10 Februarie

Prof_LJ_du_Plessis_as_jong_man.jpg

Prof. Wicus du Plessis toe hy student was.

10 Februarie 1897 | Prof. Wicus du Plessis op Burgersdorp gebore

 
Prof. L.J. du Plessis, ’n kleinseun van di. Dirk Postma en L.J. du Plessis, is op 1 April 1933 benoem tot hoogleraar in die staatsleer en regsgeleerdheid aan die PUK. Hierdie leerstoel het hy tot einde 1946 beklee, toe hy na Johannesburg verhuis om ‘n sakeloopbaan te volg.
 
Hoewel hy in die eerste plek akademikus was, het Du Plessis ook belangrike werk in buite-universitêre verband verrig. Hy was onder andere sekretaris van die Bybelvertalingskommissie vir wie hy vanweë sy kennis van die klassieke meer as net sekretariële dienste gelewer het.
 
Hy was ook taaladviseur vir Totius en het in ‘n groot aantal kerklike kommissies gedien, waar sy advies hoë waardering geniet het.
 
Hy het egter veral bekendheid verwerf vir die aandeel wat hy in die politieke lewe van die veertiger- tot sestigerjare geneem het. Na hom is dikwels verwys as die profeet van Potchefstroom. Hy het aktief deelgeneem aan en dikwels ‘n leidende rol gespeel in die Afrikanerpolitiek.
 
Reeds ná die Balfour-verklaring in 1926 was Du Plessis onder diegene wat met genl. J.B.M. Hertzog verskil het omdat laasgenoemde se grondwetlike beskouings oor Suid-Afrika nie meer vir ‘n soewerein onafhanklike republiek voorsiening gemaak het nie.
 
Van 1930 tot 1932 was hy voorsitter van die Afrikaner-Broederbond. Hy was stigtersdirekteur van Volkskas (op 3 April 1934) en het ’n leidende aandeel gehad in die oprigting van etlike ander Afrikaner-sakeondernemings.
 
In 1933, ná koalisie, is hy verkies tot eerste voorsitter van die Transvaalse (Gesuiwerde) Nasionale Party en het etlike jare lank ‘n leidende aandeel gehad in die uitbouing van die party in Transvaal.
 
Hy was ook Grootraadslid en beleidstudiehoof van die Ossewabrandwag en in 1941 voorsitter van die Volkseenheidskomitee wat hom dit ten doel gestel het om die breuk tussen die OB en die Nasionale Party te herstel.
 
Hoewel Du Plessis ten gunste van ‘n hereniging van al die nasionaal-sosialisties georiënteerde groepe met die Nasionale Party was, het van die poging niks tereg gekom nie.
 
Met verloop van tyd het hy ook met dr. D.F. Malan en adv. Hans Strijdom verskil oor sake soos republiekwording, die voorgestelde republikeinse grondwet en die ideologiese grondslag van die Afrikanervolk.
 
Maar dit was sy verskil net dr. H.F. Verwoerd oor dié se rassebeleid, wat hy as Blanke baasskap verwerp het, wat in 1959 tot prof. Du Plessis se skorsing uit die Nasionale Party gelei het.

10 Februarie 1887 | Klaas van Rijsse trou met Jacoba Brummelkamp

Klaas_van_Rijsse,_departement_van_openbare_werke,_ZAR

Klaas van Rijsse.

Klaas van Rijsse (1860–1941), die argitek aan wie ons die Paul Krugerkerk (GK Pretoria) en die Bosmanstraatse NG kerk te danke het, se “baie gelukkige egverbintenis” met die weduwee Jacoba Brummelkamp het op hierdie dag begin. Kort ná die troue het Klaas, Jacoba en van die kinders uit haar eerste huwelik in die geselskap van ’n aantal Nederlanders na Transvaal verhuis.

Jacoba was 16 jaar ouer as haar tweede man. Die eerste, Benjamin Brummelkamp, was ’n seun van prof. Antonie Brummelkamp van die Teologiese Skool Kampen. Daar was een van sy drie kollegas prof. Helenius de Cock, die vader van Jantina Boëseken en grootvader van dr. Anna Boëseken, geliefde geskiedskrywer en tot haar dood in 1997 toegewyde lidmaat van GK Kaapstad.

Klaas van Rijsse het sy opleiding privaat gekry by Sytze Wierda, wat ook later na die ZAR geëmigreer en onder meer die Paleis van Justisie en die Staatsmodelschool ontwerp het. Ná sy opleiding het Van Rijsse teruggekeer na sy geboortedorp, maar later opnuut Amsterdam toe gegaan om vir Wierda te werk. Terwyl hy by die weduwee Brummelkamp loseer het, het ’n liefdesverhouding tussen hulle ontstaan, wat toe uitgeloop het op die “baie gelukkige egverbintenis”.

Van Rijsse was geruime tyd skriba van GK Pretoria. Ná die uitbreek van die oorlog in Oktober 1899 het hy aangesluit by die Hollander Korps en verkies tot luitenant van die vyfde peloton. Gevolglik is hy en sy gesin in 1900 gedeporteer en in Brussel ’n skeidingspakket gegee. Van daar is hulle terug na Nederland, waar Jacoba in 1921 oorlede is en Klaas midde-in die Tweede Wêreldoorlog, maar blykbaar weens hoë ouderdom.

H.M. Rex skryf in die tydskrif Pretoriana (April 1953): Van Rijsse was “een van ‘n groot aantal Nederlanders wat deur Pretorianers steeds in dankbare herinnering gehou behoort te word. Mag die dag spoedig aanbreek dat (sy) naam aan een of ander belangrike straat, park of openbare gebou gegee sal word.” Ω


Kerkstraat, Rustenburg

Die seringboom (links) en die ou Hervormde kerk op die agtergrond.

10 Februarie 1859 | Die vooraand van die stigting van die GKSA

Wat het geword van die seringboom waaronder die Gereformeerde Kerk op hierdie en die volgende dag in 1859 op Rustenburg gestig is?

Andries Coetsee, wat GK Rustenburg se geskiedenis navors, haal br. S.W. Vercuiel as volg aan:

Op 30 September 1934 het ’n stormwind die ou seringboom omgewaai. Die stam is egter mooi bewaar deur oom Willie van Velden, die destydse eienaar van die boom en erf. Hy het die stam met sement bedek en ’n mooi gedenkplaat met paslike bewoording daarop aangebring.

Oom Willie Andersen, senior lidmaat van die gemeente was ook ’n medewerker. In Februarie 1947 het die S.A. Historiese Monumentekommissie hierdie boomstam tot historiese monument verklaar en is ’n 2de gedenkplaat ook met paslike bewoording daarop aangebring.

“In Maart 1959 tydens die eeufees van die Gereformeerde Kerk in S.A. het groot getalle feesgangers uit alle dele van S.A. sowel as oorsese lande by hierdie boomstam besoek afgelê. Onder hierdie groot getalle besoekers was ook dr. Hendrik Verwoerd en sy vrou Betsie Verwoerd , destydse eersteministerspaar van die Unie van S.A. Dr. Verwoerd was ’n spreker by die feesverrigtinge.

“Dit is dan ook die enigste kerk ter wêreld wat gestig is in die skaduwee van ’n mak seringboom. Die stigtingsvergadering in 1859 is by hierdie boom gehou omdat die kerkraad van die Nederduits Hervormde kerk geweier het om hulle kerkgebou aan die 311 “Dopper Rebelle lidmate” beskikbaar te stel, ofskoon ds. Van der Hoff van te vore goedkeuring tot die gebruik van die kerkgebou verleen het.” Ω


Seringboom, Rustenburg.jpg

Die oorspronklike seringboom op Rustenburg.

 10, 11 Februarie 1859 | Honderd-nege-en-vyftig jaar later

In 1980 het dr. Bouke Spoelstra die stigting van die Gereformeerde Kerk soos in minder as 400 saamgevat. Dit wil gedoen wees!
Oral in die Westerse Wêreld het die liberalisme en modernisme na die Franse Revolusie kerklik-godsdienstige spanninge meegebring. Vanuit die Renaissance en Griekse filosofie het die idee van die outonome mens wat met sy rede of belewing die hoogste gesag uitoefen, die absolute gesag van die Bybel, die Gereformeerde Belydenis en kerkinrigting verwerp.
Aan die Kaap plaas De Mist (1804) en die eerste Sinode (1824) die kerkgesag in die hande van die kerkvergadering. Die nuwe lewensgevoel wat op die mens toegespits is, het naas die Psalms ‘n Gesangbundel met vrye liedere in 1806 in Nederland ingevoer.
Na die Engelse oorname verplig die filantrope met Ordonnansie 50 van 1828 sosiale integrasie. In die geïsoleerde binneland het die Afrikaanse mense daagliks vir God se gesag in die Bybel, sy leiding in die natuur en hulle lewes, die Heidelbergse Kategismus en gereformeerde preekboeke uit die 17de en 18de eeu gebruik.
Teen 1833 kom die eerste verset teen nuwighede in die gemeente Cradock na vore. Vanaf 1834 trek sommige van die beswaardes na die binneland. Ander weier om Gesange te sing. Hulle word veroordeel en implisiet die Nagmaal onwaardig verklaar.
Op Colesberg is individue hieroor onder sensuur geplaas. J. J. Venter, vise-president van die OVS, bedank as lidmaat van die NG Kerk en gee al sy besittings as waarborg vir die onderhoud van ‘n eie predikant.
‘n Blanko-beroepsbrief na Nederland het geen gevolg nie. In Transvaal erken die Uitvoerende Raad teen 1858 al ‘n afsonderlike gemeente binne die Hervormde Staatskerk op Rustenburg.

Kragtens die Grondwet moes die kerkvergadering op 11 Januarie 1859 bepaal of sy oortuigings met dié van die Sinode van Dordrecht 1618/’19 ooreenkom. Die vergadering het egter verder gegaan en ook die sing van Gesange verpligtend gemaak, terwyl ds. D. Postma dit aan die vryheid van die predikante wou oorlaat.

As gevolg daarvan het meer as 300 mense, onder wie leiers soos Paul Kruger, hulle op 11 Februarie 1859 as lidmate van die Gereformeerde Kerk in die Suid-Afrikaanse Republiek op Rustenburg laat inskryf.

Ds. D. Postma het hulle beroep aanvaar. J.J. Venter was teenwoordig en het Postma na die OVS geneem om ook daar ‘n kerk te stig. Eers die volgende jaar het Postma toegegee en in die Kaapkolonie drie gemeentes gestig.

Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het die leer, liturgie en kerkregering van die Dordtse Sinode van 1618/’19 as grondslag aanvaar. Ω


Wicus_du_Plessis.jpg

Prof. Wicus du Plessis.

10 Februarie 1897 | Prof. Wicus du Plessis op Burgersdorp gebore

Prof. Lodewicus Johannes du Plessis (oorlede op Potchefstroom, 19 Februarie 1968) was ‘n akademikus, regsgeleerde, ekonoom en politieke denker. Hy was ’n agterkleinseun I.D. en Hester du Plessis, stigters van die Gereformeerde kerk Colesberg, ’n kleinseun van ds. L.J. du Plessis sowel as ds. Dirk Postma, en ’n seun van prof. J.A. du Plessis van die Teologiese Skool.

Du Plessis was bekend vir sy “soepel” Calvinisme, met ander woordd ’n Calvinisme wat oop is vir die intellektuele bydrae van nie-Christelike denkers soos Karl Marx en Charles Darwin.

Hy is in ‘n stadium beskou as die logiese opvolger van dr. D.F. Malan as eerste minister van Suid-Afrika, maar sy destyds verligte politieke denke het hom in stryd gebring met adv. Hans Strijdom en dr. Hendrik Verwoerd, en is hy mettertyd gemarginaliseer. Na hom is dikwels verwys as “die profeet van Potchefstroom”, want sy sienings was sy tyd vooruit.

Sy botsings met dr. Verwoerd wat hom ‘n erg omstrede figuur in die politiek gemaak en eindelik daartoe gelei dat hy in 1959 uit die Nasionale Party geskors is.

Twee hoofsake kan uitgesonder word as die kern van die konflik tussen Du Plessis en dr. Verwoerd. Die eerste was dr. Verwoerd se rassebeleid en die tweede sy en ander Afrikanerleiers se opvatting van Afrikanerskap.

Du Plessis het Verwoerd se rassebeleid as ‘n beleid van Blanke baasskap beskou en dit op prinsipiële en praktiese gronde verwerp. Vir hom was dit niks anders as imperialisme nie en daarom die hoofrede vir Suid-Afrika se wêreldverstotenheid.

Hierdie “imperialistiese verhouding” tot gekleurde Suid-Afrikaners wou hy vervang met ‘n “multinasionale federalisme”, dit wil sê volle nasionale onafhanklikheid vir die swart volke, wat saam met Suidwes-Afrika en die Britse Protektorate op ‘n federale grondslag by die destydse Unie ingeskakel moes word.

Die Kleurlinge en Indiërs wat nie so selfbeskikking kon kry nie, moes op ‘n basis van gelykheid by die Suid-Afrikaanse nasie ingeskakel word. Volgens hom was die destydse politieke leiers nie bereid om hierdie veranderinge aan te bring nie omdat hulle ‘n te eng Afrikaner-uitkyk op die Suid-Afrikaanse politiek gehad het.

Teenoor ‘n eksklusiewe Afrikanerdom wat sy greep op Suid-Afrika probeer behou het deur die ander bevolkingsgroepe, veral wat die landsbestuur betref, uit te sluit, was Du Plessis ten gunste van ‘n “verruiming van die nasiebesef” deur die insluiting van sowel die Engelssprekendes as die gekleurde bevolkingsgroepe wat ‘n Suid-Afrikaanse patriotisme aanvaar het.

Hy het gevolglik die destydse Nasionale Party-bewind as te seksioneel en te eksklusief Afrikaans beskou om die bestuursfunksie in daardie bepaalde omstandighede behoorlik te kon vervul.

Hy het gepleit vir die instelling van ‘n “ware nasionale regering”, dit wil sê ‘n regering waarin al die rassegroepe verteenwoordig sou wees en het selfs die struktuur vir so ‘n regering, wat uit die aard van die saak federaal sou wees, voorgestel.

Dat Du Plessis oor buitengewone verstandelike gawes beskik het, val nie te betwyfel nie. Sy politieke denke van die vyftiger- en sestigerjare was sy tyd ver vooruit. Dit was nie aan ‘n partypolitieke denkpatroon gebonde nie, maar het berus op sy eie vertolking van die geskiedenis en van die beginsels van die Calvinisme.

Vir die politieke en kultuurleiers van sy tyd was hierdie denkbeelde egter onaanneemlik. Ω

Lewer kommentaar