27 Julie 1892 | Ds. M.P.A. Coetsee jr. gaan oor na NG Kerk

Burgersdorp_1900

Burgersdorp, soos die dorp gelyk het enkele jare nadat ds. M.P.A. Coetsee jr. die Gereformeerde Kerk verlaat het.

Twyfel oor Dopperkerk se bestaansreg

In 1892 het GK Burgersdorp ’n besonder ernstige terugslag ondervind toe sy predikant, ds. M.P.A. Coetsee jr., skielik sy verbinding met die Gereformeerde Kerk verbreek en oorgegaan het na die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Op 2 Julie 1892 het die gemeente Nagmaal gevier en toe is besluit dat die eersvolgende kerkraadsvergadering gehou sou word op die eerste Vrydag in September. Die eerste Sondag ná hierdie Nagmaalsviering het ds. Coetsee tydens die môrediens bekendgemaak dat hy by die eersvolgende kerkraadsvergadering sy ontslag as predikant sou aanvra weens “onoorkomelike gemoedsbesware” wat hy dan aan die kerkraad sou meedeel. So het die gemeente en kerkraad vir die eerste keer verneem van sodanige besware, want tot dusver is geen enkel woord daarvan in die kerkraadsvergadering melding van gemaak nie.

Ds_MPA_Coetsee_jr

Ds. M.P.A. Coetsee jr.

Die Sondagaand ná die afkondiging het dit uit ’n berig in De Kerkbode (die NG Kerk se mondstuk) geblyk dat ds. Coetsee, terwyl hy nog predikant was van die gemeente, aansoek gedoen het by die Nederduitse Gereformeerde Kerk vir ’n colloquium doctum en dat die versoek toegestaan is en op 3 Augustus daardie jaar sou plaasvind. (’n Colloquim doctum is gewoonlik ’n mondelinge of skriftelike, aanvullende ondersoek wat ’n eksamen vervang. In dié geval is dit ’n aansoek om toelating tot die bediening in die NG Kerk, want reeds in 1893 word hy leraar van die NG Gemeente Zoutpansberg [Pietersburg].)

Hierdie berig, sowel as die aankondiging van ds. Coetsee, is onder die aandag gebring van ouderling S. van Wyk, wat op sy beurt met ds. Coetsee daaroor gespreek het en daarna op advies van prof. Jan Lion Cachet die kerkraadslede byeengeroep het vir ’n broederlike samespreking om te beraadslaag wat hulle te doen staan.

Hoewel prof. Cachet gemeen het dat hulle eers die saak met ds. Coetsee moes bespreek, was die mening van die meerderheid dat ds. Coetsee deur sy optrede om in die stilte sonder medewete van sy kerkraad aansoek te doen om ’n samespreking met die NG Kerk, metterdaad reeds die Gereformeerde Kerk verlaat het.

Die toestand is ongetwyfeld vererger deur die gedagte dat ds. Coetsee aangekondig het dat hy sy gemoedsbesware tydens die eersvolgende kerkraadsvergadering aan die kerkraad sou meedeel en dit terwyl, volgens genoemde kennisgewing, die samespreking met die ander kerk reeds op 3 Augustus sou plaasvind.

GK Burgersdorp Pastorie aan die begin van 20ste eeu

Burgersdorp se Gereformeerde pastorie, waarin ds. M.P.A. Coetsee jr, gewoon het tot hy die GKSA verlaat en na die NGK oorgegaan het.

Die gevolg van hierdie samespreking van die kerkraadslede was dat ’n kommissie benoem is om ds. Coetsee in kennis te stel dat hy hom moes weerhou van die uitoefening van sy ampspligte tot die kerkraad geleentheid gehad het om die hele aangeleentheid te bespreek.

Hierop het ds. Coetsee geantwoord dat hy nog predikant van die gemeente was en dat hy geen misdaad gepleeg het nie en dat hulle geen reg gehad het om buite sy medewete ’n vergadering van die kerkraad te hou nie. Toe die kommissie hulle versoek herhaal om sy ampswerk te staak, het hy op 15 Julie ’n brief aan die kerkraad gerig waarin hy sy amp neerlê en ook sy verbinding met die Gereformeerde kerk beëindig.

Ná die ontvangs van hierdie brief het die kommissie ooreengekom om ’n buitengewone kerkraadsvergadering te belê op hierdie dag in 1892 onder voorsitterskap van ds. W.J. Snyman van Venterstad. Op hierdie vergadering is goedkeuring gevra vir wat tot dusver gedoen is in die saak, en die kerkraad het dit eenparig goedgekeur.

Daarna is ds. Coetsee se brief gelees waaruit geblyk het dat hy ten gevolge van ernstige, onoorkomelike gemoedsbesware bedank as herder en leraar van die Gereformeerde gemeente van Burgersdorp en dat met sy bedanking sy betrekking tot die Gereformeerde Kerk in die algemeen ophou.

In die brief word die gemoedsbesware nie genoem nie, maar dit word wel vermeld dat ds. Coetsee teen sy kerkraad en gemeente niks gehad het nie en dit het dan ook later geblyk dat die besware eintlik gegaan het oor die bestaansreg van die Gereformeerde Kerk en dat daar, volgens hom, geen redes meer was dat die twee kerke (GK en NG) apart sou bestaan nie.

Ná ’n ernstige bespreking van die inhoud van hierdie brief van ds. Coetsee is besluit dat die kerkraad sy bedanking as herder en leraar aanneem en hom tewens versoek om alles wat daar van die gemeente of van die kerk in die algemeen nog by hom was, af te gee aan die kommissie wat vir daardie doel aangewys is.

Nadat die kommissie gerapporteer het dat ds. Coetsee nie gereed was om die dinge oor te dra nie en dat hy veral ’n inventaris wou maak voor hy daarvan afstand gedoen het, is besluit dat die kommissie sig later in verbinding met hom moes stel en so die opdrag moes uitvoer. Hierdie optrede van ds. Coetsee en veral die boekie wat hy uitgegee het en waarin hy die redes vir sy stap verklaar het, het aanleiding gegee tot ’n pennestryd, maar in die gemeente Burgersdorp was nie ernstige beroering nie.

’n Paar Dopperlidmate het ds. Coetsee se voorbeeld gevolg, maar die gemeente het rustig voortgegaan veral nadat die vakature gevul is deurdat ds. L.P. Vorster die beroep aangeneem het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s