Herinneringe aan ds. Martinus Postma

Postma_Ds_M_se_70_ste_verjaarsdagviering_op_Fordsburg_1925_(280)

Ds. Martinus Postma vier sy 70ste verjaardag in 1925 in Fordsburg. Hy is net ‘n jaar en 10 dae later oorlede.

‘Gedenk julle voorgangers’

Met die viering van die Gereformeerde Kerk Johannesburg (Mayfair) sestigste bestaansjaar in 1956 het prof. S.P. van der Walt soos volg oor die gemeente se eerste predikant, ds. Martinus Postma (1855–1926), geskryf:

Ds_Marthinus_Postma_in_Pretoria

Ds. Martinus Postma in die fleur van sy jare.

Ek waag my op ’n terrein waarvan ’n mens liewer moet afbly. Om te skryf oor die predikante van Johannesburg wat in die afgelope dekades, byna 60 jaar, die gemeente bedien het, verg baie meer navorsing en studie. ’n Mens moet by die Notuleboeke van die gemeente gaan stelling inneem en alles noukeurig deurlees.

Maar dit wil u nie aan my opdra nie. Ek moet uit eie ervaring ’n paar vertellings doen oor die predikante en hulle werk. Dit word my dan nog moeiliker omdat ’n mens so maklik ander persone kan napraat sonder weer alle lidmate se indrukke weer te gee. En dit is mos so dat ons almal nie dieselfde opinies het nie, veral oor predikante nie.

Ek wou byna vra of ek nie ’n paar ouderlinge kon uitsonder om oor hulle my indrukke te gee nie. Daar sal ek beter in slaag. Wil u nie ’n paar oomblikke die nagedagtenis van wyle Oud. Gert Goetzee van Wibsey bv. in gedagte bring nie? Daardie man met die hart van goud teenoor sy medemens en sy kerk.

Ek sal te ver gaan as ek verdere gestaltes aan u noem, want baie het later nie meer in Johannesburg se gemeente geressorteer nie, maar het tog in die Suide, Noorde, Ooste en Weste gehelp om die jong afgestigte gemeentes te bedien. Van hulle is nog in lewe, maar hulle word min, baie min. Onlangs is Oom Jan de Vries oorlede en oom Piet Buys.

Ds_Martinus_Postma_en_sy_familie

Ds. Martinus Postma en sy eggenote, Bettie, met hul kinders, skoonkinders en kleinkinders.

Ek gaan waag om te beweer dat daar nie meer as drie van die diakens of ouderlinge wat met die afstigting van Johannesburg-Oos en -Noord gedien het, nou nog lewe nie. En, wonderlik genoeg, hulle is nog in Johannesburgse gemeentes werksaam.

Maar nou eers oor vader Postma ’n paar woorde. Hy is voor my bediening in Johannesburg oorlede, maar ek het hom ’n keer ontmoet toe ek as student op reis was na Potchefstroom. Daardie dag sal ek nooit vergeet nie. Hy was ’n besonder waardige grysaard, simpatiek en belangstellend. Dit het nie ’n minuut geduur nie of hy het alles van my geweet en ek alles van hom.

Ds_Martinus_Postma_en_ds_JV_Coetzee

Ds. Martinus Postma en ds. J.V. Coetzee, sy medeleraar in Johannesburg van 1918 tot 1925.

Ek moes vertel welke voorgeskrewe boek ons in Grieks het en toe ek dit noem, het die gryse vader aan my ’n opsomming gegee uit sy hoof van alles wat daarin verhandel word. Ek het my verstom. Hy het my bemoedig en vertrek. Ek het hom agterna gekyk, effens krom, haastig stappend, sambreel in die een en ’n handtassie in die ander hand. Ek het nie geweet wat daarin is nie, maar het dit later baie gehoor en weet dit uit Kerkraadsnotules.

Toe ek in 1931 op Johannesburg begin werk het was ds. M. Postma alreeds vyf jaar oorlede, maar in die gedagtes van sy lidmate was hy lewend. Om die waarheid te sê, hy leef vandag nog in die herinnering. Ek het geweet dat as ek predikant wil wees, ek so moet wees soos ds. Postma. Hy was tog so ’n hoog-geëerde.

Die lidmate het gesê dat hy in sy ouderdom nou nie juis wonderlik gepreek het nie, maar dat hy so ’n wonderlike herder was. Hy het tussen sy gemeente geboer. Dikwels het ek aan my vrou, kleindogter van vader Postma, gesê: Oupa het sy gemeente tot in die grond toe bederf. Ek moes my voete optel met huisbesoek en siekebesoek, met hospitaalbesoek en besoek van bejaardes. Almal sê aan jou dat jy met al jou inspanning nie naby ds. Postma sal kan kom nie. Dit glo ek goed.

GK Postmasburg KR 1918

Die kerkraad van Postmasburg en besoekende predikante, onder andere dr. Casparus de Wet (eerste ry, tweede van links), J.G.H. van der Walt (eerste ry, vierde van links) en in die tweede ry vanaf vierde van links: Pieter Bingle, Taetse Hamersma, Martinus Postma, G.H.J. Kruger, Dirk Postma en J.H. Kruger, in 1918.

Laat ek dit aan u vertel. In daardie handtassie, onmisbare reisgenoot, was nie boeke of tydskrifte nie. Daar was altyd vir die armes en veral vir die armes wat nog bowedien siek is, ’n botteltjie met sop, so ’n ligte maaltyd. Iets word saamgedra en dan word die tassie leeggemaak daar in die donker agterkamertjie waar die arm weduwee alleen in pyn lê. Hoe dikwels het ek hulle ook daar besoek. So klein was die kamertjie waar ten duurste voor huur betaal moet word, dat jy met moeite langs die bed kon kom.

Ds. Postma was die gebore predikant vir hierdie eenvoudiges, hierdie armes en siekes. So elke jaar moet die Kerkraad eers ondersoek instel na die traktement van hulle predikant en vind dan dat hy soveel uitgee aan die armes dat hulle aan hom bystand moet verleen. Hulle doen dit ook geredelik, want hulle weet dat hy niks vir homself neem nie.

Ek moet u dit tog ook vertel. Vanaf Mintweg 61, waar die ou pastorie in Fordsburg gestaan het, net langs die ou kerk wat vandag nog daar staan, was dit seker ’n goeie vyf myl na Turffontein. Ds. Postma het nooit vir ’n trem gewag nie, want hy was haastig. Soms het die trems sommer vir hom op enige plek stilgehou, want almal het hom geken.

Oom Hendrik Coetzee vind ds. Postma vroeg in die dag in Turffontein, stappende. Hy gesels ’n oomblikkie en sê dan: “Ds., ek weet u het hierheen gestap. Neem nou hierdie sjieling van my aan en dan ry u terug na Fordsburg.” Die antwoord wat hy ontvang is tipies: “Baie dankie, broeder, ek sal die geld op my boekie aanteken vir die sending.” En daar stap ds. Postma maar weer terug na Fordsburg.

Aan my is vertel dat sy broer, ds. Petrus Postma, destyds predikant op Heidelberg, Transvaal, op ’n keer by ds. Postma gekuier het en die betrokke Maandag terug moes gaan. Die trein het vanaf Johannesburg omstreeks 9 uur vm. vertrek. Die oggend om vier uur was ds. Martinus Postma reeds uit die bed en hy bring vir sy broer ’n koppie koffie. Ds. Petrus was benuut om te weet waarom sy broer dan so vroeg in die weer is? “Ja, dit kan nou nie anders nie, want dit word laat. Ons moet nog eet, en dan duur dit ’n rukkie voor ons op pad is.”

Ds. Petrus Postma moes maar opstaan, ’n stukkie eet en daarna gaan die twee broers stasie toe. Dit was nog maar donker. Die trems het nog nie geloop nie. Daarom moet hulle aanstap. Dit gaan nie te reguit nie, want ds. Martinus wil eers by hierdie straat in om ’n siek broeder eers te besoek. Ja, werklik, daar is ’n liggie in die kamer. Dus is weduwee Steyn ook nog siek. Daar moet ook eers besoek afgelê word. As die twee broers op die stasie kom, is ’n groot gedeelte van die dagtaak ook al afgehandel en hulle is glad nie te vroeg vir die trein na Heidelberg nie.

Ds. Postma het aan asma gely en hierdie wurgende siekte het sy kragte sodanig gesloop dat hy in 1926 oorlede is. Dit was ’n koue winter en sneeu het wit gelê op die strate van Johannesburg. Op bykans 72-jarige leeftyd sou ’n mens verwag dat hierdie bejaarde dienskneg met sy benoude bors, tog ’n bietjie tuis sal bly. Niemand sou hom tog kwalik neem as hy maar binnenshuis bly nie.

Maar nee, vroeg vind ons hom reeds in die Suidelike Voorstede besig met besoek van siekes. Hyself is só siek en die asma kan alleen vererger word met hierdie guur weer. Oom Hendrik Coetzee vind hom weer en spreek hom aan vanweë onversigtigheid. Ds. Postma neem uiteindelik die trem terug na Fordsburg, yskoud. Heel spoedig het sy kerkraad en gemeente verneem dat sy toestand ál ernstiger word en die einde was spoedig daar.

ds martinus Postma_ MA_ 1885-1926_ seun van prof Durk Postma

Ds. Martinus Postma se graf in die Brixton-begraafplaas. (Foto: eGGSA)

In die kerkhof van Brixton het ’n dankbare kerkraad ’n steen op sy graf geplaas. Die steen moes die eenvoud self wees. Plat op die grond oordek die bruin graniet die hele graf.

As ek u, kerk van Johannesburg, gelukwens met u 60-jarige feesviering, doen ek dit met hierdie vertelling oor die lewe van ’n dienskneg wat die Here in u midde laat dien het. Daar is nie meer veel van u wat hom geken het nie. Waarlik, hier het Johannesburg ’n dienskneg gehad van welke daar maar ’n enkele in ’n leeftyd gebore word: ’n gebore predikant. Die liefde en toegeneentheid hom toegedra was enig.

Hy was seker die bekendste by die publiek van Johannesburg. Ons het gesê dat die tremdrywers hom goed geken het. Ook die besigheidsmense het hom goed geken. Johannesburg het hom geken, maar hy het Johannesburg nie geken nie.

Destyds was die groot mynmaatskappye gehuisves in die hoogste en bekendste gebou in die middestad: CORNER HOUSE. Hierdie gebou was wêreldberoemd om verskeie redes. Johannesburgers het dit vir hulle vriende gaan wys en hulle het tot bo-op die dak geklim. Vriende uit die platteland het eenkeer Johannesburg besoek en wou van ds. Postma weet waar Corner House is. Dit het die predikant van Johannesburg verleë laat staan. Hy het van so ’n gebou nog nooit gehoor nie.

Johannesburg se gemeente dra seker vandag nog daardie mooi stempel wat vader Postma hom gegee het. Ek bid u dit van harte toe. Iemand wat soveel liefde gegee het, laat seker die liefde as iets blywends in die midde van die gemeente. ’n Kerk wat sy 60-jarige fees vier en homself rekenskap gee van een van sy eerste predikante, word ook gemaan om in dieselfde weë te bly wandel.

“Gedenk julle voorgangers wat die Woord van God aan julle verkondig het, aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na” (Hebr. 13 : 7).

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s