeens die verlossende almag van die Here te ondervind, en om met hoop en verwagting die taak van elke dag getrou te verrig terwyl ons weet dat die man welgeluksalig is wie se hoop op die Here sy God is.

Vir die versekering en die waarborg wat die verlede ons gee om ook vir die toekoms te let op die goedertierenhede van die Here – laat ons daarvoor aan God ons dank betuig, ons dank en die offers van ons hart en ons lewe.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s