5 November 1985 | Ds. Dirk van der Walt oorlede

Dirkie van der Walt

Ds. Dirk van der Walt, sy vrou, Hendrina (née Van der Walt, wie se broer Gert van 1955 tot 1976 predikant van GK Delarey was) en hul twee oudste kinders.

Beleef met droefheid van hoe sy gemeente kwyn

Ds. Dirk Jacobus van der Walt (gebore op Edenburg, 15 September 1919) was van 1951 tot 1985 predikant in vier Gereformeerde kerke. Hy het op 15 September 1984 65 jaar oud geword.

Op 24 Februarie die volgende jaar het hy sy emeritaat aanvaar ná ’n amper 20-jarige bediening in die Gereformeerde Kerk Johannesburg-Mayfair. Skaars agt maande later het hy siek geword en ná 18 dae is hy oorlede.

Dirkie van der Walt moes die skool op sy geboortedorp ná st. 6 verlaat en in sy vader, P.J. van der Walt, se haarkappery gaan werk, waar hy die ambag aangeleer en eindelik ook daarin gekwalifiseer het. Die gesin het in 1938 met hul bedryf na Pretoria verhuis en in 1939 na Potchefstroom waar hy, sy vader en sy broer Piet (later professor in kriminologie aan Unisa en burgemeester van Pretoria) die amptelike haarkappers van die weermagbasis geword het.

Gereformeerde_kerk_Johannesburg-Mayfair,_Danie_Theron,_3_Januarie_2018

Die kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Johannesburg-Mayfair, waarin ds. Dirkie van der Walt amper 20 jaar lank die Woord verkondig het. Dit is verkoop nadat die gemeente in 1986 ontbind het.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die vader en sy seuns geweier om die “rooi eed” af te lê waarin hulle trou beloof aan die Geallieerde Magte (Brittanje, Frankryk, Rusland, ens.) wat in die oorlog teen die Spilmoondhede (Duitsland, Italië, Japan, ens.) geveg het. So moes hulle in 1942 ’n ander heenkome soek en het hulle weer ’n haarkappery in Pretoria begin.

Van der Walt het eers ’n hele aantal jare nadat hy skool verlaat het met privaat studie begin. In 1943 het hy deur Unisa begin studeer en in 1944 is hy voltyds na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1946 die B.A.-graad behaal het.

Van begin 1947 tot einde 1950 het hy in die teologie studeer aan die Teologiese Skool Potchefstroom, waar hy einde 1950 beroepbaar gestel is. In sy studiejare moes hy sy ou gereedskap steeds gebruik, want in sy vrye tyd het hy nog baie koppe geskeer om vir sy studie te betaal.

Ds. Sakkie Minnaar, wat ten tyde van ds. Van der Walt se afsterwe predikant was van Delarey was, skryf in sy lewensberig in die Almanak vir 1987: “Dit was voorwaar ’n lang en moeisame pad waarop die Here die jong Dirk gelei het totdat hy sy eintlike lewenstaak kon begin: op 32 jaar is hy in sy eerste werkkring bevestig.

“Van hom het dit moed, volharding, geduld, sterk roepingsbesef en baie offers geverg … So het ons hom geken: tot die einde ’n dienaar wat wéét dat hy geroep is tot diens en dit gelewe het met selfverloëning.”

Ds. Van der Walt is in 1966 in sy laaste gemeente, Johannesburg-Mayfair, bevestig. Hier het hy 19 jaar lank gearbei. Ds. Minnaar skryf dit was in sy laaste werkkring “waar hy met droefheid beleef (het) hoe die gemeente deur ontvolking kwyn”.

Met sy koms na Johannesburg in 1966 het Johannesburg-Mayfair 356 belydende en 243 dooplidmate gehad vir ’n sieletal van 599. In sy laaste jaar in die gemeente (1985) en die jaar voor dit ontbind het, het die getalle afgeneem tot 103 belydende en 31 dooplidmate; dus net 134 siele, ’n afname van amper 80 persent.

Facebook-kommentaar

Ebies Ebersohn Tannie Hendrina is in Gereformeerde Kerk Randburg. Sy woon by haar jongste dogter Anlia en skoonseun Jan-Harm Pretorius. Anlia lyk vir my deesdae baie soos haar ma op dié foto. Die dogterjie op die foto is Christa. Ek het vergeet wat die oudste seun se naam is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s