10 Oktober 1825 | Pres. Paul Kruger gebore

Boekenhoutfontein Rustenburg Kruger beeld (2)

Bronsbeeld van pres. Paul Kruger op sy plaas Boekenhoutfontein, distrik Rustenburg. (Foto; Gustav Opperman)

Simbool van ’n vrye Afrikanerdom

uit Afrikaanse Kultuuralmanak (1980)

Stephanus Johannes Paulus Kruger is waarskynlik op die plaas Bulhoek, in die teenswoordige distrik Steynsburg, gebore. Hy het behoort aan die sesde geslag Krugers in Suid-Afrika en was die derde van sewe kinders van Casper Jan Hendrik Kruger en Elsie Francina Steyn. Hy het grootgeword in die veeleisende pioniersomstandighede van die Kaapse binneland, waar die stryd om selfbehoud gegaan het teen ondier, barbaar en die wisselvallighede van die natuurelemente.

Bulhoek_Steynsburg_(2)Hy is opgevoed in die tradisionele Calvinistiese godsdiens van die Afrikaner met ’n sterk Ou Testamentiese inslag, en hierdie godsdienssin met die Bybel as rigsnoer het van die kenmerkendste persoonlikheidstrekke in sy later lewe geword.

In 1836 het sy ouers die Potgietertrek na die noorde gevolg, en Kruger het die wel en wee van die Trekkersbestaan as jong seun meegemaak. Reeds op jeugdige leeftyd was sy onverskrokkenheid, fisieke krag en uithouvermoë besonder opvallend, en spoedig het hy hom as ’n gebore leier onderskei.

Op 17-jarige leeftyd was hy reeds veldkornet, en hy het aan verskeie ekspedisies teen opstandige swart stamme deelgeneem. Voor sy dertigste jaar was sy heldhaftigheid as krygsman reeds bekend, soos die keer toe hy die liggaam van kmdt.genl. Piet Potgieter op 6 November 1854 by Makapansgrot gaan weghaal het.

Kruger Paul preek in die Waenhuiskerk

Pres. Paul Kruger preek in die waenhuiskerk, die voorganger van die teenswoordige Gereformeerde kerk in W.F. Nkomostraat (voorheen Kerkstraat).

Kruger was teenwoordig by die onderhandelinge wat gelei het tot die Sandrivierkonvensie in 1852, en die handhawing van die onafhanklikheid van die Transvaalse Republiek het daarna een van die grootste dryfvere in sy lewe geword. Hy was sterk bewus van die ondermynende krag van verdeeldheid onder sy eie mense en het deurgaans ’n versoenende rol gespeel tussen die botsende groepe, soos in Maart 1852 tussen Pretorius en Potgieter by Rustenburg en die burgerstryd van die jare sestig.

paul-kruger-head-and-shoulders-portrait-facing-front-1024

Pres. Paul Kruger in die krag van sy jare.

Ofskoon iemand wat die orde in alle omstandighede probeer handhaaf het, sou hy nooit in stryd met sy eie beginsels en innerlike oortuiging kon optree nie. Gevolglik kon hy pres. Thomas François Burgers nie ten volle ondersteun nie en het die Volksraad hom op sy eie versoek in Mei 1873 van sy amp as kommandant-generaal onthef.

Kruger het die worstelstryd teen Britse heerskappy daadwerklik na die anneksasie van Transvaal in April 1877 met onwrikbaarheid aangeknoop en dit tot die einde gevoer. In hierdie tyd – eers deur deputasies en daarna in ’n wapenstryd en die onderhandelinge wat die staking van vyandelikhede by Laingsnek in Maart 1881 gevolg het – het hy sterk as leier na vore getree. Die geslaagde beëindiging van die Transvaalse Vryheidsoorlog en die verkreë onafhanklikheid van Transvaal was in ’n groot mate aan sy inspanning te danke.

Kruger en Gezina

Pres. Paul en mev. Gezina Kruger op die stoep van die presidentswoning in Pretoria.

Op 9 Mei 1883 is hy vir die eerste keer as Staatspresident beëdig, ’n amp wat hy tot met die ondergang van die ZAR beklee het.

Na die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het die aanslae op die onafhanklikheid van die Republiek in felheid toegeneem, totdat dit met die stemregistrasie van die uitlanders tot ’n hoogtepunt gevoer is. Hierdie inmenging in die interne sake van die Republiek het Kruger met alles in sy vermoë teengestaan. Ondertussen het hy getrag om die Republiek ekonomies selfstandig te maak. Vandaar sy strewe na ’n direkte spoorwegverbinding met Delagoabaai, ’n Republikeinse muntstelsel en ’n nasionale bank.

Krugerhuis oud

Krugerhuis, oorkant die Gereformeerde kerk in Kerkstraat (nou W.F. Nkomostraat), Pretoria.

In 1897 is ’n politieke verdrag met die Oranje-Vrystaat aangegaan, en die jaar daarop is dr. Leyds as gevolmagtigde gesant na Europa gestuur om die status van Transvaal te verhoog en bande met die buiteland te versterk.

’n Militêre botsing met Brittanje was onvermydelik, en op 11 Oktober 1899 het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek, wat tot die vernietiging van die Boererepublieke gelei het. Toe dit duidelik word dat die oorlog sy einde nader en die Boererepublieke hulle onafhanklikheid sou verloor, is daar besluit om die ou President na die buiteland te stuur, enersyds om te voorkom dat hy in die hande van die vyand val en andersyds om aan hom geleentheid te gee om hulp vir die twee Republieke te soek.

Pres_Paul_Kruger_en_Manie_Bredell_verlaat_Lourenco_Marques_aan_boord_van_die_Gelderland_op_pad_na_Europa_op_19_Oktober_1900

Pres. Paul Kruger en Manie Bredell, toe nog sy lyfwag, verlaat Lourenco Marques aan boord van die Gelderland op pad na Europa op 19 Oktober 1900. Die skip het op 20 Oktober gevaar.

Op ’n skip, die Gelderland, wat deur koningin Wilhelmina van Nederland aan hom beskikbaar gestel is, vertrek hy op ’n reis waarvan hy nooit lewend sou terugkeer nie. Hy sterf in selfopgelegde ballingskap op 15 Julie 1904 in Clarens, Switserland. Sy stoflike oorskot is gebalsem en per trein na Den Haag vervoer, waar daar op treffende wyse aan die nagedagtenis van die geliefde staatsman hulde gebring is. Van daar is die lyk per skip, die Batavier II, na Kaapstad vervoer en toe per trein na Pretoria. Duisende mense het langs die roete opgedaag om aan die ontslapene eer te bewys.

GK Pretoria Herbegrafnis Paul Kruger 1904 1

Pres. Paul Kruger se herbegrafnis op 16 Desember 1905. Vanaf 10:00 is buiteluggodsdiensoefening op die oop terrein langs die Gereformeerde Kerk, oorkant Krugerhuis, gehou, en om 15:30 het die begrafnisverrigtinge op Kerkplein ‘n aanvang geneem, waar die voetstuk vir pres. Kruger se standbeeld reeds opgerig was.

Op 16 Desember 1904 is hy langs sy vrou, Gezina, wat hom drie jaar tevore ontval het, te ruste gelê. Kruger het die simbool van ’n vrye Afrikanerdom en die verpersoonliking van die republikeinse ideaal geword. Meer as enige ander Boereleier, was hy die inspirasie vir Afrikanernasionalisme, wat veral in die eerste dekade ná sy dood sterk herleef het.

Hierdie belangrike verdienste van Kruger het daartoe aanleiding gegee dat ’n openbare vakansiedag op sy geboortedatum ingestel is, waarop helde wat dieselfde beginsels as hy nagestreef het, of steeds nastreef, gehuldig is. Dié dag is ná 1994 afgeskaf.

Pretoria Burial place of Pres Paul Kruger _ Family

Die Heldeakker in Pretoria met pres. Kruger se graf en grafbeeld, wat intussen vervang is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s