28 Augustus 1929 | Ds. W.J.J. du Plessis gebore

Ds WJJ du Plessis

Ds. W.J.J. du Plessis se eerste gemeente was Venterstad van 1957 tot 1967.

Blinde dominee oorkom struikelblokke

Ds. Willem Johannes Jacobus du Plessis het die gemeentes Venterstad 1957–1967 en Hennenman 1967–1970 bedien. Nadat hy om gesondheidsrede sy emeritaat aanvaar het, het hy ook nog Philipstown 1972–1977 en Glencoe van 1977 tot sy dood op 28 Desember 1979 bedien.

Willie du Plessis is op 28 Augustus 1929 te De Aar gebore. Hy was die seun van mnr. I.D. du Plessis van De Aar en mev. Cilie du Plessis. In 1936 gaan hy as leerling na die Skool vir Blindes te Worcester waar hy in 1948 die Kaapste Senior Sertifikaat verwerf in die eersteklas.

In 1949 studeer hy privaat Latyn en skryf ook in vir die eerstejaar B.B.-regte aan Unisa. Hy doen ook aansoek om toelating tot die PU vir CHO vir toelating tot die B.A.-studie met die oog op voorbereiding vir die studie in die teologie.

Nadat heelwat struikelblokke oorkom is, gaan hy in 1950 na Potchefstroom en behaal in 1952 sy B.A. met Hebreeus en wysbegeerte as hoofvakke. Aan die begin van 1953 gaan hy na die Teologiese Skool en behaal aan die einde van 1956 die Th.B.-graad en die kandidaatseksamen in die Teologie.

Willie was ’n baie bedrywige student. Hy was voorsitter van die debatsvereniging, van die Nasionale Jeugbond en JV. Hy was bestuurslid van die ABKK en ASB en onder-praetor van die Teologiese Studentevereniging.

Op 9 Februarie 1957 word hy bevestig as predikant te Venterstad en bedien die gemeente tot Mei 1967. Daarna bedien hy die kombinasie Hennenman-Ventersburg tot Mei 1970. Weens ernstige gesondheidsprobleme is hy genoodsaak om te emeriteer op 31 Mei 1970.

Op versoek van die kerkrade van Philipstown en Strydenburg kom hy op 16 Julie na Philipstown om te help met Woord- en sakramentsbediening asook pastorale sorg en kategetiese onderrig aan die kinders. Allengs verbeter sy gesondheid sodanig dat aan die einde van 1971 hy tot die aktiewe bediening kan terugkeer en ontvang hy ’n beroep na die kombinasie Philipstown-Strydenburg, waar hy op 4 Februarie 1972 bevestig word.

In 1953 is hy getroud met mej. Marthie Pretorius van Delmas. Uit hierdie huwelik is twee kinders gebore, ’n dogter en seun. Op 19 Maart 1972 tree hy in die huwelik met mej. Martie Cilliers van Philipstown.

1 thoughts on “28 Augustus 1929 | Ds. W.J.J. du Plessis gebore

  1. Ek het onder ds Willie op Venterstad gekatkiseer en belydenis van geloof afgelê. Ppk daar getroud deur ds Cobus Venter My seun is ook paarkaar layer deur hpm gedoop

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar