Waar kom die naam Bergbron vandaan?

 

shutterstock_690901663

Die Northcliff-watertoring op Aasvoëlkop, die hoogste punt in Johannesburg. (Foto: joburg.co.za)

GK Bergbron beslaan gebied met ryk geskiedenis

In ons reeks waarin ons kyk na die oorsprong van Gereformeerde kerke se name kom Bergbron nou aan die beurt, ’n voorstad sowat 10 km noordwes van Johannesburg se middestad, tussen Florida Glen, Northcliff, Greymont en Delarey.

Die beskikbare bronne gee ongelukkig nie ’n verklaring van die oorsprong van die naam Bergbron nie, maar ’n entjie hiervandaan is die voorstad Quellerina, wat ook van “waterbron” afgelei is. Die berg waarna in die naam verwys word, is Aasvoëlkop, die 1 787 m hoë heuwel waarop die Northcliff-watertoring gebou is. Die gevolgtrekking is dus dat hier ’n fontein was of is.

Die Gereformeerde Kerk Bergbron het in 1998 ontstaan uit die samesmelting van die ou GK Delarey, genoem na ’n aangrensende voorstadjie, en GK Johannesburg-Wes, wie se kerk in Brixton toe verkoop en later in ’n woonhuis omskep is.

GK Bergbron sluit ’n groot gebied in, maar het net 129 lidmate oor. Van die voorstede binne sy gebied is:

Albertskroon – in 1896 op die plaas Waterval aangelê en genoem na die eienaars, die Alberts-familie. Die kroon verwys na die rand van ’n heuwel.

Albertsville – net so oud soos Albertskroon en genoem na die plaaseienaar, Hendrik Abraham Alberts.

Auckland Park – omstreeks 1888 aangelê en deur John Landua, ’n Nieu-Seelander, na die grootste stad in sy vaderland genoem nadat hy die plaas by Petrus Lindeque gekoop het.

Gereformeerde_kerk_Johannesburg-Wes

Gerard Moerdyk en Henry Watson het die Gereformeerde Kerk Johannesburg-Wes in Brixton ontwerp.

Brixton – genoem na ’n voorstad in Suid-Londen deur Horace Collins, sekretaris van Auckland Park Real Estate, en algemene bestuurder van Paarl Central Gold Mining Company, so genoem deur ds. S.J. du Toit na sy geboortedorp, die Paarl.

Claremont – wat waarskynlik so genoem is na die gelyknamige Kaapse voorstad. Die naam is Frans en beteken “duidelike berg” omdat Tafelberg van daar duidelik gesien kan word.

Crosby – aangelê op die plase Langlaagte en Middelfontein en op 27 April 1938 geproklameer. Dis genoem na James H. Crosby, mede- algemene bestuurder van die Langlaagte Estate and Gold Mining Company.

Koos_de_la_Rey

Genl. Koos de la Rey (met die baard) by sy perd. Hy het in 1914 in padblokkade by Langlaate gesterf.

Delarey – genoem na genl. Koos de la Rey, wat op 15 September 1914 geweier het om stil te hou by ’n polisiepadblokkade wat opgestel is om die Fosterbende te vang, en toe noodlottig gewond is deur ’n opslagkoeël.

Florida en Florida Glen – genoem na die Amerikaanse deelstaat, blomme wat hier groei of Florrie, ’n vierjarige naasbestaande van die stigter van die voorstad, Hendrik van der Hoven, wat kort voor die aanleg van Florida dood is.

Fordsburg – net ’n jaar jonger as Johannesburg self en genoem na Lewis Peter Ford, ’n vennoot in die Jeppe and Ford Estate Company later prokureur-generaal van Transvaal.

Greymont – ’n beskrywende naam wat vaal of grys berg beteken. Die voorstad is in 1903 aangelê en wat eers deel van Roodepoort-Maraisburg, maar is in Februarie 1939 by Johannesburg ingelyf.

Hurst Hill – die Oudengelse woord “hurst” beteken ’n digte bos of ’n sandkol in ’n rivier.

Jannie_Hofmeyr_en_moeder

Jan Hofmeyr en sy moeder, Deborah, op die trap van die Parlementsgebou in Kaapstad in 1938, die jaar waarin hy die kiesafdeling Johannesburg-Noord met ’n meerderheid van 3 334 gewen het

Jan Hofmeyr – genoem na Jannie Hofmeyr, genl. Smuts se adjunkpremier en minister van binnelandse sake toe die voorstad in 1935 aangelê is.

Langlaagte – genoem na die plaas Langlaagte, waarop George Harrison in Junie 1886 die Witwatersrandse gouddagsoom ontdek het. Dit beteken lang vallei of dal.

Maraisburg – aangelê op die plaas Paardekraal en genoem na die eienaar daarvan, Abraham Petrus Marais.

Melville – voor 1899 aangelê en genoem na die landmeter, Edward Harker Vincent Melville.

General_Sir_Bernard_Montgomery_in_England,_1943_TR1037_(cropped)

Veldmaarskalk Bernard Montgomery, hier afgeneem in 1943.

Montgomery Park – in 1951 aangelê en genoem na veldmaarskalk Montgomery wat tydens die Tweede Wêreldoorlog saam met die Geallieerde Magte in Noord-Afrika diens gedoen het.

Northcliff (uitbreidings) – aangelê op die plaas Waterval en op 3 Oktober 1934 geproklameer. So genoem omdat dit geleë is op die mees noordelike krans (“cliff”) in Johannesburg.

Rossmore – aangelê op die plaas Braamfontein en op 9 September 1925 geproklameer. Die naam is ter ere van lord Rossmore se enigste dogter, Mary Westenra, die mynmagnaat sir Abe Bailey se tweede vrou.

Sophiatown (voorheen Triomf) – in 1903 deur H. Tobiansky op die plaas Waterval aangelê en na sy vrou, Sophia, genoem. Dis tot 1955 deur Afrikane bewoon, wat toe gedwonge verskuif is na onder meer Meadowlands nadat die voorstad tot ’n blanke groepsgebied verklaar is.

Nederduitsch_Hervormde_kerk_Johannesburg,_Morné_van_Rooyen,_2017

Die Nederduitsch Hervormde kerk Johannesburg op Cottesloekoppie by Vrededorp. Gerard Moerdyk het die kerk ontwerp.

Vrededorp – omstreeks 1893 aangelê en die standplase teen ’n nominale bedrag aan hulpbehoewende inwoners toegewys; in 1909 opnuut opgemeet. Die naam is selfverklarend: dorp van vrede.

Waterval Village en Waterval Estate – genoem na die plaas Waterval waarop die volgende voorstede sedert 1890 aangelê is: Albertskroon en Albertsville, Greymont, Franklin Roosevelt Park, Martindale, Montgomery Park, Montroux, Newlands, Northcliff, Risidale, Sophiatown en moontlik ook Claremont, Montclare, Newclare en Westbury.

Westdene – omstreeks 1910 aangelê en so genoem vanweë sy ligging wes van die stad. “Dene” kom uit Oudengels en beteken vallei.

Whiteridge – ’n vertaling van die Hollandse naam “Witkoppen”, afgelei van Witwatersrand.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s