2 Augustus 1852 | Ds. W.J. Snyman gebore

Ds_WJ_Snyman_en_sy_gesin

Ds. Willem en Sophia Snyman en hul gesin met hul skoonseun ds. Willem Postma (links). Hul seun, dr. Flippie Snyman, staan tussen die egpaar. Sophia Snyman het haar man en enigste seun in onderskeidelik April en Mei 1915 verloor.

Bedien amper 40 jaar lank net een gemeente

Willem Jacobus Snyman is gebore op 2 Augustus 1852 op Vlakplaas, distrik Bethulie, ’n seun van Johannes Hendrik Snyman en Susanna Viljoen. “Ek was 15 jaar toe ek oorlog toe gegaan het in die plek van my broer. Toe ek terugkom het ek vir die eerste keer skool toe gegaan, en belydenis afgelê,” sou hy later vertel.

“Daarna het ek nog voorbereidende skool op die plaas gehad op heel gebrekkige wyse.” Hy word een van die eerste teologiese studente waarmee die Teologiese Skool by sy stigting in 1869 begin.

ln 1871 tree hy in die huwelik met Sophia Aletta Susara Snyman, sy sorgsame en beminlike lewensgesellin, dogter van Philippus Christoffel Snyman van die distrik Burgersdorp.

Hy word op 20 Augustus 1876 bevestig as eerste predikant van Venterstad, sy eerste en enigste gemeente. “Die geskiedenis van ds. Snyman is as’t ware die geskiedenis van die gemeente en van Venterstad self,” aldus ouderling D.J. Coetsee by die feestelike herdenking van ds. Snyman se 30-jarige bediening in 1906.

Na ’n bediening van 37 en ’n halfjaar neem hy swaar afskeid van die gemeente en die gemeente van hom en sy eggenote toe hy weens afname van kragte op 21 Maart 1914 moes aftree. Die band was die Woord en die bediening daarvan: So helder en duidelik, so maklik om te volg, in afgemete gedagtes, stap vir stap aan die hand van die Woord en op so ongekunstelde wyse tuisgebring deur die uiteensettinge heen.

Skets van ds WJ Snyman

’n Skets van ds. W.J. Snyman wat verskyn in die Geref. Kerk Venterstad se eeufeesgedenkboek van 1975.

“Onmogelik is het ons te zeggen hoe wiy uwe bezielende prediking zullen waarderen.” Daarvan is nog te lees in sy nalatenskap “Alles Genade, ls het wel met U” en in “Bewaar het pand …” Altyd bewus van eie tekort het hy hard bly deurstudeer en breed gelees. En: “Dit is dankbaarheid …  altoos meer en meer in te dringen in al zyne werken en wegen der genade. Daartoe dien immers de bediening des woords.”

Daar was besondere waardering in die kerk en daar buite vir sy “gesonde oordeel” en sy “wyse en besadigde raad”, veral ook op kerklike vergaderinge. Daar word getuig van sy “ruimte van blik” en “onbekrompe gees”.

Maar hy is nie skaam om “bekrompe” genoem te word nie as dit aankom op die vashou aan “die reine evangelie”, aan “Gods vrij macht in het bewijzen van de genade” teenoor die nuwe leer wat byna alles afhanklik wil maak van die vrye wil.

“Laat ons waak dat ons ons kroon op hierdie punt nie verloor nie, want dan hou ook ons reg van afsonderlike bestaan op!” So rig hy hom tot die Geref. Kerk in sy openingsrede van die Sinode van Reddersburg, 1894.

Met kerkraad en gemeente sien ons hom dan weer in meer as een opsig die tyd vooruit. Hy neem dit sterk op vir die sending, van die begin tot die einde, toe daar nog groot teëkanting was. Getuie hiervan is die Kleurlinggemeente van Venterstad, waarvan die geskiedenis teruggaan tot 1895.

Nouliks ’n jaar na sy aftrede is hy oorlede op 2 April 1915 te Steynsburg, waar hy met sy eggenote hulle gevestig het by hulle enigste seun, dr. P. C. Snyman, wat kort ná sy vader gesterf het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s