26 April 1895 | Hester Rossouw gebore

Dr_SH_Rossouw_en_gesin_op_Senekal.jpg

Dr. S.H. en mev. Hester Rossouw toe hy leraar van die NG Gemeente Senekal was met hul twee oudste kinders. Die dogtertjie is Elize, later staatspresidentsvrou, en die seuntjie die latere adv. Servaas Rossouw.

Elize Botha se moeder ’n Dopper

Hester Rossouw  was die eggenote van die NG predikant dr. Servaas Rossouw en moeder van Suid-Afrika se staatspresidentsvrou Elize Botha.

As pastoriemoeder het sy saam met haar man gearbei in die gemeentes Nuwe Kerk van 1920 tot 1921, Senekal tot 1926, Albertinia tot 1930, Swellendam tot 1944 en daarna tot enkele jare voor sy dood op Maandag 11 Junie 1956 in Maitland, ’n werkersklasbuurt naby die Kaapse middestad.

Haar man het sy voorbereidende studie op Stellenbosch ontvang en daarna vêrder in Amerika en Nederland studeer. Kort ná sy legitimasie het hy twee beroepe ontvang: die een na die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Johannesburg en die ander na De Nieuwe Kerk, Kaapstad. Hy het hom die tweede laat welgeval.

Hester_Rossouw.jpg

Mev. Hester Rossouw as bejaarde.

Nadat hy dié beroep aangeneem het, is hy op 5 Maart 1920 in die huwelik bevestig met mej. Hester Duvenage, dogter van mnr. en mev. A.P.C. Duvenage, van Middelburg, Kaap, lidmate van die plaaslike Gereformeerde gemeente.

Hester Duvenage se ouers was blykbaar A.P.C. Duvenage (1875–1947) en Isabella Maria Mulder (gebore 1868), dogter van Wynand Mulder (gebore Junie 1841 te Oudtshoorn) en Isabella Maria Breytenbach (gebore Maart 1841 te Oudtshoorn). Of Francina Susanna Lucia (geb. Kruger, 18 Desember 1877 – 25 Februarie 1952).

Ná voltooiing van haar skoolloopbaan, blykbaar op Middelburg, sy na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy die hoogste eksamens afgelê het in sang en musiek (klavier en tjello) en haar as onderwyseres bekwaam het. Sy het haar aanstaande in haar studentejare ontmoet terwyl hy besig was met sy voorbereidende studie aan die Victoria-kollege.

Nadat dr. Rossouw vir verdere teologiese studie na die buiteland vertrek het, het Hester op Potchefstroom onderwys gegee. In 1982 het sy haar herinneringe aan haar jare op Potchefstroom “met ’n vaste handskrif wat veel jonger mense haar van harte sal beny” neergeskryf.

Daarin het sy onder meer vertel: “My broer, prof. A.P.C. Duvenage, het my in Januarie 1915 op Potchefstroom se stasie kom ontmoet. Ek het van Middelburg, Kaapland, gekom om ’n betrekking as onderwyseres aan die Laerskool Gimnasium te aanvaar. My broer was nie juis baie opgeruimd nie.

“Die volgende oggend aan ontbyttafel vertel hy, terwyl die trane oor sy wange rol, dat genl. De Wet die vorige aand ’n vergadering in die stadsaal gehou het. Die Sappe (ondersteuners van genls. Louis Botha en Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party) het die lig afgeskakel en het hom met tamaties en eiers gegooi.

“Genl. Smuts wou Duits-Wes verower. Die polisie het my broer vertrou en hom vertel dat hulle die aand om agtuur genl. (J.C.G.) Kemp in hegtenis gaan neem. Happy van der Walt, ’n student, het saam met my broer gegaan om genl. Kemp te gaan waarsku. Hulle het omtrent twintig voor agt by die Kemp-woning aangekom. Genl. Kemp het dadelik weggejaag. Toe Smuts se mense kom, was Kemp al weg . . .”

Dr_SH_Rossouw_en_gesin_Swellendam.jpgRossouw het voorts vertel haar broer het die onderwysman Dirk van Rooy opgelei. Hierdie onderwyser het later sy plek ingeneem. Prof. Duvenage was ook burgemeester van Potchefstroom en het saam met sy ander bedrywighede rugby afgerig.

Sy vertel ook dat sy en Dirk van Rooy daardie tyd nog nie belydenis afgelê het nie. Hy het die dominee se vrou gevra om vir hulle voorspraak te doen by die predikant, ds. W.J. de Klerk, grootvader van die opvolger van Hester Rossouw se skoonseun as staatspresident, FW de Klerk.

Hulle het te veel werk gehad om te doen met die skoolhouery en kon nie al die vrae vir die belydenis leer nie. “Ons is toe aangeneem,” het Rossouw geskryf, “en toe ons die dag terugry Bult toe (dis waar die ‘Doppers’ gewoon het), het dit begin reën en ons het waternat gereën. Dirk sê toe dis ons straf omdat ons nie vrae wou leer nie.”

Nog ’n herinnering aan haar tydjie op Potchefstroom was aan die onderwysers wat soms na partytjies genooi is waar dit “nie so plegtig gegaan het nie”. Dan was dit prof. Joon van Rooy se lot om vir hulle ’n voorspraak te wees. Tog het hulle hulleself darem meestal goed gedra. “Ons het dikwels gaan piekniek hou onder die wilgerbome langs die Mooirivier. Ons het toebroodjies en skons saamgeneem en frikkadelle”.

Van die bekendes uit haar tyd het sy Munstra, ’n Hollander, as een van die groot figure uitgesonder. “Hy het altyd daarop gestaan dat Afrikaans gepraat moet word. Gretchen – prof. (Ferdinand) Postma se oudste dogter – was by hom in die klas.”

Van die latere minister en president van die senaat Jan de Klerk, ’n seun van ds. De Klerk, het sy soos volg vertel: “Tydens die griep het mev. De Klerk haar seun, Jan de Klerk, op sy fiets met emmertjies sop na die siek, arm mense gestuur. Sy het die sop in ’n groot kastrolle op twee primusse gekook. Dit was sulke wit emmertjie met deksels.

“Ossie Yssel het my die bynaam Tanta gegee. Ons het almal byname gehad. Totius, klein van gestalte maar ’n reus in alle opsigte, was stil en bedaard met ’n dierbare vrou en kinders. Hy het altyd gaan stap. Fanus was die oudste seun. Wilhelmina was ’n pragtige dogter. Sy het vir my ’n geskenkie gebring toe ek daar weg is – ’n silwerbakkie.”

Toe Hester Duvenage die geskenkie van Wilhelmina ontvang het, sou niemand kon droom dat Wilhelmina op 31 Desember 1920 deur weerlig doodgeslaan sou word nie, enkele weke nadat hul boetie François in die ouderdom van 13 maande op 7 November 1920 oorlede is.

Ná haar huwelik het mev. Rossouw 24 jaar lank as lid van die destydse Sensorraad gedien. Sy was voorsitster en presidente van verskeie verenigings, komitees, en verskeie takke van die Vrouesendingbond en die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging. Sy was ook lid van die Kaaplandse Blommebeoordelaarsunie. Sy het haar ook beywer vir die instelling van die Wêreldbiddag vir Vroue in Kaapland.

Sy is oorleef deur twee dogters, Elize Botha en J.C.M. Rossouw van Kaapstad, en ’n seun, adv. Servaas H. Rossouw van Pretoria. Haar oudste seun, Daniël Hendrik Rossouw, is as kind oorlede. Ten tyde van haar dood was daar agt kleinkinders en 10 agterkleinkinders. Sy is op 1 Julie 1988 oorlede in Huis Vergenoegd in die Paarl en op Dinsdag 5 Julie uit die NG Kerk op Swellendam begrawe.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s