4 Augustus 1871 | GK Barkly-Oos gestig

barky-oos-gereformeerde-kerk.jpg

Die kerk van GK Barkly-Oos. Die marmer gedenkteken regs van die ingang is in 1971 opgerig ter viering van die gemeente se honderdjarige bestaan. (Foto: Ds. Gustav Opperman)

Gereformeerde gemeente die oudste op die dorp

Die Gereformeerde Kerk Barkly-Oos is gestig op die plaas Strydfontein, sowat 8 km van die plek waar die dorp Barkly-Oos later aangelê sou word. In 1869 is GK Dordrecht gestig, maar reeds op 11 Februarie 1870 is besluit dat op 19 Junie ’n diens by Waschbank gehou en die kerkraad vergroot sou word, veral in belang van die lidmate wat anderkant Waschbank (“over Waschbank-rivier”) gewoon het.

Hierdie “over-Waschbank-gebied” van die gemeente Dordrecht het spoedig sodanig uitgebrei as gevolg van intrekkers, meesal vanuit Burgersdorp en Middelburg, dat in die Langkloof-gebied, later bekend as Barkly-Oos, ’n aparte wyk gestig moes word. As ouderling is verkies Dirk Hendrik Jacobus Coetzee en as diaken broer Tjaart Erasmus.

Gereformeerde_kerk_Barkly-Oos_1884

Barkly-Oos se Gereformeerde kerk vroeg in die 20ste eeu.

Op 12 Augustus 1870 besluit die kerkraad van Dordrecht om, as dit moontlik is, op bepaalde tye in die jaar gereeld dienste by Waschbank te hou en dat die kerkraad verder vergroot sou word om anderkant Waschbank nog ’n ouderling en ’n diaken te laat verkies, naamlik in die buurt van die ouderling Coetsee, ’n diaken, en in die buurt van die diaken Erasmus, ’n ouderling. Op 11 November 1870 is broer Isak Stephanus Cornelius Buijs tot ouderling en broer Hendrik Bernardus Kruger tot diaken verkies. Die kerkraad het in dié geval geen benoeming gemaak nie, maar dit aan die gemeente oorgelaat.

GK Barkley-Oos KR 1931. Afskeid Ds JP Jooste, KR deputate & seuntjie op stoep A209

Die kerkraad in 1931 met die afskeid van ds. (later prof.) J.P. Jooste. Dis sy seuntjie wat voor hom staan.

So is die grondgebied van die gemeente Dordrecht dermate uitgebrei dat dit die hele gebied, bekend as Wodehouse en wat toe nog die grootste gedeelte van die latere distrik Barkly-Oos ingesluit het, omvat het. Aangesien die afstand van die Langkloof-gebied na Dordrecht so groot is en die bergagtigheid van die deel die padverbinding so moeilik gemaak het, is dit geen wonder nie dat reeds vroeg in 1871 die gedagte by die lidmate van die Langkloof-gebied ontstaan het om as ’n aparte gemeente te bestaan.

GK Barkly-Oos KR 1949

Barkly-Oos se kerkraad in 1949. Ds. Theron was predikant van die NG Gemeente Barkly-Oos. Hy is geskors in 1957, toe hy reeds 61 jaar oud was, ná ’n opspraakwekkende hofsaak en ’n kerklike tugverhoor weens ’n beweerde verhouding oor die kleurgrens.

Hierdie ernstige begeertes van die lidmate van Langkloof is op die vergadering van die kerkraad op Dordrecht, gehou op 12 Mei 1871, ter sprake gebring. Die redes wat hierdie lidmate van wyk Langkloof aangevoer het vir hulle versoek was die groot afstand na Dordrecht en die moeilike begaanbare paaie daarheen, maar veral dat dit beter sou wees vir hulle geestelike belange as hulle ’n aparte gemeente sou wees.

Die versoek is deur die Kerkraad bespreek en dit is toegestaan, deels omdat in daardie geweste ’n goewernementsdorp gestig sou word met name Barkly-Oos, ter aandenking aan die goewerneur van destyds, sir Henry Barkly, en dat met die totstandkoming van die dorp, die gemeente daar sy eie belange beter sou kon behartig as wanneer die kerkraad van Dordrecht daaroor besluite sou moes neem.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s