5 November 1858 | Ds. Postma preek eerste keer in Transvaal

Pierneef

Die skone natuur, soos hier uitgebeeld deur Pierneef, het ds. Dirk Postma se aandag geboei op reis van Port Natal na Rustenburg.

Natuur, wild en eenvoudige huise boei Hollander se aandag

Nadat hy ’n tyd lank in Kaapstad vertoef het, het ds. Dirk Postma op 1 Augustus 1858 ’n seilskip Durban toe gehaal. Op 20 Augustus het hy aan wal gestap in Port Natal. In Natal was sy verhouding met die NG Kerk, nes aan die Kaap, van die hartlikste.

Hy het selfs ’n beroep na die NG Gemeente Greytown ontvang, wat hy vanweë sy afvaardiging deur die Christelike Afgeskeie Kerk in Nederland na Transvaal natuurlik bedank het.

Ds_Dirk_Postma

Die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk het op sy sinode van 1857 in Leiden besluit om ds. Dirk Postma na Suid-Afrika af te vaardig met die oog op hulp aan die Transvaalse kerk en om ’n geopende deur vir die sending te vind.

Uit Rustenburg is Philippus Snyman en D. Kruger gestuur om ds. Postma in Natal te gaan ontmoet. Die reis per ossewa het voorspoedig gevorder. As vreemdeling is ds. Postma se aandag geboei deur die skone natuur, die wild op die veld, en in die eenvoudige boerewonings het selfs nie “den vloer met koemest besmeeren” sy aandag ontglip nie.

Ná ’n verblyf van ’n paar dae op Ladysmith by ds. P. Huet het ds. Postma op 27 Oktober besoek ontvang van ds. Andrew Murray van Bloemfontein of te verneem of hy ’n beroep na die NG Gemeente Winburg sou oorweeg. Hy het geweier aangesien sy opdrag was “naar de andere zijde van de Vaalrivier”.

Ou Ng kerk Winburg

Die NG Gemeentes Greytown (in Natal) sowel as Winburg (in die Vrystaat; foto) wou ds. Postma beroep.

Eindelik, op 3 November het hy die Suikerbosrand aan die oorkant van die Vaalrivier gesien. “Mijn hart wordt aangedaan,” het hy geskryf, “nu ik reeds in de verte het land mijner bestemming zie, na al een halfjaar op reis geweest zijn.”

Op 5 November, vroeg die oggend om sesuur, het hy Transvaal naby Standerton binnegegaan. Douw Kruger, broer van die latere pres. Paul Kruger, het ’n paar dae vantevore te perd vooruitgery om die mense in kennis te stel van die koms van ds. Postma.

Toe die Hollandse predikant sy voet op Transvaalse grondgebied sit, moes hy dadelik preek. Aan huis van ene D. Leus was ’n klomp mense by mekaar en daar het ds. Postma sy eerste diens in die land gehou waarheen sy kerk hom afgevaardig het.

Nog dieselfde oggend is hy verder in die hoop om Potchefstroom die Saterdagaand te bereik, maar teen daardie aand het hulle net tot by die plaas Buffeldoorns van Flip Schutte gevorder. Die volgende dag, Sondag, is hier twee dienste gehou.

Op Maandag 8 November is ds. Postma en sy geselskap verder na Rustenburg, vergesel van Schutte, nadat hy daardie Sondagmiddag verneem het dat ds. Dirk van der Hoff sowel as pres. M.W. Pretorius uit Potchefstroom afwesig was. Op 10 November het ds. Postma Rustenburg bereik en ’n kamer in ds. Van der Hoff se pastorie betrek.

Bronne: Professor Dirk Postma 1818–1890 deur G.C.P. van der Vyver en Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1935.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s