Waar kom die naam Bloemhof vandaan

Ou Gereformeerde kerk Bloemhof

Die Gereformeerde gemeente op Bloemhof se ou kerk.

Twee moontlike redes vir die naam

 
Ons bly in die ou Transvaal vir die oorsprong van die volgende Gereformeerde kerk se naam. Voor die nuwe provinsies ingestel is, was Bloemhof die voorlaaste dorp in Transvaal wanneer ’n mens met die N12 van Potchefstroom af Kimberley toe gery het.
Bloemhof is in 1866 op die plaas Klipfontein aangelê wat aan ene John Barclay behoort het, maar die dorpsraad is eers in 1917 ingestel. Een verklaring vir die naam is dat dit genoem is na wit lelies wat hier in die veld gegroei het.
Nog ’n moontlikheid is dat die naam verwys na die blomtuin van die heer Barclay se dogter, later mev. Webster. Hoe dit ook al sy, “bloem” is Nederlands vir blom, nes die geval met die Bloemfontein.
 
NG_kerk_Bloemhof_GGSA

Gerard Moerdyk het die NG moederkerk op Bloemhof ontwerp. (Foto: GGSA)

Met die oog op die driehonderdjarige viering van die volksplanting het die NG Kerk in 1952 Ons gemeentelike feesalbum met die verhaal van elke NG gemeente tot in Kenia uitgebring.

Die artikel oor Bloemhof begin soos volg: “Wanneer ’n mens die mooi naam Bloemhof hoor, verrys daar as vanselfsprekend voor die geestesoog ’n beeld van skoonheid en vrugbaarheid. Kon hierdie verwagting maar op die dorre vlakte van Wes-Transvaal bewaarheid word!
 
“Baie ouer mense sal die dorp natuurlik onthou as een van die woeligste delwerye, en juis hierdie ontdekking van ryk diamantdraende gruis het sy eie probleme ook in die gemeente meegebring. Behalwe vir die gevestigde plaasbewoners, het die lidmate van hierdie gemeente dan ook meestal uit avonturiers, geluksoekers en swerwers bestaan. Dit was ’n tyd van kom en gaan wat die gemeente Bloemhof gekenmerk het, feitlik tot op hede.”
 
Gereformeerde_kerk_Bloemhof,_Morné_van_Rooyen,_27_Desember_2017

Nadat die NG Gemeente Bloemhof-Oos ontbind het, het die Gereformeerde gemeente hul kerkgebou oorgeneem.

Die plaaslike NG moedergemeente is die oudste in die verre Wes-Transvaal en is reeds in 1870 gestig. Later hare het dit so goed gegaan dat Bloemhof-Oos in 1965 kon afstig, maar enkele jare gelede moes die gemeentes weens ’n afname in albei se lidmate een word.

Die Gereformeerde Kerk Bloemhof, wat in die 1920’s doodgeloop het nadat die delwers weggetrek het, maar in 1950 opnuut gestig is, het toe Bloemhof-Oos se kerkgebou oorgeneem. Op die oomblik tel die Gereformeerdes hier 62 belydende en 10 dooplidmate.

Die plaaslike Hervormde gemeente (gestig in 1916) het enkele jare gelede hul kerkverband verlaat en oorgegaan na die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes. Ook die AP Kerk het ’n gemeente hier. Dis in 1988 gestig, en het 17 belydende en een dooplidmaat.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s