11 Maart 1939 | Kinderhuis-hoeksteen gelê

Van_die_eerste_inwoners_van_die_President_Kruger-kinderhuis,_Pretoria

Van die eerste inwoners van die tehuis, omstreeks 1940.

‘Die kerk neem weeskinders tuis’

Die President Kruger-kinderhuis, Pretoria, is ’n instelling van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Pretoriase voorstad Villieria vir die versorging van kinders wat nie ouers het nie of wie se ouers nie na hulle kan omsien nie. Die tehuis het in die lente van 2019 sy 80ste bestaansjaar gevier.

Op die GKSA se Sinodes van 1924 op Rustenburg en 1927 op Reddersburg is ’n rapport oor die weesinrigting ingedien. In die twintigerjare het die diakonie van Reddersburg begin met ’n plaaslike kinderhuis. Hulp is gevra van ander gemeentes, maar die kinderhuis op Reddersburg moes ná ongeveer twee jaar sluit weens ’n gebrek aan steun.

President_Kruger-kinderhuis,_Pretoria,_se_ingebruiknemingskommissie,_1939

Die ingebruiknemingskommissie van die President Kruger-kindershuis, 1939.

In 1929 is op die Rand ’n weeskommissie bymekaargeroep met die doel om ’n kinderhuis op te rig. Daar was toe £75 in die spaarbus. Die Depressiejare van 1930 tot 1933 was ’n besonderse tydperk vir die werk van diakens op die Rand en Pretoria betreffende die oprigting van ’n kinderhuis.

Met die Sinode in 1936 is gemeld dat die weeshuisfonds aangegroei het tot £2 000. Hierdie tydperk was worsteljare vir die Gereformeerde Kerke om ’n besluit oor die bou van ’n kinderhuis te neem. Maar dit getuig ook van die dryfkrag agter die diakonieë van die Rand en Pretoria vir die bou van ’n kinderhuis.

Plan_vir_weeshuis_van_die_Gereformeerde_Kerke_in_Pretoria_deur_Pieter_Dykstra

Hierdie plan deur Pieter Dykstra vir die weeshuis van die Gereformeerde Kerke in Pretoria het in die 1934-uitgawe van dié kerkverband se Almanak verskyn.

Die gevolge van die Depressie is nêrens in Suid-Afrika in sy naakte verarming soos in Johannesburg gesien nie. Boere is van hul plaas verdryf deur die droogte en het koers gevat na die diamantdelwerye op Lichtenburg. Haglike omstandighede het van die plaasboer noodgedwonge ’n stadsmens gemaak.

Beter vooruitsigte het sommige na Johannesburg se goudmyne gelok, maar werkloosheid, myntering en armoede het die diakens van die Rand en Pretoria bewoë gelaat oor die toestand van die kinders wat versorging nodig gehad het. Die stad het menige arbeider geestelik laat verdwaal en gebroke huisgesinne gelaat.

Deur die bemiddeling van min. P.G.W. Grobler, ’n lidmaat van die Gereformeerde Kerk Rustenburg, is ’n stuk grond in Voortrekkersweg, Gezina (genoem na Gezina Kruger, ook ’n Gereformeerde), aan die diakonie geskenk met die spesifieke voorwaarde dat ’n kinderhuis gebou word.

Prof Ferdinand Postma

Prof. Ferdinand Postma.

Ten spyte van die drukkende depressie het die middele vinniger ingekom. Die Gereformeerde argitek P.S. Dykstra is gevra om die planne gereed te kry met die oog op die bou van die gebou ten bedrae van £3 000. En in 1936 het die bouwerk begin, maar die ideaal is eers in 1939 verwesenlik.

Grobler het die hoeksteen op hierdie dag gelê. In die rede van prof. dr. Ferdinand Postma kom die volgende sin voor: “Die wêreld maak oorlog en vermenigvuldig weeskinders. Die kerk maak deure oop en neem weeskinders tuis.”

Die gebou is voltooi vir die bedrag van £5 200. Almal was daarvan oortuig dat die diakens ’n groot daad van liefde verrig het, skryf prof. Van der Walt. Met die oopmaak van deure van die President Kruger-kinderhuis was daar 4 weeskinders en ’n week later reeds ’n sewetal. Daar was plek vir 60 seuns en dogters.


PB 02

Lewer kommentaar