9 Julie 1952 | Ds. Paul Geertsema gebore

Ds PG Geertsema

Ds. Paul Geertsema was amper 66 toe hy gesterf het.

Het God se raadsplan nooit bevraagteken nie

Paul Geertsema is op Otjiwarongo in die destydse Suidwes-Afrika gebore en op 1 Junie 2018 in Johannesburg oorlede. By sy begrafnis op 9 Junie 2018 het Joukje en die kinders ’n getuienis oor sy lewe laat voorlees. Wat hier volg, is die getuienis in hooftrekke, soos dr. Johann le Roux dit aan Die Kerkblad voorgelê het.

Vir Paul, wat so lief was vir bergklim, sou die bergspits Vinger van God van Namibië simbolies van sy lewe word. Die Here het sy lewensrigting bepaal en sy hele lewe was gefokus op diens aan die Here.

Reeds in sy jeugjare was Paul betrokke by JV (Jongeliede-vereniging)-aksies en later ook as diaken en ouderling in verskeie gemeentes. En alhoewel die Here hom baie suksesvol gemaak het in sy beroep as ingenieur, het Hy in Paul se Alkantrant-jare ’n spesiale pad met hom begin stap.

ln daardie tyd het Paul intens bewus geword daarvan dat die Here hom roep om predikant te word. Sonder beurse of enige ander finansiële steun het Paul toe voltyds gaan studeer. Die sewejaarstudie het hy binne vyf jaar voltooi en cum laude geslaag. Daarin het hy God se genade beleef.

Paul Geertsema

Ds. Paul Geertsema se gemeentes was Pretoria-Oos 1996–2004, Pretoria-Brooklyn 2004–2009, Worcester 2009–2014. Hy was die laaste predikant van Pretoria-Oos, waarna die gemeente saam met Pretoria-Sunnyside by Pretoria-Brooklyn ingelyf is.

Paul was ’n beskeie persoon wat nie graag die middelpunt van belangstelling wou wees nie. Hy het wanneer die fokus op hom geval het, dit gou in die rigting gestuur om die genade van God in sy lewe raak te sien.

Hy was bewus van sy eie tekortkominge, maar het die wonder daarvan ervaar om die enige volmaakte God te dien. Onder die leiding van die Heilige Gees het hy die wonder van kindwees van God met sy gesin en sy gemeentes gedeel, sodat hulle saam met hom God se genade kon ervaar.

Alhoewel dit vir hom moeilik was toe hy vier jaar gelede as predikant om gesondheidsredes moes emeriteer, het hy God se raadsplan nooit bevraagteken nie. Hy was ook nie opstandig toe hy kort nadat hy in Worcester bevestig is deur ’n tref-en -trapongeluk op sy fiets ernstig beseer is nie. Ook toe kanker ses jaar voor sy dood by hom gediagnoseer is, het hy hom steeds gewillig aan die Here se wil onderwerp.

Paul se lewensfilosofie het gestrook met Paulus se woorde in Handelinge 20:24:

Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.

Met blymoedigheid het hy aangehou streef daarna om ’n getroue dienskneg van God te wees.

Vir Paul was dit ’n voorreg om voltyds in die Here se diens te kon staan in die Geref. Kerk Pretoria-Oos en Pretoria-Brooklyn. Hy was kinderlik opgewonde toe die Here hom in 2009 Worcester toe geroep het.

Met oorgawe het hy met sy intreepreek in Worcester die Here se Woord vanuit 1 Korintiërs 2:2-5 verkondig:

Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.

Paul het sy aardse wedloop met volharding voltooi. Deur God se genade het ook hy nou deel van die geloofsgetuies in die hemel geword.

One thought on “9 Julie 1952 | Ds. Paul Geertsema gebore

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s