22 Augustus 1993 | Ds. P.C. Snyman oorlede

Ds PC Snyman en gesin

Ds. P.C. Snyman en sy gesin in 1975. Links is die jongste dogter, Estie, middel is die oudste seun, Willie, regs die oudste dogter, Christie, en op sy ma, Welma (née Lessing) se skoot die jongste seun, Johan.

Oupagrootjie en pa albei predikant van Venterstad

In 1975 het Hendrik Coetzee van Potchefstroom soos volg oor ds. P.C. Snyman geskryf:

Wie van ons Venterstadters kan nie vir Flippie die pastorieseuntjie onthou nie? Wie van ons onthou nie die witkopseuntjie met die gladgekamde hare Sondae in die pastoriebank nie?

Wie van ons ou mense onthou hom nie al kuierend tussen oom Piet Venter se hoë stoep en tant Hanna Sif se woonhuis nie? Wie van ons, sy maats, onthou hom nie by die kleigate bokant die dorpsdam, by die swemgat onder by die ashoop en by die blikaspaai om die ringmuur van die kerk nie?

Dit was die salige jare van opgroei in Venterstad tot sy dertiende jaar.

Aan die begin van die vyftiger jare ontmoet ek hom weer as student aan die PU vir CHO en die Teologiese Skool. Hier het die jong student hom onderskei as leier in verskeie fasette van die studentelewe, byvoorbeeld leier van die Alabama Studenteorkes (1952), Studenteraadvoorsitter (1955), leidende rol in verskeie ASB-kongresse, uitmuntende inter-universitêre hokkiespeler en vele ander. As erkenning vir sy studenteleierskap word die Abe Bailey-beurs vir ’n Europese reis in 1956 aan hom toegeken.

Phillipus Christoffel Snyman is op 26 Januarie 1931 in Venterstad gebore waar hy sy laerskoolopleiding (1937–43) ondergaan het. Sy oupagrootjie ds. W.J. Snyman was Venterstad se eerste Gereformeerde predikant (1877–1913) en sy pa, dr. Willem Snyman, die predikant van 1927 tot 1944.

P.C. Snyman matrikuleer in 1948 aan die Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom, verwerf die B.A. in 1951 en die Th.B. in 1955, albei in Potchefstroom.

Die volgende gemeentes is deur hom bedien: Heidelberg, Tvl. (1957–’60), Sending Siloam, Louis Trichardt (1960–’66), Viljoenskroon (1967–’69) en Pretoria-Annlin (1970 tot 17 Aug. 1975). Van toe af was hy adjunk-direkteur te Castle Carey, waar sy werk ook die dienste van pastorale terapeut ingesluit het.

Hy is in 1956 met Welma Lessing getroud. Vier kinders is uit die huwelik gebore van wie die oudste (Willem J.) op Brits op skool was tydens GK Venterstad se eeufeesviering in 1975. Op 6 September 1973 vertrek hy na Israel en die Bybellande op ’n uitgebreide toer.

Venterstad kan trots wees op hierdie seun van hom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s