25 Julie 1858 | Eerste Herero laat haar doop

20233102_10155703537191155_6331077636758632689_o

In 1999 is Johanna Gertze vereer deur middel van ’n posseël wat Namibië se Poskantoor ter nagedagtenis aan dié besonderse vrou uitgereik het.

‘Die Here het seker van my vergeet’

Johanna Gertze, gebore op Otjimbingwe op 16 Julie 1836 en daar oorlede op 3 Julie 1935, was die eerste Hererovrou wat haar laat doop het en iemand met ’n fyn taalkundige aanvoeling.

Uerita Kazahendike (haar oorspronklike naam) se ma was Herero en haar pa Damara. Volgens stamgebruik is sy as Herero beskou. Op 11 het sy die oppasser van die sendeling Carl Hugo Hahn en sy vrou se kinders op Otjikango, wes van Okahandja, geword. Terwyl sy die kinders opgepas het, het Uerita ook die plaaslike sendingskooltjie bygewoon.

Eerw. Hahn het in 1853 kans gekry om tuisverlof in Duitsland te neem en Uerita vergesel die gesin na Kaapstad van waar die Hahns ’n skip Duitsland toe sou haal. In Kaapstad neem sy van die gesin afskeid en keer saam met die sendeling Johannes Rath terug na Suidwes-Afrika, maar pleks dat sy na Otjikango teruggaan, bly sy op Bethanien agter by die gesin van nog ’n Rynse sendeling, Hermann Kreft. Sy gesin het iemand nodig gehad om met die huistake te help en hier leer Uerita Nederlands en ’n bietjie Duits.

20293081_10155703537471155_2777197029762957237_n

Johanna Gertze as jong vrou.

In 1936 het die sendeling en opvoedkundige Heinrich Vedder van ’n voorval geskryf wat ’n blywende indruk op Uerita gemaak en waarskynlik tot haar bekering bygedra het: “Dit was klein Mary se slapenstyd. Ná sy gebad het, is ons na haar slaapkamer waar ek haar in die bed wou sit. Sy was egter teensinnig om in die bed te klim en kom kniel voor my. Sy vou haar handjies saam en vra my om saam met haar te bid soos haar ma altyd met slapenstyd gedoen het. Ek het nie geweet hoe nie en dit het my baie skaam laat voel.”

Uerita het tot in 1857 by die Kreft gesin in Namaland gebly. Hier het sy kennis gemaak met ’n Christen-gemeente, iets wat toe nog ongewoon was in Hereroland, en woon klasse vir doopkategese saam met ’n groep Namas by. Tog het sy toe nog geen drang ervaar om haar te laat doop nie en Kreft het ook nie druk op haar geplaas nie.

Die Hahn-gesin het in 1857 teruggekeer na Hereroland en Uerita verwelkom dit om by hulle op Otjimbingwe aan te sluit. Op 25 Julie 1858 word sy op dié stasie gedoop as Johanna, die eerste Hererovrou wat die Christelike doop ontvang.

20294574_10155703537171155_3253542776835978936_n

Johanna Gertze en twee van die sendeling-ekonomis Johann Wilhelm Redecker van Omaruru se kinders wat sy omstreeks 1880 opgepas het. Sy was op 25 Julie 1858 die eerste Herero-dopeling nadat eerw. Carl Hugo Hahn reeds 15 jaar lank onder haar mense gearbei het, maar sonder welslae.

Sy was vir eerw. Hahn onontbeerlik wat die vertaling van Bybelstories in Herero betref. Later vergesel sy die gesin na Duitsland om boeke te proeflees wat in Gütersloh in die Hererotaal gedruk is. Tydens hul verblyf daar woon hulle in die sendinghuis wat tot sendelinge op tuisverlof se beskikking is. In dié tyd het die latere Rynse sendeling in Suidwes Heinrich Vedder se moeder kennisgemaak met Johanna, wat so ’n indruk op mev. Vedder gemaak het dat sy haar seun, wat in 1876 gebore is, kleintyd sou aanspoor om sendeling in Afrika te word.

’n Groot taak wag in Duitsland op Johanna. Sy moes steeds die Hahns se huishouding behartig en was ook betrokke by die sendingwerk. Ook moes sy by ontvangs van die gedrukte blaaie van Bertelsmann-uitgewers van die tekste wat eerw. Hahn geskryf het, die teks begin proeflees terwyl dit bespreek word om te verseker dat die Hererotaal korrek gebruik is.

Benewens die Nuwe Testament, publiseer Bertelsmann ook ’n Herero-grammatika en omvattende woordeboek. Ongelukkig het Johanna gesukkel om in Europa aan te pas. “Dit is ’n mooi land, maar slegs as jy daar gebore is,” sou sy later sê. “As jy in Afrika gebore is, moet jy eerder in Afrika bly.”

20245831_10155703537386155_8050243154368948751_n

Die sendingstasie Gross Barmen, waar Johanna Gertze as 11-jarige vir die sendeling Carl Hugo Hahn se gesin begin werk het.

In 1861 keer sy na haar geboorteland terug op advies van haar dokter omdat die Duitse klimaat haar gesondheid begin benadeel het. Hugo Hahn, wat nog twee jaar in Duitsland sou aanbly, stel voor dat Johanna na die huishouding van ’n jong sendeling op Otjikango, Peter Heinrich Brincker, omsien.

Ene Samuel Gertze (gebore omstreeks 1805 in Kookfontein, oorlede op 16 Oktober 1889 en begrawe op Otjimbingwe) wat op Otjikango woon, se vrou sterf en agt kinders word moederloos gelaat. Hy trou met Johanna volgens die Herero-gebruik, wat met die slag van twee beeste en verskeie bokke vir die huweliksfees gepaardgaan.

Die sendeling-handelaar Johann Wilhelm Redecker (toe nog ’n vrygesel) is in 1868 na Omaruru gestuur om die plaaslike bevolking vertroud te maak met die aanlê van groentetuine en die plant van koring. Met haar man se toestemming het Johanna Redecker se huishoudster geword terwyl Gertze se volwasse dogters na hul pa omgesien het. Redecker tree in die huwelik en Johanna en haar man verhuis na Anahout aan die Swakoprivier waar hulle vir die Rynse sending oor die verbouing van koring toesig hou.

20294181_10155703537186155_2614507677761599173_n

Op 25 Julie 1933 kon die Rynse gemeente van Otjimbingwe die 75-jarige herdenking van die eerste doop van ‘n Herero, Johanna Gertze, vier.

Johanna en Samuel het saam nege kinders gehad, van wie twee in hul vroeë tienerjare gesterf het. Samuel is in 1889 op ’n hoë ouderdom oorlede. Johanna was ongeveer 60 jaar oud toe sy besluit om haar as ’n vroedvrou te bekwaam en bring talle kinders van Redecker se vrou in die lewe. Haar bedrewenheid was later so bekend dat haar dienste ook deur baie ander Europese vroue gebruik is.

Op 25 Julie 1933 is ’n mylpaal op Otjimbingwe herdenk deur ’n Rynse gemeente wat kon terugkyk op ’n 75-jarige geskiedenis wat met Johanna se doop begin het. Sy het die geleentheid bygewoon en staaltjies uit vervloë dae vertel, maar toe was sy reeds 97 jaar oud en moeg vir die lewe.

“Die Here het seker van my vergeet,” het sy by dié geleentheid gesê. Ná haar dood skaars twee jaar later toe sy nagenoeg 99 jaar oud was, is sy langs haar man in die begraafplaas op Otjimbingwe begrawe. Hul name is uitgebeitel op ’n grafsteen waarop ’n kruis verskyn.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s