4 Augustus 1953 | Dr. Herman van Broekhuizen oorlede

Adviseurs_van_die_Afrikaans_Bybel

Die adviseurs van die Afrikaanse Bybelvertaling in 1933 in Bloemfontein. Boonste ry: di. J.P.H. Steyn, C.F. Kies, G.D. Malan, W.J.W. Naudé, A.S.E. Yssel*, W. de Vos. Middel: Di. C.W.M. du Toit* (Totius se halfbroer), H.J. Otto, proff. J.A. du Plessis*, C.J.H. de Wet*, dr. H.D. van Broekhuizen, di. Dirk Postma*, P.J.J. Boshoff en H.J. Pienaar. Voor: prof. B.B. Keet, Totius*, ds. J.D. Kestell, proff. E.E. van Rooyen en H.C.M. Fourie. Hulle het amptelik bekendgestaan as die Kommissie vir Afrikaanse Bybelvertalers. (*Doppers)

Eggenoot van pres. Kruger se kleindogter

Ds_HD_van_Broekhuizen_1896

Herman van Broekhuizen as Maties-rugbyspeler. Op universiteit was sy bynaam “Broekies”.

Dr. Herman Dirk van Broekhuizen (gebore in Overijssel, Nederland, op 17 Junie 1871) was een van die vroegste spelers in ’n Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan, ’n predikant in die Nederduitse Gereformeerde (1898–1917) sowel as die Nederduitsch Hervormde Kerk (1917–1925), Volksraadslid (1925–1933), Suid-Afrika se spesiale gesant in Nederland en België (1933–1941) en ’n Afrikaanse taalstryder wat hom onvermoeid beywer het vir ’n Afrikaanstalige universiteit in Pretoria. Hy was ook ’n adviseur van die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933.

Van Broekhuizen is begin 1904 in die Groote Kerk in Kaapstad met pres. Paul Kruger se kleindogter Ellie Eloff getroud. Nadat hy as predikant en toe Volksraadslid gedien het, is hy in 1933 as die eerste buitengewone gesant en gevolmagtigde minister van die Unie-regering in Nederland (en later ook België) aangestel waar hy hom veral beywer het vir beter betrekkinge tussen Suid-Afrika en dié twee stamlande.

Holy_Bridage_1897

Die Holy Brigade, in 1896 die Victoria-kollege (Maties) se heel eerste rugbytoerspan, so genoem omdat hulle nooit ’n druppel drank oor hul lippe laat gaan het nie. Agter: D. Kloppers, C.V. Nel, P.A. Bergh, H.D. van Broekhuizen, Paul de Waal, P.K. Albertyn, A.L. Hofmeyr, Ebbe Dommisse, C.A. Neethling, H.R. Kemsley. Middel: M.S. Daneel, H.J. Bergh, J.M. Hofmeyr (kaptein), D. Morkel, G. Chapman. Voor: A.M. McGregor, Piet de Vos, C. Gonin, P.A.M. de Vos.

Vanweë sy talryke redevoerings wat hy oral in Nederland gehou het, het Van Broekhuizen ’n groot aanhang gekry. Hy het tot elke laag van die bevolking gespreek, en tog was sy missie nie geslaagd nie omdat hy nie die vermoë gehad het om die betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika aan te pas by die moderne ontwikkeling van die Suiderland nie.

Ellie_van_Broekhuizen

Elsie van Broekhuizen, ds. Van Broekhuizen se vrou, was ‘n kleindogter van pres. Paul Kruger. Sy en Mabel Malherbe is in 1919 na die groot onafhanklikheidskongres in Bloemfontein afgevaardig, waar hulle die enigste vroueafgevaardigdes was.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog bied hy, as aanhanger van genl. J.B.M. Hertzog, wat pas bedank het weens Suid-Afrika se oorlogsverklaring teen Duitsland, sy bedanking aan die nuwe premier, genl. Jan Smuts, maar op laasgenoemde se versoek bly hy in sy amp aan.

Ná die inval van die Duitse krygsmag in Nederland op 10 Mei 1940 het dr. en mev. Van Broekhuizen kort daarna onder lewensgevaar, volgens een bron na Engeland uitgewyk en in Londen gaan woon, maar einde 1941 na Suid-Afrika teruggekeer – nadat hy sy ontslag as gesant gekry het – omdat mev. Van Broekhuizen se gesondheid nie bestand was teen die Engelse weer nie. By sy uittrede as gesant in Nederland het koningin Wilhelmina die Groot Kruis van Oranje-Nassau aan hom toegeken.

Pres_Paul_Kruger_se_77ste_verjaardag_in_Utrecht,_Nederland,_10_Oktober_1902

Pres. Paul Kruger se 77ste verjaardag in Utrecht, Nederland, 10 Oktober 1902. Van Broekhuizen sit derde van links in die tweede ry van voor.

Ná ’n vol lewe is sy in 1945 oorlede. In Mei 1946 het hy besoek aan Nederland gebring toe hy uit Johannesburg per “vliegmachine” in Den Haag aangekom het. Hy het met sy aankoms aan die Nieuwe Leidsche Courant vertel hoe swaar die Tweede Wêreldoorlog vir hom was, veral die verlies van sy vrou.

Dié koerant het in ’n kort beriggie onderaan sy voorblad berig die rustende gesant se dogter, wat kort voor die oorlog in Den Haag getroud is, het toe in Port Elizabeth gewoon en reeds drie kinders gehad. In 1947 het dr. Van Broekhuizen by Klasie Havenga se Afrikanerparty aangesluit wat hom beywer het vir die behoud van genl. J.B.M. Hertzog se politieke sienswyse. Omdat hy toe reeds 76 jaar oud was, kon dr. Van Broekhuizen egter nie meer ’n noemenswaardige rol in die politiek speel nie.

Sondagskoolpersoneel_Kuilsrivier_1906

Die Sondakskoolpersoneel van die NG Gemeente Kuilsrivier in 1906. Mev. Elsie van Broekhuizen sit links van haar man met hul baba, Elsie, op haar skoot. Elsie was nog ’n baba toe sy dood is weens bytsoda wat sy per ongeluk ingekry het. Sy is langs haar oupa in die Heldeakker in Pretoria begrawe. Dr. van Broekhuizen het die NG Kerk in 1917 vir die Hervormde Kerk verruil omdat hy ontevrede was met die NG Kerk se hantering van die Rebellie.

Ná sy vrou se dood het dr. Van Broekhuizen begin vereensaam. Hy het nog sowat agt jaar geleef en is op hierdie dag in Pretoria oorlede. Sy begrafnisdiens was op 7 Augustus vanuit die Bosmanstraatse NG kerk, waarna hy in die Ou Kerkhof, ook in Pretoria, begrawe is.

Ds_HD_van_Broekhuizen

Dr Van Broekhuizen omstreeks die tyd toe hy in 1917 uit die NG Kerk na die Hervormde Kerk oorgegaan het. Sy vrou, wat as Gereformeerde grootgeword het, het om gevolg.

Waardering

Dr. Van Broekhuizen is beskryf as ’n forse figuur met uitdrukkingsvolle oë en (later in sy lewe) silwergrys hare. Hy was ’n hoflike man, ook in die kring van sy gesin met sy vrou en kinders, wat van nature gemaklik met almal oor die weg gekom het, ongeag hul stand, rang of leeftyd.

Dr_Herman_van_Broekhuizen

Dr. Van Broekhuizen omstreeks 1930.

Hoewel hy ’n besielde vegter vir sy oortuigings en die taal en kultuur van die Afrikanervolk was, was hy trots op sy Nederlandse afkoms. Hy was baie lief vir die Nederlandse koningshuis en vir die Nederlandse kultuur. Lewenslank was hy ’n vurige voorvegter vir Nederland in Suid-Afrika.

Hiernaas het sy hart uitgegaan na die roemryke tradisies van die Voortrekkers. Hy was ook trots daarop dat hy behoort het tot die Afrikaanse volk, wat hulle tydens hul hele geskiedenis so dapper gedra het.

Sy geaardheid was by uitstek dinamies maar ook emosioneel. Sy imposante figuur, sy akteurstalent, sy vurigheid en sy fyn aanvoeling vir die omstandighede het alles daartoe bygedra dat hy ander kon besiel. Waar hy ook al gewerk het – in die kerk, politiek en diplomasie – het stukrag van hom af uitgegaan. In sy werk het hy altyd ’n sekere buigsaamheid of soepelheid getoon wat geïnspireer is deur sy uitgebreide mensekennis. Dit het hom in staat gestel om hom by elke lewensituasie aan te pas en die beste daarvan te maak, al was dit onder die omstandighede ook hoe moeilik.

Dit het hy getoon as banneling, gevangene, predikant, redevoerder en sportman. Hy het die seldsame gawe gehad om ’n netelige situasie te beredder deur die juiste woord te sê. Hierin het sy fyn humorsin nuttig te pas gekom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s