2 Oktober 1939 | GKSA stig Pretoriase kinderhuis

Van_die_eerste_inwoners_van_die_President_Kruger-kinderhuis,_Pretoria

Van die eerste inwoners van die tehuis, omstreeks 1940.

President Kruger-kinderhuis 80 jaar oud

Die President Kruger-kinderhuis, Pretoria, is ’n instelling van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Pretoriase voorstad Villieria vir die versorging van kinders wat nie ouers het nie of wie se ouers nie na hulle kan omsien nie. Die tehuis vier in die lente van 2019 sy 80ste bestaansjaar.

Die President Kruger-kinderhuis, Pretoria, het op hierdie dag in Voortrekkersweg, Gezina, geopen, ’n maand ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Reeds vroeg in die geskiedenis van die GKSA is gepraat oor die oprigting van ’n kinderhuis. Met die eerste Sinode in 1904 is ’n beskrywingspunt ingedien wat gelui het: “De Sinode neme in overweging hel oprichten van een weeshuis voor kinderen onzer kerk.” Dis waarskynlik ingedien deur prof. Jan Lion Cachet. Maar eers veel later is die stigting van ’n kinderhuis verwesenlik.

Op die GKSA se Sinodes van 1924 op Rustenburg en 1927 op Reddersburg is ’n rapport oor die weesinrigting ingedien. In die twintigerjare het die diakonie van Reddersburg begin met ’n plaaslike kinderhuis. Hulp is gevra van ander gemeentes, maar die kinderhuis op Reddersburg moes ná ongeveer twee jaar sluit weens ’n gebrek aan steun.

In 1929 is op die Rand ’n weeskommissie bymekaargeroep met die doel om ’n kinderhuis op te rig. Daar was toe £75 in die spaarbus. Die Depressiejare van 1930 tot 1933 was ’n besonderse tydperk vir die werk van diakens op die Rand en Pretoria betreffende die oprigting van ’n kinderhuis. Met die Sinode in 1936 is gemeld dat die weeshuisfonds aangegroei het tot £2 000. Hierdie tydperk was worsteljare vir die Gereformeerde Kerke om ’n besluit oor die bou van ’n kinderhuis te neem. Maar dit getuig ook van die dryfkrag agter die diakonieë van die Rand en Pretoria vir die bou van ’n kinderhuis.

Die gevolge van die Depressie is nêrens in Suid-Afrika in sy naakte verarming soos in Johannesburg gesien nie. Boere is van hul plaas verdryf deur die droogte en het koers gevat na die diamantdelwerye op Lichtenburg. Haglike omstandighede het van die plaasboer noodgedwonge ’n stadsmens gemaak.

Beter vooruitsigte het sommige na Johannesburg se goudmyne gelok, maar werkloosheid, myntering en armoede het die diakens van die Rand en Pretoria bewoë gelaat oor die toestand van die kinders wat versorging nodig gehad het. Die stad het menige arbeider geestelik laat verdwaal en gebroke huisgesinne gelaat.

Plan_vir_weeshuis_van_die_Gereformeerde_Kerke_in_Pretoria_deur_Pieter_Dykstra.jpg

Hierdie plan deur Pieter Dykstra vir die weeshuis van die Gereformeerde Kerke in Pretoria het in die 1934-uitgawe van dié kerkverband se Almanak verskyn.

Die verloop en uiteindelike oprigting van ’n weeshuis was werklik ’n droom wat verwesenlik is. Die arbeid word bekroon, het prof. S.P. (Zeller) van der Walt in 1989 in die publikasie Die President Kruger-tehuis vir onversorgde weeskinders geskryf. (Hy was toe reeds 82 en is ses jaar later oorlede.)

Deur die bemiddeling van min. P.G.W. Grobler, ’n lidmaat van die Gereformeerde Kerk Rustenburg, is ’n stuk grond in Voortrekkersweg, Gezina (genoem na Gezina Kruger, ook ’n Gereformeerde), aan die diakonie geskenk met die spesifieke voorwaarde dat ’n kinderhuis gebou word.

Ten spyte van die drukkende Depressie het die middele vinniger ingekom. Die Gereformeerde argitek P.S. Dykstra is gevra om die planne gereed te kry met die oog op die bou van die gebou ten bedrae van £3 000. En in 1936 het die bouwerk begin, maar die ideaal is eers in 1939 verwesenlik.

President_Kruger-kinderhuis,_Pretoria,_se_ingebruiknemingskommissie,_1939.jpg

Die tehuis se kommissie tydens sy ingebruikneming in Oktober 1939. Agterste ry: P. Schubart (praesis), W.L. du Plessis (sekretaris, Pretoria-Oos), B. van Heerden (Pretoria), B.J.L. van der Merwe (Ventersburg). Voor: W.M. Pattison (bouer), F.H.C. van der Walt (kassier, Johannesburg-Oos), H.BV. Kruger (onduidelik, Klerksdorp), W. de Vries (sekretaris, Johannesburg-Noord), S.J. Kruger (Moontlik kassier). Inlas: C. van der Walt (onduidelik, Krugersdorp), P.S. Dykstra (argitek), J. van Tilburg (adviseur).

Grobler het die hoeksteen op 11 Maart 1939 gelê. In die rede van prof. dr. Ferdinand Postma kom die volgende sin voor: “Die wêreld maak oorlog en vermenigvuldig weeskinders. Die kerk maak deure oop en neem weeskinders tuis.” Die gebou is voltooi vir die bedrag van £5 200. Almal was daarvan oortuig dat die diakens ’n groot daad van liefde verrig het, skryf prof. Van der Walt. Met die oopmaak van deure van die President Kruger-kinderhuis was daar 4 weeskinders en ’n week later reeds ’n sewetal. Daar was plek vir 60 seuns en dogters.

Mnr. en mev. J.J. Malan is as eerste huisouers aangestel. In 1943 het ook ’n huis in Johannesburg geopen as gevolg van die groot aanvraag van aansoeke vir opname om kinders te plaas. In 1961 het ook die kinderhuis op Reddersburg geopen, wat vandag nog huisvesting aan 63 kinders bied, maar die huis in Johannesburg moes in 2000 sluit weens ’n geldgebrek . Prof. Van der Walt het met die vyftigjarige viering in 2000 geskryf: “Toe dit eers begin het, het dit soos ’n stoomtrein voortgedreun.”

In 1976 het die Pretoriase tehuis verhuis vanweë die staat se behoefte om ’n pad deur die vorige gronde te bou. Dit het toe nie gebeur nie, maar ’n nuwe huis is wel gebou en die kinderhuis se tuiste is nou in 31ste Laan, Villieria. Die inwoners van die tehuis skakel nou in by die Gereformeerde kerk Oos-Moot, in dieselfde straat.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s