15 Junie 1961 | Akteur André Huguenet sterf in armoede

Helshoogte_1943

André Huguenet, Hermien Dommisse en Paula Styger (’n Doppernooi van Burgersdorp) in Helshoogte, ’n vertaling van Emily Brontë se Wuthering Heights (1943).

Vader was ouderling in GK Bloemfontein

André Huguenet was een van die grootste toneelkunstenaars op die Afrikaanse verhoog. Hy was ’n besielde en besielende akteur wat artistiek slegs met die beste in homself en in ander tevrede was.

Eerste Gereformeerde kerk Bloemfontein

Die Gereformeerde kerkgebou in Bloemfontein waarin André Huguenet, oftwel G.P. Bortslap, waarskynlik gedoop is. Dit het in die twintigerjare afgebrand.

Huguenet is op 22 Oktober 1906 in Bloemfontein as Gerhardus Petrus Borstlap gebore waar sy vader, na wie hy genoem is, later ouderling in die plaaslike Gereformeerde kerk was. Sy moeder was Martha Grobler.

Huguenet het reeds kleintyd met voordrag opgetree en talle pryse op kunswedstryde gewen. Nadat hy matriek aan die Gery-kollege geslaag het, het hy in Junie 1926 na Potchefstroom vertrek om hom by die toneelgeselskap van Paul de Groot aan te sluit. Sy eerste rol was dr. Van Keller in Huistoe deur die Duitse dramaturg Hermann Sudermann.

Hy het na Bloemfontein teruggekeer met die vaste voorneme om akteur te word, maar sy ouers het hom oortuig om vir ’n BA aan die Universiteitskollege van die OVS in te skryf en hom as joernalis of onderwyser te bekwaam. Hy verlaat Bloemfontein egter weer sowat ’n jaar later en speel as lid van die De Groot-geselskap in talle vertaalde werke, waaronder ’n Gerieflike huwelik (Dumas) en Geleende geld (Ibsen se A doll’s house).

Anna_Neethling-Pohl_André_Huguenet

André Huguenet en Anna Neethling-Pohl in die Afrikaanse opvoering van Hamlet.

Nadat die geselskap in 1929 ontbind het, sluit Huguenet hom op sy 23ste verjaardag in Pretoria by die redaksie van Ons Land aan as verslaggewer van sosiale aangeleenthede, musiek en toneel. In die tyd ontmoet hy vooraanstaande persone, soos die aktrise Stephanie Faure, teenoor wie hy in 1930 die hoofrol in Ampie van Jochem van Bruggen vertolk.

Midde-in die Groot Depressie bring Huguenet in 1931 sy eie toneelgeselskap in die Kaap op die been, maar in dié tyd word hy teen sy artistieke gewete in gedwing om populêre stukke op te voer. Hiermee boet hy veel van sy status as die voorste Afrikaanse toneelspeler in.

In dié tyd wys hy ’n Carnegiebeurs om na die VSA te gaan van die hand en voer twee toneelstukke op waarin hy hoofrolle teenoor Lydia Lindeque vertolk. In 1937 ontbind hy sy geselskap en gaan na Londen, waar hy lid word van die British Drama League. Hy toer deur Europa onder beskerming van sir Barry Jackson en doen waardevolle ondervinding op.

André_Huguenet_-_Die_Poppehuis

André Huguenet in die rol van dr. Rank in Hendrik Isben se Die Poppehuis, wat Paul de Groot in 1928 opgevoer het.

Terug in Suid-Afrika stel hy weer ’n toneelgeselskap saam en bied By die ou meulstroom aan met Wena Naudé in die hoofrol. Ná ’n besoek aan die VSA in 1939 stig hy nogmaals ’n toergeselskap, dié keer met Berdine Grünewald as hoofdame.

Vroeg in 1940 besoek hy die vernaamste plattelandse dorpe waar hy sy eerste Engelse rol, in The corn is green en Night must fall, vertolk. Die geselskap wat hy in 1941 saamgestel het, het groot welslae behaal.

In 1947 bereik hy ’n ideaal deur Hamlet van Shakespeare in Afrikaans op te voer. Hiervoor ontvang hy ’n Erepenning vir Toneel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 1948 word die Queen’s Coronation Medal aan hom toegeken.

In dieselfde jaar word die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) gestig en Huguenet dien saam met ander toneelveterane in die beheerraad. Talle produksies volg, waaronder Macbeth (in Engels). Tydens die Festival of Britain in 1950 word hy die eerste Suid-Afrikaanse toneelspeler wat na Engeland genooi word om ’n bepaalde rol te vertolk: die naamrol in Hassen van J.E. Flecker.

André_Huguenet_en_Berdine_Grunewald_-_Hamlet_en_Ophelia_1947

André Huguenet as Hamlet en Berdine Grünewald as Ophelia in Hamlet, wat Huguenet in 1947 ter viering van sy 21ste jubileum in Johannesburg en Pretoria opgevoer het.

Terug in Suid-Afrika lewer hy ’n besonderse vertolking van Oedipus in Oedipus Rex, ’n Afrikaanse vertaling van die klassieke drama deur Sophokles. Op die silwerdoek was hy in dié tyd te sien in Hans-die-Skipper, Inspan en Paul Kruger.

André Huguenet was die eerste persoon aan wie die Grey-kollege ’n erepenning toegeken het (in 1953) en twee jaar later ontvang hy ’n erepenning van die Universiteit van Pretoria se kunsvereniging Pro Arte.

Hy herdenk sy 30ste jaar op die verhoog in 1956 met ’n opvoering van Oedipus Rex in Kaapstad, dié keer in Engels, waarna Anastasia en The Crucible volg. In 1957–1958 bots hy met die gereg oor vermaaklikheidsbelasting tydens die opvoering van Belinda is doofstom.

Teen die volgende jaar, 1959, was Huguenet geldelik en liggaamlik geruïneer. In 1960 tree hy nog op as King Lear, maar in April 1961 sluit hy sy lang en soms ontmoedigende toneelloopbaan af met ’n skitterende vertolking in die NTO se aanbieding van The prisoner (Bridget Boland). Skaars ’n maand later sterf hy eensaam en arm in sy slaap aan die huis van sy suster in sy geboortestad.

Huguenet het daarin geslaag om van die grootste dramas uit die Wes-Europese letterkunde in Suid-Afrika en dikwels in Afrikaans aan te bied. Daarmee het hy wye horisonne vir liefhebbers van die toneel oopgemaak, volgens G.J. Beukes in die Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Hy het die weg gebaan vir die Afrikaanse beroepstoneel in Suid-Afrika.


reklame dooie lantern

Protea

One thought on “15 Junie 1961 | Akteur André Huguenet sterf in armoede

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s