Waar kom die naam Benoni vandaan?

 

BenoniCecilHotel

Een van die vroegste hotelle in Benoni, die Hotel Cecil.

Johann Rissik se ‘kind van smarte’

In die ou dae in Transvaal was daar, by gebrek aan landmeters, ’n bepaalde metode om plase af te baken. ’n Middelpunt is geneem en dan moes ’n man te perd ’n halfuur lank op ’n matige pas ry in ’n noordelike rigting, dan dieselfde afstand van die middelpunt af in ’n suidelike rigting en ook wes- en ooswaarts. Wanneer die vier punte aanmekaargelas word, vorm dit die nuwe plaas se grense.

Maar so het onreëlmatige stukke grond tussen die afgebakende plase oorgeskiet, wat “uitvalgrond” genoem is. Hierdie uitvalgrond het staatseiendom gebly. In 1881 het die ZAR se regering besluit om al die uitvalgrond behoorlik te laat opmeet en van name te voorsien.

4111_1924

Die gewese NG Moederkerk in Benoni, ontwerp deur die Australiese argitek William Henry Ford.

Die taak is opgedra aan Johann Rissik, later landmeter-generaal en administrateur van Transvaal. Rissik het op ’n dag baie moeilikheid ondervind met ’n stuk uitvalgrond ongeveer 19 myl oos van Johannesburg af. Dit was baie onreëlmatig en moeilik om op te meet. Rissik was baie godsdienstig en het sy Bybel goed geken.

Terwyl hy so gesukkel het, het hy aan Ragel in haar barensnood gedink, soos opgeteken in Genesis 35:18:

En toe haar siel uitgaan – want sy het gesterwe – noem sy hom Ben-Oni.

Ben-Oni beteken “kind van smarte”, en dit is die naam wat Rissik aan die stuk grond gegee het: Benoni. Hierdie verklaring word gestaaf deur Owen Letcher in “The gold mines of Southern Africa”. Letcher beweer dat twee pioniers van Benoni die storie van Johann Rissik self gehoor het. Dit is ook die verklaring van J.G. van Alphen (“Die Huisgenoot”, 3 September 1943).

BenoniMunOfPc01

Benoni se eerste munisipale kantoor, omstreeks 1910.

In September 1887 is goud op Benoni ontdek, en die jaar daarop is dit as gouddraende plaas geproklameer. Goudsoekers het nou toegestroom. Een mynonderneming het geslaag, maar twee het misluk. Die mynonderneming Florence se masjinerie is opgekoop deur die swart opperhoof Lobengula en na Rhodesië vervoer.

Johann_Rissik

Johann Rissik was die naamgewer van Johannesburg sowel as Benoni.

Goud is toe egter ook op die omliggende plase Kleinfontein, Vlakfontein en Modderfontein ontdek. Mynontginning het snelle vordering gemaak. Mynkampe het ontstaan waar ’n paar jaar tevore eensame boereplase was, maar dis eers in 1904 dat die eerste persele verkoop is, nie op Benoni nie, maar op die aangrensende plaas Kleinfontein.

Gereformeerde_kerk_Benoni

Die ou Gereformeerde kerk Benoni wat in 1991 gesloop is. Die argitekte was Leendert en Geurt Geers. Die Lake View-inkopiesentrum is deels op die kerk se perseel gebou.

Die naam is egter oorgeneem vir die nuwe dorp. In 1906 is ’n gesondheidsraad vir Benoni in die lewe geroep. Dit het egter spoedig geblyk dat die Raad se magte nie voldoende was om met die snelle vooruitgang van die dorp tred te hou nie, en in Desember 1907 het die Transvaalse administrasie besluit om ’n dorpsraad in die lewe te roep.

johann_rissik_church_street_cemetery_in_pretoria_148.jpg

Rissik en sy vrou se grafsteen in die Heldeakker, Pretoria.

Facebook-kommentaar

Verdi Snyman Ds Eddie Tiemensma, dit laat my dink aan u grensdraad storie van Noord-Oosrand gemeente.Die gemeentegrense het verder as tans gestrek… Tydens ‘n kerk-raadsvergadering het ek oor ‘n bepaalde grens navraag gedoen. Die antwoord was: “Volg die grensdraad tot by ‘n vlei. Mik dan reguit oor die vlei en daarvandaan loop die grensdraad verder.” Hieraan het iemand anders toegevoeg: “Meestal staan by die hoekpaal ‘n perd as baken.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s