4 November 1950 | Prof. dr. Ferdinand Postma sterf

Staf_en_studente_van_die_PUK,_1933

Personeel en studente van die Potchefstroomse Universiteitskollege, 1933. Prof. Postma is in die middel.

Eerste rektor van die PUK vir CHO

Prof. dr. Ferdinand Postma (gebore op 15 Julie 1879) was die eerste rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, ‘n proponent van die Gereformeerde Kerk en klassikus.

Ds_Martinus_Postma_se_seuns_Dirk,_Ferdinand_en_Robert

Ds. Martinus Postma se seuns (van links) Dirk, Robert en Ferdinand.

Hy was die derde kind en tweede oudste seun van ds. Martinus Postma en Elizabeth Wilhelmina Jossina Spiller en ’n kleinkind van ds. Dirk Postma. Die gesin het altesaam 11 kinders gehad, van wie 10 grootgeword het. Van sy vader, die eerste Gereformeerde predikant aan die Witwatersrand, het hy sy besonderse aanleg en belangstelling in die klassieke tale en sy nougesetheid en korrektheid geërf, en van sy moeder sy groot aanleg vir en belangstelling in die Engelse taal.

Ferdinand het sy eerste skoolopleiding op Burgersdorp ontvang. Sy vader het in 1890 ’n beroep aangeneem na Middelburg, Kaap, waar Ferdinand aan die Vrye Christelike Skool skoolgegaan het.

Prof_Ferdinand_Postma_en_Margaretha_Coetsee_se_troufoto,_Potchefstroom,_Julie_1905

Prof. Ferdinand en mev. Margaretha Postma se troufoto, Julie 1905, Potchefstroom.

In 1896 het hy matriek aan die Teologiese Skool Burgersdorp geslaag. In 1898 het hy die Intermediêre Eksamen van die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop geslaag en met sy derde plek ’n beurs verwerf.

Die Tweede Vryheidsoorlog het sy studie onderbreek. Hy het na Transvaal vertrek, waar sy vader toe predikant van Johannesburg was. Hy sluit aan by die Heidelbergse kommando en neem deel aan die beleëring van Ladysmith, die bestorming van Platrand en die Slag van Spioenkop. Weens siekte moes hy terugkeer na sy ouerhuis.

Prof_Ferdinand_Postma,_sy_vrou,_Margaretha_Coetsee,_en_hul_dogters_Gretchen,_Salome_en_Elizabeth

Prof. Ferdinand en mev. Margaretha Coetsee en hul oudste drie kinders.

Met behulp van studiegeld wat die NZA-Vereeniging aan hom gegee het, sit hy sy studie voort aan die Vrye Universiteit, Amsterdam, Nederland. Hier het hy hom ingeskryf om opgelei te word as ‘n bedienaar van die Woord. Hy het saam met ‘n medestudent studeer, naamlik J.D. du Toit, (Totius), wat ’n groot invloed op sy lewe gehad het. Later het hy van studierigting verander na klassieke tale onder leiding van prof. J. Woltjer. In 1903 behaal hy sy Litterarum Humaniorum Candidatus.

Postma Prof Ferdinand

Prof. Ferdinand Postma.

In Januarie 1904 keer hy terug na sy vaderland, waarvandaan ’n oproep gekom het om op te tree as ‘n professor in Litterarum aan die Teologiese Skool. Vir hom was dit ’n swaar offer omdat dit sy aard was om ’n saak volledig af te handel nadat hy daarmee begin het. Hy kon egter nie die dringende roepstem weerstaan nie.

Die verlange na die amp van bedienaar van die Woord het sterk in hom opgevlam. Die gevolg is dat hy hom laat inskryf as ’n student aan die Teologiese Skool onder prof. Jan Lion Cachet. Op 6 Desember 1911 lê hy die kandidaatseksamen in die Teologie af.

Margaretha_Postma,_gebore_Coetsee,_eggenote_van_prof_Ferdinand_Postma

Prof. Postma se weduwee, Margaretha.

In 1913 vertrek hy weer met studieverlof na Nederland. Daar promoveer hy in 1914 in die Klassieke Lettere wat hy nie kon voltooi het nie, onder die proefskrif “De Numine Devino quid senserit Vergilius”. In dieselfde jaar keer hy weer terug na Suid-Afrika en wy hom verder aan die uitbou van die Literariese Departement van die Teologiese Skool.

In 1916 het daar ’n nuwe onderwyswet gekom wat veroorsaak het dat die Literariese Department en die Teologiese Skool van mekaar moes skei. Vanaf 1919 is die Literariese Departement bekend as die Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys waarvan prof. Postma die eerste rektor was.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s