22 Februarie 1941 | Ellie van Rooy oorlede

Geen fotobeskrywing beskikbaar nie.

Elsje Linde, ’n kleindogter van Ellie van Rooy, in lewe predikantsvrou van die Gereformeerde Kerk Ventersburg, het ’n dag ná die 80-jarige herdenking van haar ouma se dood die volgende inskrywing op Facebook gedeel.

Gister op 22 Februarie, was dit presies 80 jaar gelede wat my ouma Ellie van Rooy oorlede is. Sy was maar net 36 jaar oud en het haar man, ds Jacs van Rooy en haar drie klein kindertjies agtergelaat. My pa was nog nie 9 jaar oud nie. Oupa Jacs was ʼn ywerige dagboekskrywer en ek het die inskrywing in sy dagboek ná my ouma se dood oorgetik en deel dit graag met sy nasate.

Is dalk 'n swart-en-wit prent van 1 mens, kind, staan, baksteenmuur en buitelug
Ellie van Rooy met haar seun Koos, Elsje Linde se pa, wat later professor aan die Teologiese Skool Potchefstroom was.

SONDAG, 9 MAART 1941
En nou maak ek miskien my laaste aantekeninge in die ou dagboek, wat begin is net na die Griep in 1918.
Vandag is my vroutjie 2 weke begrawe ( op 23 Februarie). Drukte en bedwelming wat volg ná skok is verby en die pyne skiet skerp en skrynend.
Ek wil nog by die graf stilstaan, maar die lewe sleep saam. Telkens omkyk, maar die lewe gaan voort.
Woensdag, 19 Februarie, is ek na Kroonstad. Die Sondag tevore het ek gepreek oor die tyd van Christus se wederkoms. Ellie sê daar het vir haar ‘n lig opgegaan.
Maandagaand (17 Feb) na gewoonte, het sy na die Noodhulpliga gegaan. Ek het ou klere aangehad en wou 2 seuntjies, Kosie en Kareltjie, saamstuur, maar sy sê dis nie nodig nie. Sy moes langs die pad ‘n paar maal stilstaan. By oom Wilem-hulle het sy op die stoep gaan sit – hulle was uit- en wag vir die ander. Toe sukkel sy aan na die saaltjie en daar moes hulle haar help. Sy bly enduit van die lesing sit en Jannie Oosthuizen-hulle bring haar tuis.
Dinsdag (18 Feb) het sy in Huisvlyt (VLU) ‘n opgestopte sitbankie voltooi. Sy het weke aaneen vrugte ingelê. Sy was besig met tamaties toe ek weggaan. Ek groet haar by die werk; sy kom weer saam en groet my by die studeerkamer weer ‘n keer. Dit was vir laas.
Donderdagmôre (20 Feb) hou sy toesig by Ampie van Wyk (eksamentoesig). Namiddag en aand het sy nog gewerk in belang van oom Ernst Coetzee se dogter wat in die Hofmeyr-tehuis, Bloemfontein is. Donderdagaand het sy vir my ‘n brief geskryf wat ek Vrydagaand by ontvangs van mnr C.P. Venter (skoolhoof van Kroonstad) gelees het.
Vrydagmôre (21 Feb) het sy toesig gehou by Wessel Oosthuizen, die vraestelle weggestuur, asook 1 pond in belang van die Coetzee-dogter. Agnes (huishulp) sê sy moes nadat die kinders van skool gekom het, Ellie se linkerarm vryf. Van die namiddag kon ek geen verslag kry nie.
Saterdagmôre 3 uur het sy begin siek word. Adriaan Odendaal, die seun wat hier loseer, sê sy het vir Martie gestuur om hom om 6 uur wakker te maak. Agnes het vir haar koffie gebring. Ook die kinders kos gegee en omtrent 8 uur vir tant Mieta gaan roep. Tant Mieta roep dr. Vogel in wat haar ‘n inspuiting gee en tevrede weggaan. Tant Sienie, Lina en Jeanette en ook Hettie(Kritzinger) Venter het om die beurt by haar gebly. Sy het ‘n paar maal blykbaar hartseer by die venster uitgekyk. Later voel sy beter. Sy het nog gesê dis so lekker as die pyn weg is.

Kan 'n prent van 1 mens en staan wees
Ellie van Rooy.

Om ongeveer 10:15 bel ek van Kroonstad af. Lina antwoord. “Mevrou is siek. Sy het weer ‘n aanval van die hart gehad.”
Ellie vra haar om te laat weet: “Groete en moenie kom nie.”
Om 11 uur het sy saam met die ander tee gedrink. Ongeveer 12 uur het sy weer ‘n skielike aanval – hartkramp. En nie weer bygekom nie. Dokters Vogel en Immelman het albei hulle bes gedoen, maar sy is blykbaar oombliklik heen. 22-3-1941.
Ek en sy het die laaste ruk dikwels oor die dood gesels. Sy kon nie daaraan gedagte gee dat ek eerste moet gaan nie . Ons het 9 dae voor haar dood ‘n nuwe (die derde een na ons huwelik) testament weer ná maande van bespreking en raadpleging voltooi. Maar nóg ek, ja ook nóg sy (daarvan is ek oortuig) het die dood verwag. As sy wis, sou sy vir my te jammer gewees het, en vir my gesê het om te kom. Sy het my later van tyd baie aangespoor om Sondagaand as dit moontlik is, tuis te kom. Sy het sefs met die onderwyser Nienaber, wat die naweek in Kroonstad sou wees, gereël om my Sondagaand na kerk huis toe te bring.
Saterdag was ek nog besig met huisbesoek. Byna ‘n uur het die broeders na my gesoek. Ongeveer 1 uur kom ek na my tuisgaanplek. En toe kom oom Jan Pretorius en oom Jan Oosthuizen daar aan.
“Dominee, ons moet dadelik ry. Mag die Here jou help – dis verby…”
En nou my God….?
Maar die Here het gehelp. Wonderlik gehelp. Sodat ek selfs gevoel het ek moet ánder troos. Ek kom vind hier ‘n verpletterde gemeente. En een na die ander met verbryselde harte. Ek moes meer as een self in die arms neem en troos. Wonderlik is die Here; groot van daad.
Maar die helfte van my lewe is afgekap.
Sal ek vertel van ons lewe, soete lewe, byna 12 jaar in egverbintenis?
Bostaande het ek opgeteken vir my kinders en ander familielede, wat nie hier was nie. Maar verder gaan ek nou swyg. Ons twee se lewe was ons eie. Net vir ons en vir onse God, wat alles weet.
Net dit: die dood het haar gevind op ‘n hoogtepunt in haar lewe. Ons huislike lewe was so volmaak soos dit op aarde kan wees. ‘n Bloeiende gemeentlewe. In die openbare lewe, volkslewe, ook ‘n hoogtepunt. Ek dink nie net aan haar persoonlike steun vir my in die opsig nie, maar ook aan haar dienende liefde, met al die vergaderings in die pastorie, ens. ens. Ek dink ook onder andere aan haar persoonlike aandeel in Huisvlyt (VLU), Noodhulpliga, plaaslike Armesorg in samewerking met ander plaaslike liggame, ens.
Sy het heengevaar, sierlik gekroon op aarde. Maar bowenal sierlik gekroon deur haar God, wat ‘n juweel vir die aarde beskik het in haar persoon, ‘n juweel wie se waarde nou eers op duisend maniere deur almal besef word.
Ere haar nagedagtenis.
Eer aan haar Skepper bo alles, wat te pryse is….
Jacs van Rooy (1941)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s