25 September 1976 | GK Kameeldrift gestig

GK Kameeldrift

Die gemeente se kerkgebou is geleë by Tambotieweg 308, Kameeldrift-Oos.

Talle terugslae tydens bouery

Die Gereformeerde Kerk Kameeldrift, in die noordooste van Pretoria in die omgewing van die Roodeplaatdam, is op Saterdag 25 September 1976 om drieuur in die kerkgebou van GK Derdepoort afgestig. Daar was 211 belydende lidmate en 137 dooplidmate.

Met afstigting het die gemeente ’n hoewe van sowat 3 ha van Derdepoort ontvang waarop die kerkgebou in 1982 opgerig is. Dié grond was eens ’n mielieland tussen die kleinhoewes noordoos van Pretoria.

Gedurende die eerste jaar ná afstigting het Kameeldrift ook ’n bruidskat van R8 000 van Derdepoort ontvang. Die gemeente het onmiddellik begin om ’n tuin uit te lê en ’n groot aantal inheemse bome is geplant. Heelwat later, tydens die gemeente se 15-jarige feesviering, is ’n aantal Bybelse bome geplant wat in Suid-Afrika aard.

GK Kameeldrift

Die kerkgebou ná ’n somerreënbui.

Eredienste is eers gehou in die skoolsaal van die Hoërskool F.H. Odendaal. Jan Pretorius was die argitek van die gemeente se eie kerkgebou en die bouaannemer was Hans van der Laan, wat tot minstens 2010 nog lidmaat van die gemeente was.

Ds. C.J.H. Breed was voorsitter van die boukommissie. Tydens die bouery is afgekom op ’n ondeurdringbare klipbank waar die diep fondament moes wees. Ook het die hyskraan wat die sentrale dakbalk van staal moes ophys, ’n fout begaan en die hele westelike muur omgestamp. Voorts is die bouwerk aan die kerk onderbreek toe ’n pastorie dringend op die terrein gebou moes word. Albei geboue is in dieselfde jaar voltooi.

Met die jare het die gemeente die kerkperseel nog verbeter: ’n Grasdaklapa is by die nuwe swembad gebou, maar dit het afgebrand en is deur ’n grotere vervang. Die tweede lapa het ook gebrand, maar is net herbou. Die pastorie is vergroot en vernuwe nadat die kombuis uitgebrand het. Die gemeente het ook ’n stuk grond langs die kerkperseel aangekoop, waar hulle ’n meerdoelige gemeentesentrum wil oprig.

Die kerkraad het destyds met die beplanning van die kerkgebou voorsien dat die gemeente sou groei; daarom is die kerk heelwat groter as wat destyds nodig was. Ten spyte van sterk groei in die beginjare het die sieletal tussen 2011 en 2014 teruggesak van 658 tot 439. In 2017 was dit 401, maar in 2018 het dit toegeneem tot 418.

Die gemeente het die afgelope veertig jaar nog net twee predikante gehad: C.J.H. Breed 1978–1986 en B.C.G. Fourie 1986 – hede.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s