9 September 1913 | Charles van Rooy trou weer

Van Rooy

Op hierdie foto, geneem met die begrafnis van Anne van Rooy in Augustus 1904 op Steynsburg, verskyn vier van die Van Rooy-seuns en vyf van die dogters saam met hul gades; Charles van Rooy se eerste vroue en ds. Koos en mev. Breggie van Rooy was afwesig. Van links: Henri en Hester (geb. Coetsee), Izak en Annemie (geb. Lion Cachet), Jan en Aletta (geb. Smit), Annie en Wicus Coetsee, Charles, Clara en Louw Pretorius, Frederika en David du Plessis, Gertruida en ds. Flip Snyman, Pauline en Paul Poisat.

Een van die Van Rooy-stamouers se 10 kinders

Die Van Rooy stamouers, Johannes en Anne, wat in 1858 uit Europa in Algoabaai aangekom het, het 10 kinders gehad, vyf seuns en vyf dogters. Die eerste seun is reeds in België gebore en die tweede, Antoine Charles August, op 24 November 1857 aan boord van die Karel August.

In sy lang lewe wat op Uniedag (31 Mei) 1948, vyf dae nadat die Nasionale Party die bewind oorgeneem het, op Potchefstroom geëindig het, was hy lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering, boer, sakeman en onderwysman.

“Hy was ’n beminlike man en vader, streng maar bedagsaam,” skryf prof. J. Chris Coetzee (wat met Van Rooy se dogter Aletta Johanna getroud was) in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, “’n betroubare vriend, ’n gedugte teenstander in die politiek, ’n vurige soms skerp spreker met ’n indrukwekkende voorkoms en in godsdienstige sake ’n nougesette en nederige Christen.”

Van Rooy was twee maal getroud. Die eerste was op 4 Junie 1887 op Burgersdorp met Susanna Maria Smit (1857 –1912) en die tweede op Reddersburg op hierdie dag met Aletta Johanna du Plessis (1875–1967), ’n dogter van ds. L.J. en mev. Martha du Plessis. So het hy die swaer geword van onder andere prof. Jacobus du Plessis. Deur sy broers en suster se huwelike was hy aangetroude familie van bekende Gereformeerde predikantefamilies soos die Postmas, Snymans en Lion Cachets.

Uit sy eerste huwelik is 12 kinders gebore en uit die tweede net een. Die eerste vyf kinders is tussen April 1878 en Junie 1884 op Burgersdorp gebore en die laaste agt almal op Steynsburg, tussen Februarie 1887 en Junie 1915.

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s