4 Mei 1942 | Frans van der Walt gebore

 

Frans van der Walt plat

Dr. Frans van der Walt.

Uitblinker op skool en universiteit

Francois (Frans) van der Walt is op 4 Mei 1942 in Oos-Londen gebore in die tyd toe ds. H.F.V. Kruger predikant van die plaaslike Gereformeerde gemeente was.

Herkoms

Dr. Frans van der Walt se ouers was Nicolaas van der Walt (26 September 1910 – 5 Desember 1970) en Tjaartina Petronella Jacoba Coetzee (13 Mei 1908 – 11 Oktober 1991). Die egpaar het nege kinders gehad, van wie Frans die vierde oudste was.

Sy agt sibbes is (of was): Stefanus Christiaan (Fanus, 8 Julie 1936 – 14 September 2016), Tjaartina Petronella Goosen (Nellie, 29 September 1938), Andries Petrus Johannes (Andries, 15 Junie 1940 – 31 Desember 2008), Nicolaas (Colaas, 11 Maart 1944 – 20 Julie 2007), Isabella Francina de Klerk (Sienie, 31 Augustus 1946), Abraham Jacobus (Abraham, 21 Februarie 1949), Anna Chambers (Ansa, 3 Julie 1951) en Isak Dawid (Isak, 9 April 1954).

Opleiding

Ds_Frans_van_der_Walt,_1965

Frans van der Walt toe hy aangewys is as voorsitter van die PU vir CHO se studenteraad.

Dr. Frans het vyf van sy sewe laerskooljare in sy geboortestad deurgebring en die orige twee jaar op Thaba Nchu. In 1955 is hy na die hoërskool op Olifantshoek in Noord-Kaapland, waar hy in 1959 met onderskeiding gematrikuleer het. Hy was hoofseun en het vir die eerste rugbyspan uitgedraf.

Reeds op skool het die gedagte om predikant te word telkens by hom opgekom. “Ons het as ’n gesin die eeufees van die Gereformeerde Kerke in Rustenburg (1959) bygewoon,” onthou hy. “Ek het die besluit in daardie tyd geneem – ek was toe in matriek.”  Nou kan hy terugkyk op 77 geseënde jare en sê: “My hele lewe is ’n antwoord op die Here se liefde vir my.”

Ná skool het hy aan die destyds PU vir CHO studeer, waar sy B.A. in 1962 met lof verwerf het asook sy B.A. (Hons.) in Grieks die jaar daarna, weer met lof. In sy honneursjaar het hy die hele Institusie van Calvyn deurgewerk en deeglik bestudeer. Hierna volg die Th.B. in 1966 met die skripsie Godsbegrip en die bevryding van die mens, met besondere verwysing na W.A. de Pree en J. Moltman, eweneens met lof, en 16 jaar later die Th.D. met die proefskrif ’n God wat bevry? ’n Ondersoek na die godsleer van Jürgen Moltman.

In 1966 het hy die Raadsmedalje vir die beste algehele prestasie in alle fakulteite ontvang en in dieselfde jaar die Abe Bailey-beurs vir studie in die buiteland, maar dit het hy prysgegee om te trou. Hy was in dieselfde jaar voorsitter van die studenteraad en van die Gereformeerde Teologiese Vereniging. Ook op universiteit was Frans van der Walt primarius van Over de Voor en voorsitter van die Afrikaanse Studentebond sowel as van Corps Veritas Vincet.

Gesinslewe

54435048_10157290785681155_4402410073322684416_n

Frans en Johannatjie van der Walt met hul eersteling, Nico.

Dr. Frans is op 15 Januarie 1966 in die Gereformeerde Kerk Pretoria-Brooklyn deur prof. Wimpie de Klerk met Johanna Frederika Huibrecht du Toit in die huwelik bevestig. Johannatjie, wat op 30 April 1944 op Potchefstroom gebore is, is ’n kleindogter van ds. C.W.M. du Toit, Totius se halfbroer, en ’n agterkleindogter van ds. S.J. du Toit.

Haar ouers was Stefanus Jakobus du Toit (genoem na sy oupa) en Martha Wilhemina Basson. Die egpaar is geseën met drie kinders: Nico van der Walt op 30 Maart 1967, Elma op 10 September 1968 (getroude van De Kock) en Ronél op 2 Januarie 1971 (getroude van Pfotenhauer).

Hul eersteling het drie weke laat opgedaag. Van der Walt kon sy vrou op 13 Maart hospitaal toe neem, en moes toe vinnig van Pretoria na Upington vertrek om betyds te wees vir sy bevestiging die volgende Sondag, 20 Maart, in sy eerste gemeente, GK Upington.

Dr. Frans beskryf hul nege kleinkinders en een agterkleinkind as “die groot vreugde en seën in my en Johannatjie se lewe”.

Bediening

Dr. Frans het in Januarie 1967 predikant in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika geword. Sy gemeentes was Upington (1967 – 1969), Bloemfontein (1970 – 1977) en Bellville-Oos (waar hy op die dag van hul twaalfde huweliksherdenking, 15 Januarie 1978, ontvang is). Hier het hy sy emeritaat op sy 65ste verjaardag op 4 Mei 2007 aanvaar.

In sy lang loopbaan was een van die hoogtepunte die groei wat die gemeente Bellville-Oos beleef het van ’n betreklik klein gemeente met sowat 430 lidmate einde 1976 tot meer as 730 einde 1989, wat dit nodig gemaak het om ’n medeleraar te beroep. Ds. H.S. Coetsee het dan ook in 1990 diens aanvaar.

’n Laagtepunt was die ernstige aanval van immuno-artritis in 1984 wat sy kragte getap en sy wilskrag afgebreek het, maar “deur die seën van die Here het dit ook tot geestelike groei gelei”, vertel dr. Van der Walt.

Hy het amper ses maande swaar weens die siekte gely en was weke so verlam dat hy nie kon loop nie, maar moes kruip. Hul seun, Nico, was toe in matriek. “Frans het egter met die uiterste selfbeheersing met die nodige diëte en oefening herstel – vir ons ’n wonderwerk,” onthou Johannatjie.

Nog ’n groot uitdaging was om, sonder dat hy studieverlof geneem het, vir sy Th.D. te studeer terwyl hy voltyds in die bediening in ’n groot gemeente gestaan het.

Belangstellings

Dr. Frans vertel sy stokperdjies is lees, lees en nogmaals lees, terwyl hy ook graag stap. Hy stel belang in bonsai, wynbou (veral in die Wes-Kaap), woordafleiding en die geskiedenis van die wysbegeerte.

Gk Stilbaai 10 jaar.jpg

Johannatjie (in blou) en dr. Frans van der Walt (regs van haar) woon GK Stilbaai se 10-jarige viering in 2012 by.

Groeteboodskap ten tyde van sy afskeid van Bellville-Oos

Wie is die mens, Frans van der Walt?  Hoe het ons hom leer ken die afgelope 30 jaar?

Neem die tekste oor die “Vrug van die Gees” (Gal. 5 : 19 en verder) en dan kan ons sê: ons ken so iemand wat sy hele lewe konsekwent, elke dag, in diep nederigheid gestreef het om alles na te kom wat God van ons vra!

Liefde – daaraan kon niemand ooit ’n enkele oomblik twyfel nie!! Vir sy gesin vir sy familie, vir elke kind, elke bejaarde en vir elkeen wat swaar gekry het,.

Vreugde – met ’n stil, sagte glimlag kon jy sy vreugde sien – selfs in die kleinste dingetjie! ’n Kind, musiek, die natuur, in die humor van die kinders.

Vrede – wanneer pyn, lyding en hartseer van mense hom op sy knieë laat buig het, het die vrede van God hom laat opstaan sodat jy kon sien hoedat die pyn weggewas is uit sy gesig

Geduld – hy het oneindig geduld gehad met die swakhede van mense,  (maar nie altyd so baie geduld met ’n hamer en skroewedraaier nie!)

Vriendelikheid – stil, opreg, eg en sonder pretensie, ’n luisteraar eerder as ’n prater.

Goedhartigheid – ’n mens sou ’n boek kon skryf oor hoeveel mense by die pastorie aangeklop het om hulp en nooit sonder iets weggegaan het wanneer hy die deur oopgemaak het nie.  Hy het sy gesin altyd vooropgestel en nooit iets vir homself gevra nie – hy het gegee sonder om ooit iets te vra.

Getrouheid – Getrou as eggenoot, getrou as pa, getrou in integriteit – wanneer probleme en spanning hom laat swaarkry het, het hy nooit ’n negatiewe woord gesê of afbrekende opmerking gemaak oor enigiemand nie, maar die swaar na die Here geneem. Sy getrouheid aan elkeen van sy lidmate kon jy op sy gesig sien wanneer hy op die kansel vir ons bid – hy het nooit ’n gebed uitgeskryf nie, maar in sy gedagtes geformuleer en die emosie het uit sy houding, uit sy stem gespreek wanneer hy ons opdra aan die liefde en genade van ons Hemelse Vader. Wanneer ’n ouer gely het oor die dood van ’n kind, kon jy die beeld van die lyding soos in ’n spieël hoor in sy stem.

Nederigheid – hy het in sy prediking nooit met ’n reguit  voorvinger na die luisterende lidmate gewys nie, altyd met die punt teruggedraai na homself – hy het altyd gesê hy praat ook met homself!

Selfbeheersing – ’n absolute kenmerk van die intelligente, beskeie, stil en humoristiese man

Statistiek: In 40 jaar doop hy ongeveer 800 babas, trou hy 500 paartjies en lê ongeveer  700 dooplidmate belydenis af (babas en belydenisaflegging in Upington/Bloemfontein geskat).

Dr. Frans word baie jonk tot die kuratorium/kieskollegie verkies en behaal sy doktorsgraad sonder enige studieverlof op 40. Hy was 23 jaar lank alleen predikant van Bellville-Oos totdat Fanie Coetzee in 1990 as tweede predikant bevestig is. Hy dien in die kinders se skole se beheerrade, ook as voorsitter, al die jare van hulle skoolloopbaan.

Hy is lid van die FAK en ontvang ’n toekenning van die Federale Bond van JV’s (landswyd) vir sy besonderse bydrae tot hulle werk. Alhoewel daar beroepsgeleenthede op sy pad kom is hy uitgesproke daaroor dat hy ’n predikant wil wees en in sy gemeente tussen sy mense wil werk en bly. Dit was sy roeping.

Facebook-kommentaar

Annatjie Sandrock My Troupredikant in Bloemfontein. 1976 Sy Boodskap: As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs bou die wat daaraan bou. Die kommentaar van die gaste teenwoordig na die tyd was dat almal gewonder het watter boodskap daaruit sou kan kom vir ‘n bruidspaar. Wel – dit het ons lewensleuse geword vir 40 jaar en dis nog steeds myne en sal so bly.
Johannes van der Colf Ds Frans was my predikant vanaf 1979 tot 1981.Ek was daarna lidmaat van sy buur gemeente Bellville en.was steeds in.kontak met hom. Onthou dat hy kern gedagtes sterk verduidelik het in.sy prediking. So het hy Jesus se nederigheid uitgelig in sy prediking oor die intog in Jerusalem op n donkie. Elke keer as ek verby n donkie gaan flits daardie preek van.ds Frans in.my.kop
Anna-Marie Smit Dr Frans en Tannie Johannietjie het my ouers bedien met liefde tydens my pappa se kanker stryd. Soveel dankbaarheid vir hulle bediening. Kosbare herinneringe. Ek eer hulle vir hulle liefde veral v ons seniors lidmate in Bellville Oos gemeente.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s