7 November 1874 | Pannevis beveel ds. Du Toit aan as Bybelvertaler

GRA_embleem

Die embleem van die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA).

Ds. S.J. du Toit se seun had groot aandeel in Bybelvertaling

Arnoldus_Pannevis

Arnoldus Pannesvis (1838–1884) was een van die baanbrekers van die Afrikaanse taal. Hy kan met reg die vader van die Eerste Taalbeweging genoem word.

Ds. S.J. du Toit het reeds in 1874 as “Ware Afrikaander” in De Zuid-Afrikaan ’n reeks van drie artikels oor die Afrikaanse taal geskryf, waarin hy voorbrand gemaak het vir die belangrikheid van die moedertaal en die stelling dat Afrikaans nie ’n taal kan wees nie, weerlê.

Onder meer het hy hier reeds die taalreël neergelê dat ons skryf soos ons praat.

Intussen was Arnoldus Pannevis as oortuigde Christen geesdriftig oor die vertaling van die Bybel in Afrikaans sodat die bruin mense van die land in hulle eie taal vir die evangelie bereik kon word.

Hy skryf ’n brief hieroor aan De Zuid-Afrikaan van 7 September 1872, onder die skuilnaam “Een vriend van het nuttige”. Die brief het talle ander briewe as teenreaksie gekry, en Pannevis skryf toe ’n tweede brief wat op 21 September 1872 gepubliseer word.

Toe hierdie brief nie die gewenste uitwerking het nie, skryf hy op hierdie dag direk aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) in ’n privaat brief, ’n gebeurtenis wat onregstreeks sou lei tot die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).

Ds SJ du Toit

Ds. S.J. du Toit as jong Paarlse predikant, toe nog NG.

Pannevis beveel ds. Du Toit in hierdie brief aan as moontlike vertaler, maar noem Afrikaans op taktlose wyse ’n “dialekt, gevormd gedeeltelijk door verwaarloozing van de moedertaal”, wat die BBBG ongeneë stem om ’n brabbeltaal te bestendig.

Die BBBG verwys dan hierdie skrywe twee maande later na hul plaaslike verteenwoordiger in Kaapstad, ds. George Morgan, wat dit met ds. Du Toit bespreek om uit te vind of die behoefte aan ’n Afrikaanse Bybelvertaling werklik so groot is.

Ds. Du Toit wou die saak eers met ’n paar voorstanders van Afrikaans bespreek. Hy belê die vergadering van 14 Augustus 1875 in die Paarl met sewe ander persone (ds. August Ahrbeck, C.P. Hoogenhout, Gideon Malherbe, D.F. du Toit [Dokter], D.F. du Toit [Oom Lokomotief], Petrus Malherbe en S.G. du Toit) waar die Genootskap van Regte Afrikaners gestig word. Almal behalwe Hoogenhout en Ahrbeck was familie van mekaar.

Eers byna ses dekades later sou die Afrikaanse Bybel die lig sien waarin ds. Du Toit se seun Totius so ’n groot aandeel sou hê.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s