22 Julie 2013 | Ds. Landman Vogel oorlede

Ds_Landman_Vogel_en_sy_vrou,_Louise,_voor_die_kansel_van_die_Gereformeerde_kerk_Walvisbaai

Ds. Landman en mev. Louise Vogel voor die kansel van die Gereformeerde kerk Walvisbaai.

Namibiese predikant sterf in die amp

Ds. Landman Van der Merwe Vogel was tussen 1977 en sy dood op hierdie dag op Walvisbaai predikant in vyf Gereformeerde gemeentes of kombinasies, waarvan sowat 18 jaar in Namibië en ewe lank op Nylstroom (Modimolle).

Landman Vogel (gebore op Ladybrand op 5 Maart 1952) se broer, Willem (1956–2016), het ook predikant in die GKSA geword, terwyl sy suster, Sophia (getroude van Theunissen), die langslewende lid van die gesin is. Ds. Vogel het sy primêre onderwys aan die Laerskool Gumtree ontvang en daarna matriek aan die Hoërskool Petrusburg voltooi.

Louise_en_Landman_Vogel_by_hul_dogter,_Wanja_Senekal,_en_kleinseun_Ivan.jpg

Louise (links) en Landman Vogel by hul dogter, Wanja Senekal, en kleinseun Ivan Senekal.

Op skool het hy aan kunswedstryde deelgeneem, erekleure ontvang en in die eerste tennisspan gespeel. Aan die destydse PU vir CHO het hy die grade Th.B. en Th.B. (Honneurs) verwerf.

Ds. Vogel is op 30 Julie 1977 deur ds. A.J. Pelser in die Gereformeerde kerk Lyttelton met Magdalena Louise Uys in die eg verbind. Louise het einde Desember 2017 as onderwyseres afgetree.

Uit hul huwelik is drie kinders gebore. Wanja woon in Auckland, Nieu-Seeland, saam met haar man, Willem Senekal, en twee kinders. Willem Adolph woon ook in Auckland, saam met sy eggenote, Fiona (née Cloete). Petrus Lafras woon in Walvisbaai, saam met sy vrou, Jolandi (née Hamman), en seuntjie.

Ds_Landman_Vogel,_Walvisbaai.jpg

Ds. Landman Vogel.

Ds. Vogel se weduwee is op 9 Januarie 2016 weer getroud, met ds. Jan Barend du Plessis, emeritus van die GK Grootfontein, die GK Hentiesbaai se hulpdienspredikant aangesien dié gemeente, wat hoofsaaklik uit bejaardes bestaan, te klein is om selfstandig te beroep.

Voor ds. Du Plessis se koms het dr. Frans de Bruyn as Hentiesbaai se hulpdienspredikant opgetree, hoewel die gemeente in kombinasie was met Walvisbaai, waar ds. Brahm Robinson ds. Vogel opgevolg het.

Ds. Vogel was vanaf 1977 predikant van Tsumeb, sy eerste gemeente. In dié tyd was hy ook ’n weermagkapelaan verbonde aan 61 Meg by Omuthiya. In 1984 het hy, sy vrou en hul eerste twee kinders terug Suid-Afrika toe getrek, waar ds. Vogel predikant geword het van Waterberg.

’n Bediening van sowat 13 jaar het gevolg, tot hy in 1997 die eerste predikant geword het van die GK Nylstroom, wat in daardie jaar van Waterberg afgestig het. In 2002 het hulle na Namibië teruggekeer toe ds. Vogel predikant van Walvisbaai word. Nadat Hentiesbaai in 2006 van Walvisbaai afgestig het, het ds. Vogel die nuwe gemeente in kombinasie met Walvisbaai bedien, waar die egpaar bly woon het.

Louise_Vogel_saam_met_Jolandi_en_Pieter_Vogel_tydens_die_ingebruikname_van_die_Gereformeerde_kerk_Walvisbaai_se_saal,_November_2016.jpg

Louise Vogel (regs) saam met haar skoondogter, Jolandi, en seun, Pieter, tydens die ingebruikneming van die Gereformeerde Kerk Walvisbaai se saal op 14 November 2016. Die saal is na ds. Vogel genoem, wat in 2013 in die amp oorlede is. Terselfdertyd het die gemeente sy 60-jarige bestaan gevier.

Volgens sy vrou was van die hoogtepunte tydens sy bediening die voorreg om sy eie kinders te doop, sy eerste kleinkind te doop en sy broer te bevestig in die amp van predikant. Ook het die vergroting van Tsumeb se kerk en die aankoop van ’n pyporrel, asook die aankoop van ’n pyporrel vir Walvisbaai hom bygebly. Hy het baie daarvan gehou om met bejaardes te werk en besoeke aan hulle was altyd vir hom ’n hoogtepunt.

Ds. Vogel se stokperdjies was lees en klippe versamel. Hy het besonder baie in die geskiedenis belanggestel, veral in dié van Suid-Afrika en Namibië, die kerk en wêreldoorloë. Sy geliefkoosde Bybelvers som sy lewensfilosofie op:

“Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien,” uit Josua 24:15b. Volgens sy weduwee was dit “absoluut sy lewensuitkyk”.

Louise vertel hy was ’n stil en rustige mens wat baie lief was vir die natuur. Hy het ’n rustige preekstyl gehad en was lief vir orrelspel tydens eredienste.

Ds_Landman_Vogel_versamel_klippe

Ds. Landman Vogel se stokperdjie was om klippe te versamel.

Hy was die dryfveer van die Walvisbaaise Leraarskring, ’n aksie wat deur hom begin is om die predikante en pastore hier in die Baai weekliks bymekaar te kry vir ’n koppie koffie en ’n geselsie oor bedieningswerk, gemeenskapsnood en hoe om die aksies van die verskillende kerke so te rig dat dit tot voordeel van die groter gemeenskap is. Hierdie aksie gaan steeds aan.

Reeds sedert die 1950’s vind jaarliks ’n dankdiens by die strandmeer plaas op die eerste Sondag aan die einde van die visserseisoen, wanneer al die skuite inkom en die vissermanne aan land bly vir onderhoud aan hul bote en toerusting en om te rus. Ds. Vogel was gedurende sy bedieningstyd in Walvisbaai ook ’n krag agter hierdie aksie en ’n prediker daarby.

Hy het ook die leiding geneem om eredienste op Solitaire te begin. Solitaire is in die suide van Namibië en vir lidmate van al die kerke daar is dit bykans onmoontlik om kerk by te woon as gevolg van geweldige afstande.

Onder sy leiding, asook ’n lidmaat van Solitaire-wyk, Willie Swarts, is jaarlikse programme opgestel waar predikante (meestal van Walvisbaai en Windhoek) ingedeel is om maandeliks daar dienste te hou. Hierdie dienste gaan steeds voort en word nou deur ds. Barnie van der Walt van die Bybelgenootskap in Windhoek gereël.

Facebook-kommentaar

Manie Prinsloo
Manie Prinsloo Ds Landman het as predikant die grootste invloed op my belewing van die Kerk en Gereformeerd wees gehad. Ek sal hom altyd onthou.
Ria Vd Walt
Ria Vd Walt Ek en Ben het dikwels in Hentiesbaai gaan uithelp en so vir Landman en Louise beter leer ken as diep gelowige, plat op die aarde mense.

 

Lewer kommentaar