4 November 1829 | Breggie van Biljon gebore

Willem_en_Breggie_van_Biljon,_ouers_van_Johanna_Wilhelmina_Postma,_ds_Dirk_Postma_se_vyfde_en_laaste_vrou

Willem en Breggie van Biljon, ds. Dirk Postma se laaste skoonouers. Breggie was 11 jaar jonger as haar skoonseun.

Ds. Dirk Postma se vyfde en laaste skoonmoeder

Gerbrechta Sophia van Biljon (gebore Smit) was een van die eerste lidmate van die Gereformeerde Kerk en die laaste skoonmoeder van dié kerkverband se eerste predikant, ds. Dirk Postma.

Breggie Smit se vader was Jacobus Petrus Erasmus Smit (1800–1848). Sy was die oudste van die vyf kinders uit sy eerste huwelik, met Martha Gerbrechta Sophia de Klerk.

Breggie en Willem van Biljon se jongste kind, Johanna Wilhelmina (1854–1901), is op 20 Desember 1869 op 14-jarige leeftyd in die eg verbind met die 51-jarige ds. Dirk Postma, wat toe maar twee maande en 17 dae vir die vierde keer ’n wewenaar was.

Deur haar jongste kind se huwelik was Breggie die ouma van vier predikantsvroue en een predikant: Brechtje van Rooy, Laurika en Aletta du Plessis, Marie du Toit en ds. Willem Postma.

Johanna_Postma

Johanna Wilhelmina Postma, die Van Biljons se dogter wat met ds. Dirk Postma getroud was.

Breggie en haar man het geboer op die plaas Hoedklip in die distrik Burgersdorp. Hulle het nie oorspronklik behoort tot die streng ortodokse Doppers wat ook teen die sing van gesange gekant was nie, maar deur ’n diep en grondige ondersoek van die Skrif en die saligmakende waarhede van die Woord kon hulle hulle nie verenig met wat hulle en hul geesgenote as “liberale nuwighede” bestempel het nie.

Hulle het die NG Kerk dan ook reeds enkele jare voor die afskeiding (of herstigting) van 1859 verlaat, en toe hulle omstreeks April daardie jaar verneem dat ds. Postma uit Transvaal in die Vrystaat aangekom het, het hulle daarheen gereis en aangesluit met die stigting van die Gereformeerde Kerk Reddersburg op 12 Mei.

Breggie en Willem het drie dogters en drie seuns gehad. Een van dié seuns, Stefanus J.P. van Biljon, is in 1860 gebore en was getroud met Hester Pretorius. Hy was ook ‘n Burgersdorpse diaken, maar is oorlede in die ouderdom van 37 jaar.

Sy plaas was Wonderboom, waar hy grootgeword en later geboer het. Oor dié plaas het Marie du Toit, kleindogter van Willem en Breggie van Biljon en eggenote van Totius, in 1959 geskryf: “Op die plaas Wonderboom het ons baie aangename vakansies by my grootouers, ouderling W. van Biljon en sy eggenote, deurgebring.”

Van Breggie van Biljon het ds. L.J. du Plessis in die Gereformeerde Kerk se 50-jarige gedenkboek van 1909 geskryf: “Die ou moeder Van Biljon was ’n lig in haar huislike en kerklike lewe. Sonder ophef, maar in stilte het sy deur woord en daad getuig en was haar geloof ook ander tot seën.”

(Die oorspronklike Nederlands lui: “Zonder ophef, maar in stilte getuigde zij van het licht der genade dat in haar was en ongemerkt dan ook naar buiten, in woord en daad zich openbaart, haar eigen huis en anderen ten zegen.”)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s