28 Junie 2020 | Dr. Pieter Bingle oorlede

Dr. Pieter en Marianne Bingle en hul familie.

33 jaar lank predikant in Kaapstad

Dr. Pieter Bingle was tussen 1964 en sy emeritaat in 2006 predikant in drie gemeentes van die GKSA, maar word veral onthou vir sy nagenoeg 33 jaar lange dienstyd in sy laaste werkkring, die Gereformeerde Kerk Kaapstad. Sy ander twee gemeentes was Carolina (1964–’68) en Pretoria-Wes (1968–’73).

Dr. Bingle, wie se lewensfilosofie was om daadwerklik ’n verskil met dade van hoop te maak, is op Sondag 28 Junie 2020 in die ouderdom van 81 jaar oorlede nadat hy lank siek was. Ds. Johan Fleischmann, predikant van GK Kaapstad, het ná sy voorganger se dood gesê: “Soos hy altyd van ander gesê het, hy het nou oorgestap na volkome oorvloedige lewe in ons Here”.

Pieter Willem Bingle is op 4 Junie 1939 gebore as die oudste van die ses kinders van prof. Hansie en Salóme Bingle (née Postma) van Pretoria. Sy vader was ’n seun van ds. Pieter Bingle en sy eerste vrou, Albertje Catharina Andria (née Coetzee, 1879–1919). Salóme Postma was die derde dogter van prof. Ferdinand Postma en Margaretha Coetzee. Aan moederskant was Pieter Bingle ’n agteragterkleinkind van ds. Dirk Postma.

Een van die laaste foto’s van dr. Pieter Bingle.

Hy het sy skoolopleiding ontvang aan die Laerskool Pretoria-Oos en Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria, waar hy een van drie onderhoofseuns was. Sy universiteitsopleiding het hy aan die destyds PU vir CHO ontvang, waar hy die teologiegrade Th.B. (1963, met lof), Th.M. (1986, met lof) en Th.D. (1989, proefskrif Die betekenis van die eskatologie vir die prediking) verwerf het.

Dr. Bingle as jong predikant.

Op universiteit het hy in die studenteraad gedien en was hy voorsitter van die kultuurliggaam Korps Veritas Vincet. Vir Wes-Transvaal se o.19-rugbyspan het hy as haker uitgedraf en van die Pukke se eerste span was hy in 1963 kaptein. Af en toe was hy ook haker vir Wes-Transvaal. Hy is in 1963 gekies om as haker te speel vir die gekombineerde span van die Noordelike Universiteite (UP, Wits en PU vir CHO) teen die Oxcambs (’n gekombineerde span van die universiteite Oxford en Cambridge, Engeland) op Loftus Versveld, Pretoria.

By geleentheid het hy vir sy universiteit paalgespring. Vroeg in sy bediening het hy in 1965 vir Carolina se eerste dorpspan uitgedraf en ook nog aan paalspring deelgeneem.

Hy is getroud met Marianne (née Stigling, gebore 14 Mei 1939), dogter van wyle Hennie en wyle Etta Stigling, oorspronklik van Florida. Uit hul huwelik is vier kinders gebore, Danita, Salóme, Marianne en Johanci, almal oudleerders van die Hoërskool Jan van Riebeeck. Ná sy emeritaat het die egpaar uit Edgemead na Welgelegen, Parow, verhuis.

Staatspresident F.W. de Klerk en mev. Marike de Klerk by mev. Marianne en dr. Pieter Bingle.

Dr. Bingle was sowat 33 jaar lank voorsitter van Hawesending in Tafelbaai en lid van Evangelie aan Verbyvarende Seelui; ook lid van Evangelie aan Vissersbediening in Houtbaai en Kalkbaai. Hy was 10 jaar lank voorsitter van die statutêre liggaam die Wes-Kaapse Streekraad vir Kultuursake. Van nog ’n statutêre liggaam, die Wes-Kaap Kultuurkommissie, was hy ondervoorsitter van Junie 1989 tot 2002.

Van 1977 tot 2007, nagenoeg 30 jaar lank, was hy voorsitter van die Kaapstadse Afrikaanse Kultuurraad. Hy het van 2007 tot 2010 in die FAK se hoofbestuur en direksie gedien, terwyl hy voorsitter van die FAK se Gebiedsraad Kaap die Goeie Hoop was en voorsitter van die Koördinerende FAK-Wes-Kaapse Gebiedsraad. Hy het talle termyne as voorsitter van die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod opgetree en was in 1996 stigterslid van die Eisteddfod Wes-Kaap en eerste voorsitter. Hy dien ook in die Raad van Beskermhere.

Twintig jaar lank was hy lid van die Raad op Publikasiebeheer. Ook het hy gedien as direksie- en dagbestuurslid van die Nasionale Raad van die Maatskappy vir Immigrasie (MVI) tot 31 Maart 2005. Intussen van hy agt jaar lank voorsitter van die MVI Wes-Kaap.

Van 6 Mei 2005 tot 2007 was hy direksielid van Solidariteit Gemeenskapalliansie en van 2005 tot 2007 voorsitter van Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap. Van 2006 af is hy voorsitter en bestuurder van die parkeerterrein Protea Helpende Hand Wes-Kaap. Hy is sedert 2005 lid van die Anglo-Boereoorlog Trustee (ABO-Trustee) vir die oprigting van die Monument vir die Kaapse Rebel, Laborie, Paarl. Hy was ook direksielid van Radio Kaapse Kansel (met sy ateljee in Tygerberg, Wes-Kaap). Hy was deelstyds kapelaan van die SAW by Simonstad, Youngsfield, Ysterplaat en Wingfield.

Dr. Bingle het op 22 April 1994 ’n merieteprys vir kultuurdiens van oudpres. FW de Klerk namens die Wes-Kaapse Streekraad vir Kultuursake ontvang. Op 16 September 1999 het die voormalige staatspresident Marais Viljoen ’n prys vir voortreflike diens (klas goud) namens die Maatskappy vir Immigrasie (MVI) toegeken aan dr. Bingle sowel as ds. Lafras Moolman.

Dr. Pieter en Marianne Bingle by die eerste sewe vrouediakens van GK Kaapstad.

Die FAK se nasionale prestigeprys vir het hy op 20 September 2002 ontvang van Piet Badenhorst, die FAK se nasionale voorsitter. Tien jaar later, op 4 Desember 2012 is ’n oorkonde aan hom toegeken vir 40 jaar se betrokkenheid by Hawesending Tafelbaai in Suid-Afrika en ook internasionaal. Hy het op 25 November 2014 ’n oorkonde van Radio Kansel ontvang wat oorhandig is deur die voorsitter, dr. Lawrence McCrystal, tydens ’n direksievergadering in die kantoor van Radio Kansel in Kilner Park, Pretoria.

One thought on “28 Junie 2020 | Dr. Pieter Bingle oorlede

  1. Baie sterkte vir jullie. Hy is nou by sy hemelse Vader. Ons het baie eredienste bygewoon in die Kaap.
    HEnk en Petie Askes

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s