10 Oktober 1952 | Dr. Callie Opperman gebore

callie-en-rina-opperman-met-hul-kinders-en-kleinkinders-in-2017.jpg

Rina (met die groen trui) en dr. Callie Opperman (met sy hand op haar skouer) by hul kinders en kleinkinders in 2017.

Boorling van Mariental bedien sy geboorteland

deur Jan A.J. Kruger

Dr. Callie Opperman is van Duitse herkoms aan moederskant (hy is genoem na sy Duitse oupa, Prof. Wilhelm Friedrich Carl Arndt, wat aan die Universiteit van die Vrystaat verbonde was), en aan vaderskant is hy ’n derdegeslag-afstammeling van die Dorslandtrekkers. Sy oupa was Jan Adriaan Opperman en sy pa Daniël Petrus Jacobus Opperman. Sy oupa verhuis in 1928 uit Angola na Suidwes-Afrika en vestig hom in die distrik Gobabis.

Opperman matrikuleer in 1970 aan die Hoërskool Wennie du Plessis op Gobabis, waarna hy aan die PU vir CHO studeer. In 1973 behaal hy sy BA-graad, in 1974 ’n BA-Honns in Grieks, en in 1978 sy BTh. Hy studeer egter tydens sy bediening verder en in 1985 behaal hy ’n ThM in Nuwe Testament, en in 1995 sy ThD, ook in Nuwe Testament.

Callie en Rina Opperman trou in 1975 op Potchefstroom

Callie Opperman en Rina Putter trou in 1975 op Potchefstroom,

Hy ontmoet sy eggenote terwyl hy aan die PUK studeer, en in 1975 tree hy in Potchefstroom in die huwelik met Margaretha Catharina (Rina) Putter. Rina het BMus studeer en was die hele bedieningstyd ’n bekwame en toegewyde orrelis. As uitstekende musiekonderwyseres het sy steeds na aftrede studente. Uit hul huwelik is drie kinders gebore: twee seuns en ’n dogter. Albei hul seuns woon nog in Windhoek terwyl hul dogter getroud is met ds. Dirk Kotzee, predikant van GK Pretoria-Alkantrant, nadat hy voorheen GK Sanveld en GK Gobabis bedien het.

In 1979 as proponent is Callie beroep na die kombinasiegemeente Keetmanshoop/Karasburg in die suide van Namibië, wat ’n enorme area dek en ook verspreidwonendes in Lüderitz, Oranjemund en Namakwaland (Springbok, Okiep, Nababeep, Kleinzee, Port Nolloth, Alexanderbaai, en mynplekkies suid van die Oranjerivier) insluit. Vanweë die groot afstande en lidmate wat wyd verspreid oor die gebied woon, kry hy sy privaat vlieënierslisensie om hierdie ver punte te bedien. Hy dien ook hier as kapelaan in die Suidwes-Afrika Gebiedsmag.

Callie en Rina Opperman in 1979

Callie en Rina Opperman en hul eersteling, 1979.

In 1983 aanvaar Opperman ’n beroep na die GK Grootfontein in die noorde van Namibië. Die gemeentegrense is weereens baie wyd en sluit ’n groot boeregemeenskap in, asook die dorp Rundu in die verre noorde van die land, plus die weermagbasisse in die Kavango. Sy bediening te Grootfontein is gekenmerk deur die aanslag teen die regering van die tyd, en daar was ’n groot bewustheid van onveiligheid op plase. Daar was ook groot weermagbasisse in Grootfontein en Rundu en heelwat van die dienspligkapelane het onder sy leiding diens gedoen in die gebied van die GK Grootfontein. Dr. Callie was ook tydens sy dienstyd hier betrokke by sendingwerk onder Boesmans op plase van die Maroelaboom omgewing.

Sy volgende gemeente is die GK Rustenburg-Wes, waar hy van 1986 tot 1989 dien. Dit is sy eerste groot stedelike gemeente, met sy eie aanpassings maar ook met sy vele vreugdes. Hy is hier medeleraar saam met dr. Theuns de Klerk, ’n medeboorling van Namibië. In 1989 volg hy ’n beroep op as eerste leraar van die nuutafgestigte gemeente in Windhoek, die GK Windhoek-Suid. Dit was net voor die onafhanklikheid van Namibië met heelwat spanning van die verkiesing, met Untag-vredesmagte oral teenwoordig.

Dr. Callie se kenmerkende entoesiasme om nuut te doen en te waag kom hier tot uiting. Eers word eredienste in verskeie sale in die buurte van Windhoek-Suid en Windhoek-Wes gehou, en die uiteindelike oprigting van die Deo Gloria-sentrum waarin die kerkdienste nou gehou word, vind onder sy leierskap plaas. Amper 30 jaar se bediening in hierdie gemeente bring besondere bande met gesinne, en hy raak ook nou betrokke by die Namibiese Evangeliese Seminarium.

Callie Opperman ontvang sy doktorsgraad in 1985

Callie Opperman ontvang sy doktorsgraad in 1985. By hom is sy vrou, Rina.

Gedurende sy bediening is hy betrokke by die GKSA as onder meer deputate vir Onderwys, deputate vir Ekumeniese Sake (Angola), en vir 23 jaar as kurator by die GKSA se Teologiese Skool. Maar hy is ook betrokke op ander terreine van die samelewing, onder andere by die stigting van die Christelike Afrikaanse Privaatskole in Namibië, die organiseer van gedenkfeeste vir Dorslandtrekker-afstammelinge, lid van die Netwerk vir Afrikanerbelange, en hy dien as direksielid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK).

Sy rustige stem met eredienste Sondagoggende oor die Afrikaanse Radiodiens van die NBC, waar hy die GKSA verteenwoordig het, sal ook baie luisteraars bybly. Hy is lief vir die natuur, kampeer, fotografie en veral voetslaan, oftewel “rugsakstap”, en het al die staproetes van die Visrivier, Naukluft, Waterberg, Cederberg, en die Otter wandelpad gestap. En dan is hy ook nog ’n kranige bonsaiteler.

Van die 38 jaar en 6 maande wat hy in die bediening was, was Opperman slegs die 2 jaar in Rustenburg-Wes nie verbonde aan bediening in sy geboorteland nie, en beskou hy dit as voorreg om soveel jare te kon bedien tussen sy eie mense in sy geboorteland.

Hy emeriteer op Sondag 15 Oktober 2017, waarna die egpaar hulle op Swakopmund aan die Namibiese kus gevestig het, waar hy destyds in sy eie woorde “uitsien om nog die Here in sy koninkryk te kan dien”. Die weeklikse Deo Gloria Kuberbrief word reeds langer as 18 jaar per e-pos uitgestuur aan bykans 1 000 lesers. Daarin word ’n kort aktuele dagstukkie aangebied. Hy hoop om dié internetbediening uit te brei.

One thought on “10 Oktober 1952 | Dr. Callie Opperman gebore

  1. Liewe Pa en Ma,

    Hier is meer onlangse geskiedenis – Callie Opperman was die JV voorsitter toe ek ‘n student was en sy vrou was ook altyd daar. Ek onthou hulle goed.

    Ek hoop dit gaan goed met jou en Ma.

    Liefdegroete,
    Ina

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s