15 Oktober 1923 | Prof. P.W. Buys gebore

PW Buys

Prof. P.W. Buys se lewe in beeld.

Begaafde prediker, teoloog, digter

Prof. Pieter Willem Buys was ’n Afrikaanse digter van hoofsaaklik godsdienstige verse, predikant van die Gereformeerde Kerk, en professor aan die Teologiese Skool Potchefstroom. Hy word soms beskou as Potchefstroom se “ander Totius”.

Sy ouers het albei oorspronklik van die Karoo af gekom. Sy pa was van Steynsburg en sy ma, ’n nooi Du Plessis, van Philippolis. Toe hy nog ’n jong seun was, verhuis die gesin na ’n plaas tussen Brakpan en Heidelberg.

Ná sy laerskooldae op Brakpan en hoërskooldae op Bronkhorstspruit behaal hy die grade B.A., B.D. en in 1952 die M.Th. aan die PU vir CHO. Van 1948 tot 1950 was hy predikant van die kombinasie Theunissen en Bultfontein. As jong predikant het hy die gemeenskap sodanig beïndruk dat ’n straat op Theunissen na hom genoem word.

PW_Buys

P.W. Buys as jong predikant.

Van 1950 tot 1953 bedien hy GK Kroonstad en in 1953 word hy na Potchefstroom beroep. In 1961 woon hy drie maande lank in Nederland, terwyl hy besig is met sy doktorale studies. Van 1966 tot 1973 was hy predikant van GK Noordbrug, ook op Potchefstroom.

As besonder begaafde prediker is hy gevra om tydens die Gereformeerde Kerk se eeufees in 1959 te Rustenburg een van die eredienste waar te neem. Hy behaal sy D.Th.-graad in 1970 aan die Potchefstroomse Universiteit met ’n proefskrif getiteld “Die ekklesiologiese onderskeiding organisme en instituut as antwoord op die problematiek van die volkskerk: ’n historiese, prinsipiële en praktiese studie”.

Van 1973 tot 1988 was hy professor in die vakke etiek en apologetiek aan die PU vir CHO. In hierdie jare is hy van 1983 tot 1985 rektor van die Teologiese Skool en van 1981 tot 1988 hoof van die departement dogmatologiese vakke.

Talle artikels verskyn in hierdie tyd van hom in wetenskaplike en kerklike tydskrifte en ook in boeke.

Namens die Gereformeerde Kerke was hy vanaf 1979 verantwoordelik vir ’n hersiening van die Totius-beryming van die Psalmboek, waarin hy veral daarop gefokus het om moeilik verstaanbare woorde, hoofsaaklik Nederlandismes, met suiwer Afrikaanse woorde te vervang.

Ná sy emeritering in 1988 het hy met pastorale versorging van bejaardes in drie aftreeoorde in Potchefstroom begin.

Hy was geruime tyd lid en voorsitter van die deputate vir kerklike publikasies en talle artikels van hom verskyn in Die Kerkblad en Die Gereformeerde Vroueblad. Altesaam 34 jaar was hy ook redakteur van die kerklike jeugblad Slingervel. Vir sy werk in hierdie verband ontvang hy in 1997 ’n oorkonde van die Sinode van die Gereformeerde Kerk.

In 1949 is hy getroud met Louisa (Lulu) Minnaar, ’n huwelik waaruit twee seuns (Gerrit en Johan) en drie dogters (Mietsie, Susan en Louise) gebore is. Hy is op 27 November 1999 op Potchefstroom oorlede en sy vrou op 8 Mei 2001.

Ná sy vrou se dood bemaak hul kinders sy literêre nalatenskap aan die Nasionale Letterkundige Navorsingsentrum en Museum (NALN) in Bloemfontein.

Facebook-kommentaar

Slabbert Le Cornu Prof PW Buys het saam ander proffies/predikante ‘n boekie geskryf oor iets soos ‘Onderskei die Geeste’, weet iemand dalk van so boekie, dink dit was dalk ‘n IBC uitgawe, maar ek nie seker nie. Kan iemand help met die spesifieke titel?

Hierdie is nog steeds die beste studie van ‘dans’ uit gereformeerde perspektief wat ons het:
http://www.cjbf.co.za/boeke/Dans.pdf

Slabbert Le Cornu Of dalk een van die “Wetenskaplike Bydraes van die PU vir CHO” nommers?
Annatjie Myburg Ons was ook baie lief vir prof P.W.Buys! Hy was daardie jare nog predikant van Potchefstropm Gemeente en ek was bevoorreg om saam met hom op die Evangelisasie- kommissie te dien. Hy het ook oor ñ pragtige sin vir humor beskik. Ons was verder bevoorreg dat hy in 1990 die spreker was by ons Sustersaamtrek wat by Annlin se Kerk gehou is: Dit was kosbaar!
Ferdinand Postma Hy was ds van GK Noordbrug waar ek en Estelle baie keer dieste by gewoon het. Ds Buys het die gawe gehad om die gedeelte van die Bybel wat hy gelees het so konkreet te beskryf in konteks dit mens die toneel voor mens sien af speel het. Hy het my ma se troosdiens waargeneem toe sy in 1998 oorlede is.

Ferdinand Postma Daai wat ek praat was toe ek en Estelle net begin sleep het.

Ferdinand Postma Later was ons weer daar. 1980. By die dam in ‘n karavaan met twee kinders. B Ed voltyds. Dit was ‘n fees en ds Chris Malan het by ons kom huisbesoek doen. Ons het daarna vir twee jaar die karavaan gelos.
Albertje Fouche My lewenspad het 3x met syne gekruis: Theunissen, Noordbrug as student baie aande na hom gaan luister en weer van 1988-1999 in Noordbrug. Nederig, vriendelik, senstief, omgeemens. Ek ken nie genoeg woorde om hom te beskryf nie. Hy het ‘n onuitwisbare invloed op my lewe gemaak.
Jorrie Jordaan Tydens die Sinode van 85, het prof Buys my die volgende staaltjie vertel tydens sy bediening in Theunissen gemeente: Hy was op besoek by my oupa Ferdinand Jordaan (Mooifontein) toe oupa hom saam nooi kraal toe. Oupa toe reeds 83 en nog dienend in die Oudl amp, vang ‘n mooi groot vet hamel en loop daarmee slagplek toe en begin slag die hamel. Prof Buys vra toe maar oom kan een van die werksmense nie slag nie, waarop oupa geantwoord het: Dominie, ek of een van my 3 seuns sal self die gesalfde van die HERE se skaap slag! En nie een van die seuns is nou hier nie. Ek was ‘n dopeling van hom.
Albertje FoucheEk was op jou Oupa se 100’e verjaardag. Jy moet Johannes wees. Ds PW het my broer Andries ook gedoop.
Jorrie Jordaan Albertje, wat het van Boeta geword. Ons was baie groot maats toe ons nog op Jakkalskop gewoon het. Ja, Oupa het 105 geword
Albertje Fouche Jorrie Jordaan Boeta is nou 70 en woon op Marina Beach aan die Suidkus. Ons het darem famtastiese kinderjare daar op Jakkalskop en Verdun gehad. Ons het jou ma op Bltfn in die oue te huis gaan besoek. Sy erken my toe op my pa.
Jorrie Jordaan Ja Niggie die herinneringe loop diep. Die Sand-Vet nedersetting wat ons plase destyds on teken het, is vir my nog steeds onverstaanbaar na my pa op hoeveel vergaderings en wat meer die staat daarop gewys het dat dit nie haalbaar is nie. Ek verstaan feitlik al daai plotte is aan grooter boere verkoop. Stuur tog Boeta se kontak besonderhede vir my, asb?
Jorrie Jordaan Onteien het
Albertje Fouche Jorrie Jordaan dit was ‘n baie moeilike tyd in ons se ouers se lewe. Daar het niks vd plotte gekom nie. Kom ons praat op messenger verder.

One thought on “15 Oktober 1923 | Prof. P.W. Buys gebore

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s