14 Desember

Prop AJR Vermeulen.jpg

14 Desember 1998 | Ds. A.J.R. Vermeulen is op hierdie dag oorlede. Sy gemeentes was agtereenvolgens Swartruggens 1957–1964, Outjo 1964–1969, Delareyville 1969–1974 en Eendracht 1974–1987.

 

 

 

 

 

 

 


Dr_Casparus_de_Wet_en_gesin_op_Steynsburg.jpg
Dr. en mev. De Wet en hul kinders op Steynsburg.

14 Desember 1914 | Dr. C.J.H. de Wet trou met Maria Malan

Maria Magdalena de Wet (gebore Wentzel) was tussen 1917 en 1925 predikantsvrou in twee Gereformeerde kerke, waarna haar man tot sy bedanking in 1946 hoogleraar aan die Teologiese Skool Potchefstroom was.

Maria Wentzel, van Boshof in die Vrystaat, se moeder het die hele Tweede Vryheidsoorlog deur saam met die kinders gevlug met ’n ossewa en is eers kort voor die vredesluiting gevang.

Maria was ‘n weduwee Wessels met een seuntjie uit haar eerste huwelik toe sy en ds. (later dr.) C.J.H. de Wet tydens sy studiejare op hierdie dag trou. Haar broers was Lodewyk en Jannie Wentzel, agtereenvolgens Volksraadslid vir Christiana.

Haar man wou eers vir predikant in die NG Kerk studeer, maar het hom in 1912 laat inskryf as student aan die Gereformeerde Kerk se Teologiese. Uit hul huwelik is vir haar moontlik nog vier seuns en ’n dogter gebore, hoewel bronne verskil.

Dit is wel bekend dr. De Wet is in 1956 oorleef deur drie seuns, onder wie uit sy eerste huwelik prof. J.M. de Wet, rektor van die Universiteit van Fort Hare en vroeër professor in wiskundige statistiek aan die PU vir CHO.

Nog ’n seun uit sy eerste huwelik was prof. C.L. de Wet, hoogleraar in wiskunde aan Tukkies en vroeër aan die Militêre Akademie op Saldanha.

Ná Maria de Wet se dood is haar man getroud met mej. A.S.M. Erasmus, onderwyseres en leidster van die Christelike Studentevereniging, wat hom oorleef het.

Die De Wets het tot 1915 op Potchefstroom gewoon terwyl hy sy teologiese opleiding deurloop het. As proponent is hy na Steynsburg beroep waar hy in 1916 in die amp bevestig is en die opvolger was van die ontslape ds. P.C. Snyman.

In 1923 het die gesin na die Vrystaatse hoofstad verhuis nadat dr. De Wet die beroep na Bloemfontein aangeneem het. Reeds in 1925 verhuis die gesin weer, dié keer na Potchefstroom nadat dr. De Wet benoem is tot professor aan die Teologiese Skool.

Mev. De Wet het studente altyd baie gasvry ontvang en menige gesellige aand is deur studente aan die De Wets se huis deurgebring. Haar man het aangebly as professor tot hy in 1946 weens ‘n leergeding teen hom sy bedanking ingedien het as professor asook as lidmaat van die Gereformeerde Kerk.

Maria de Wet het haar laaste agt lewensjare aan suikersiekte gely, waaraan sy ook op betreklik jong leeftyd oorlede is, naamlik 54 jaar. Ω


14  Desember 1935 |Dr. Albie Helberg gebore

Abie_Helberg_as_finalejaarstudent_aan_die_Teologiese_Skool_Potchefstroom,_1959.jpg
Ds. Abie Helberg.

“Sy bedieningstyl was dié van ‘n goeie herder: sorgsaam, vriendelik, luisterend. Hy het besondere erns met die jeug gemaak, en goeie kategese was sy wagwoord,” skryf prof. J.H. van Wyk in dr. A.N.Helberg se lewenskets in die GKSA se Almanak vir 2011.

“Hy sal veral onthou word vir sy treffende preekstyl en boeiende voordrag – hy kon ‘n gemeente van begin tot einde boei (wanneer) hy aan hulle die evangelie van God se genade in Jesus Christus uitgelê het.”

Sonder om nadere besonderhede te verstrek, skryf prof. Van Wyk: “Abie het ook die spanning en druk wat die bediening meebring, aan eie lyf ervaar, die gebrokenheid, die gevallenheid en die hartseer daarvan.

“Hy het by die oop graf van sy seun Jan-Dirk moes staan (1995), ook by dié van sy vrou, Idelette. Hy moes die hartseer verwerk om vir ‘n tyd uit die bediening te wees, maar hy kon ook die vreugde smaak om weer na die bediening terug te keer van God.”

Abraham Nicolas is op hierdie dag in die distrik Nylstroom, Transvaal, gebore en was tussen 1960 en 2000, met ’n vyfjarige onderbreking van 1990 tot 1995, predikant in sewe Gereformeerde kerke of kombinasies, waarvan die eerste vyf gemeentes in die destydse Transvaal en die laaste twee kombinasies in eers die Oos-Kaap en toe die Noord-Kaap.

Albie Helberg het reeds op skool geroepe gevoel om predikant te word, waarna hy na Potchefstroom toe is om sy driejarige B.A.-studie van 1953 tot 1955 aan die PU vir CHO te voltooi en sy vierjarige teologiese studie (Th.B.) van 1956 tot 1959 aan die Teologiese Skool van die GKSA.

Tydens sy teologiese studie het hy ook ‘n honneursgraad in filosofie verwerf. Hy was aktief betrokke by die studentelewe, en het twee jaar (1958–’59) in die studenteraad gedien, waarvan die laaste jaar as ondervoorsitter. Die studenteraad van 1958 het ’n staatspresident (FW de Klerk), drie ministers, sewe predikante, drie professore, drie doktore en drie uitsonderlike vroue opgelewer.

Nadat hy afgestudeer het, het hy altesaam 10 gemeentes (vyf afsonderlik en vyf in twee kombinasies) bedien: Wolmaransstad 1960–1962, Zeerust 1962–1966, Daspoort 1966–1974, Linden 1974–1981, Meyerspark 1981–1990, Dordrecht/Jamestown/Molteno 1995–1998 en Colesberg/Philipstown 1998–2000.

Albie Helberg is in 1960 is met Idelette Bosman getroud. Uit hul huwelik is vier kinders gebore. Die seuns is Braam, Jan-Dirk en Philip, en die dogter Ida. Idelette, ’n kleindogter van prof. J.A. du Plessis, was goed bekend met die pastorielewe.

Prof. Van Wyk skryf sy het haar man “pragtig aangevul ook in haar leiding ten opsigte van die susters”. Ná haar afsterwe in 1998 is dr. Helberg in 2002 met Sonia getroud.

Prof. Van Wyk skryf oor sy afsterwe: “Dit was ‘n besondere beskikking van die Here dat sy kinders, wat tans (2011) almal in die buiteland woon, tydens sy laaste oomblikke in die Unitas-hospitaal by hom kon wees en van hom kon afskeid neem.

“Eintlik moet ek sê: dat hulle daar kon wees met sy nuwe begin. Want in Christus kry die dood ‘n ander karakter, en is dit nie die einde nie, maar ‘n nuwe begin.”


Ds_GBC_Bester_saam_met_Anita,_Alrina_en_Bone.jpg
Ds. Bester sy en sy gesin: Joné, Anita en Alrina.

14 Desember 2002 | Ds. Gert Bester oorlede

“’n Groot stem het stil geraak,” het ds. Theuns de Klerk in ds. Gert Bester se lewensberig in die Almanak vir 2007 geskryf. “In nederigheid en in ootmoed was hy getrou aan sy roeping as VDM – bedienaar van die Goddelike Woord.”

Ds. De Klerk skryf: “Ds. Gert het nooit erkenning gesoek nie, maar in nederigheid altyd gedien, tot op die end.”

Ds. Gert het alles vir die bediening gegee: Sy prediking was suiwer, kort, kragtig en diep treffend. Wat huisbesoek, betref, het hy die skape opgepas, versorg en met simpatieke omgee elkeen begelei.

In sy kategese het hy op besonderse wyse die kinders – klein en groot – vir die lewe toegerus. Sy uitsonderlike kennis van kerkreg het hom op vergadering ’n groot rol laat speel in kerklike vergaderings.

Wat die gemeenskap betref, het sy betrokkenheid en meelewing met alle mense meegebring dat hy ’n besonderse rol in die gemeenskap gespeel het. Talle van sy gemeentelede het hom vir sy welluidende stem onthou.

Gert Barend Cornelius Bester (gebore in die distrik Louis Trichardt, 14 Julie 1932) was tussen 1959 en sy emeritaat in 1991 predikant in sewe Gereformeerde kerk, waarvan een in die destydse Rhodesië, een in die Vrystaat, twee in Natal en drie in Transvaal.

Hy het die onderskeiding dat hy in die Gereformeerde Kerk se byna 160-jarige bestaan steeds die enigste Bester-predikant was.

Ná sy laerskooldae is hy na die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal, waar hy in 1951 gematrikuleer het. Ds. L.S. Kruger, wat later jare sy mentor en vriend sou wees, het hom geïnspireer om vir predikant te leer.

Hoewel Bester in die Nederduitsch Hervormde Kerk grootgeword het, was dit die Gereformeerde Kerk wat hom ‘n beurs gegee en dit vir hom moontlik gemaak het om vir predikant te leer.

Hy voltooi dan ook sy studie aan die Teologiese Skool Potchefstroom in 1958. Uit sy huwelik omstreeks dié tyd met Anita Brits (oorlede 11 Desember 2013) is twee dogters gebore, Alrina en Joné.

In ds. Bester se 28 jaar in die bediening is hy 42 maal beroep. Dit verklaar moontlik waarom hy gemiddeld net vier jaar in ’n gemeente gebly het.

Ds. Bester was 25 jaar lank direkteur van die Maatskappy vir Europese Immigrasie. Vir hierdie diens het hy ’n goue penning ontvang. Hy was lid van die Kuratorium van die Teologiese Skool Potchefstroom en het etlike jare lank in die raad van die Gereformeerde Stigting gedien. Ook was hy lid van verskeie skole se beheerliggaam. Ω

Advertisements

13 Desember

NG_kerk_Ventersburg,_Francois_van_der_Merwe.jpg
Die NG kerk Ventersburg. (FOTO: François van der Merwe.)

13 Desember 1890 | Die NG gemeente Ventersburg gestig

Die Gereformeerde kerk Ventersburg is in 1864 gestig. Eers 26 jaar later het die NG gemeente Ventersburg van die moedergemeentes Winburg en Kroonstad afgestig.

Nog dorpe waar die Gereformeerde kerk voor die NG gemeente gestig is, is onder meer Petrusburg, Philipstown, Barkly-Oos, Reddersburg, Steynsburg en Postmasburg.

In al dié gevalle het die plaaslike NG gemeente weldra wat getalsterkte betref, die plaaslike Gereformeerde kerk verbygesteek. Net die Gereformeerde kerk Venterstad, die oudste op die dorp, is ook die grootste. Ω


13 Desember 1958 | Hoeksteen van Brandfort se kerk gelê

Die dorp en distrik Brandfort was tot 1951 ’n enkele wyk van die Gereformeerde kerk Bloemfontein. Destyds het die Bloemfonteinse Metodistegemeente hul kerkgebou op Brandfort aan die Gereformeerdes beskikbaargestel met dien verstande dat die Gereformeerdes die gebou in stand sou hou. Aanvanklik is een erediens per maand gehou.

Mettertyd het die lidmate toegeneem en so het die gedagte van kerkbou posgevat. In Julie 1958 het bouwerk aan die kerksaal begin waarvan ds. P.J. Coetzee die hoeksteen op hierdie dag gelê het.

In 1963 is die gemeentegrense in die Vrystaatse hoofstad verander en het Brandfort deel geword van Bloemfontein-Noord (gestig in 1961). Tog was daar steeds by die Gereformeerdes van Brandfort die drang na selfstandigheid en toe reeds het die ampsdraers in die vier Brandfortse wyke hul eie sake behartig en dan verslag gedoen.

Eindelik, in Mei 1972, is ’n eie gemeente gestig met 64 belydende en 36 dooplidmate. Die nuwe gemeente het as bruidskat die eiendom van Bloemfontein-Noord op Brandfort ontvang. Intussen het die belydende lidmate afgeneem tot 12 en die dooplidmate tot geen. Ω


13 Desember 1920 | Die beeldhouer Laurika Postma se vader sterf

Laurika_Postma.jpg
Laurika Postma.

Terwyl Laurika Postma in Bloemfontein in matriek was, sterf haar vader, ds. Willem Postma, onverwags op hierdie dag en moes sy die skool verlaat.

 

Sy het gaan werk as tikster in die destydse Grey-universiteitskollege. Agttien lang jare het sy stil voortgewerk, en die menigte studente was onbewus van die brandende begeerte om haar aan haar kuns te wy, wat haar elke beskikbare pennie laat spaar en menige jongmeisieplesier laat verontagsaam het.

Sy het aandklasse geneem in teken en skilder, en pryse gewen op kunswedstryde, maar soms was sy haar leermeesters vooruit, en het sy gevoel dat sy niks verder kom nie.

Uit die karige inkomste kon sy eindelik genoeg spaar om in 1935 ‘n jaar verlof te neem en vir ’n jaar oorsee te vertrek vir studie. By Milly Steger, ’n Duitse beeldhouer in Berlyn, moes Postma tot haar verrassing en ontnugtering verneem dat sy duidelik talent wys as beeldhoudster.

Dadelik het sy daarmee begin en nooit weer teruggekyk na die skilderkuns nie, want sy het gevind dit is die medium waarin sy haar kon uitleef. In dié kort jaar van harde werk, waarin sy soveel moontlik rondgegaan het om alles te verwerk en in te drink, het sy ook in München les geneem by Ernst Balz en het vinnig gevorder.

Die jaar en die geld het ten einde geloop en moes sy terug na Bloemfontein en haar tikwerk. Maar nou begin sy privaat opdragte kry, byvoorbeeld ‘n borsbeeld van ds. J.D. Kestell vir die NG Kerk in die OVS.

In 1939 kon sy Postma eindelik met kantoorwerk breek toe sy haar pensioen trek en haar voltyds op haar beeldhouwerk toespits. Ω


Die_Gereformeerde_kerk_Bethulie_se_kerkraad_met_die_bevestiging_van_ds_JA_van_Rooy_in_1905.jpg
Ds. Koos van Rooye (naasregs voor) met sy bevestiging in Bethulie in 1905.

13 Desember 1918 | Die Spaanse Griep in die gemeente Bethulie

Tydens ds. Koos van Rooy se bediening in die Gereformeerde kerk Bethulie het die gebeurtenis wat bekendstaan as “Swart Oktober” plaasgevind, die Spaanse Griep wat soos ‘n veldbrand oor Suid-Afrika versprei en mense in hul duisendtalle afgemaai het, onder andere ook minstens vyf predikante van die NG Kerk, maar geeneen van die Gereformeerde Kerk nie.

Ook die gemeente Bethulie is nie gespaar nie en in tientalle huise het die gevreesde epidemie sy verskyning gemaak. In daardie tyd toe die Spaanse Griep op sy hewigste gewoed het, is die kerklike lewe heeltemal ontwrig.

So het die voorsitter op die kerkraadsvergadering van hierdie dag daarop gewys die Nagmaal in Oktober kon nie deurgaan nie, maar moes afgestel word.

Op 26 Januarie 1919 is aan die gemeente die afsterwe van die volgende gemeentelede bekendgemaak weens die Spaanse Griep: Hermanus Kruger, Johannes Kruger Andries Kruger sr., Gert Britz en Helena de Klerk, Dirk Coetzee Pieter Aucamp, Johannes van der Walt, Stephanus van der Walt, Christiaan Venter, Levina Venter en Maria Venter.

Die Spaanse Griep het nie net veel droefheid veroorsaak nie, maar baie ontberings en nood teweeggebring. Alles het feitlik tot stilstand gekom en in baie huise het gebrek geheers.

Die kerkraad en diakonie het gedoen wat hulle kon, en oral ‘n helpende hand gereik, maar die geld wat beskikbaar was, was ontoereikend. In dié noodtoestand het ‘n gedagte aan ‘n permanente fonds vir die Armkas by ds. Van Rooy opgekom.

Ná die Griep het hy ook self in die gemeente rondgegaan en gekollekteer vir so ‘n fonds sodat, as so ‘n ramp weer die gemeente sou tref, daar genoegsaam middele sou wees om die nood te lenig.

Nie baie jare later nie, met die Groot Depressie, het die fonds sy waarde bewys. Daar was geen werk te vind nie en talle lidmate moes deur die diakonie gehelp word. Dié fonds is met die jare uitgebou en het in die gemeente se eeufeesjaar, 1963, die R3 000-merk bereik. Ω


Gereformeerde_kerk_Johannesburg-Wes.jpg
Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes, Putneyweg, Brixton.

13 Desember 1930 | Die Gereformeerde kerk Johannesburg-Wes gestig

Johannesburg-Wes het op hierdie dag van Johannesburg afgestig, nadat Johannesburg-Oos en -Noord reeds ses jaar vantevore gestig is.

Die gemeente Johannesburg-Wes het sy kerkgebou 1 km wes van die Hertzog- of Brixtontoring opgerig in Putneyweg, Brixton, op ’n rif wat as hoofwaterskeiding dien. Noord daarvan vloei die riviere oos en suid vloei hulle wes.

So was die kerkgebou soos ’n kerk op ’n berg vir die omliggende voorstede van Brixton, Auckland Park, Rossmore, Westdene, Mayfair-Wes, Crosby en Hurst Hill, waar mettertyd so ’n groot konsentrasie Afrikaanssprekendes gewoon het dat feitlik elkeen van dié voorstede ’n NG gemeente kon onderhou.

Die voorstede Langlaagte, Mayfair en Cottesloe (Vrededorp) het in Maart 1952 deel geword van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Sentraal, terwyl ’n gedeelte van Auckland Park saam met Melville deel was van Johannesburg-Noord.

Op 1 April 1943 is die grense tussen Johannesburg en Johannesburg-Wes opgehef, toe die gemeente Johannesburg-Wes geword het. Op 22 Oktober 1950 is Johannesburg herstig en het dit vanaf 1952 bekendgestaan as Johannesburg-Mayfair.

Teen 1970 het daar nog so baie Afrikaanssprekendes in dié gebied wes van die Johannesburgse middestad en oos van Roodepoort gewoon, daar is beweer dis die digste sametrekking van Afrikaners in die hele land.

Ongelukkig het hier ook een van die mees ingrypende demografiese veranderings plaasgevind wat gelei het tot die vermindering van sewe NG gemeentes tot net een, die Brixton-kerk, en die ontbinding van die enigste twee Gereformeerde kerke.

In 1999, toe net sowat 100 lidmate oorgebly het, het Johannesburg-Wes met Delarey as Bergbron saamgesmelt. Johannesburg-Wes se kerkgebou is intussen in ’n woonhuis omskep. Ω


Ds_W_Postma
Ds. Willem Postma.

13 Desember 1920 | Ds. Willem Postma oorlede

Ds. Willem Postma (Burgersdorp, 15 Maart 1874 – Reddersburg, 13 Desember 1920) was ‘n predikant in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en, onder die skuilnaam Dr. O’Kulis, ‘n Afrikaanse baanbrekerskrywer.

By sy dood het Totius ds. Willem Postma (gebore 15 Maart 1874 as ds. Dirk Postma ase jongste seun) as ‘n “heldeverskyning” en nie maar net ‘n merkwaardige figuur nie beskryf.

Sy boesemvriend, ds. J.D. Kestell, het onder meer gewys op Postma se ywer vir Christelik-nasionale onderwys en hom bestempel as “een zeldzaam verschijnsel in onze tijd van wikken en wegen”, ‘n gawe van God aan die Gereformeerde Kerk maar ook aan Suid-Afrika.

P.J. Nienaber, van wie in 1950 die enigste biografie van ds. Postma verskyn het, skryf ds. Postma moes die stryd in sy eie huis alleen stry, net soos hy die stryd vir sy volk in die beginjare in Bloemfontein alleen moes stry.

“Moeder en kinders het nooit geweet wat vader deurmaak nie. Nie na haar nie, maar na hom moes die kinders met hul moeilikheidjies kom.

“Hy kon die ernstigste gesprek met iemand voer, maar as die kindertjies verbykom, word die gesprek onderbreek om eers ‘n woordjie of twee met hulle te wissel – gewoonlik ‘n grappie.

“’Sal ons ooit die lang nagte vergeet,’ skryf sy seun Calman, ‘toe hy, na ‘n dag van kommer en sorg, selfs persoonlike lyding, by ons bedjie gewaak het as ons siek was. Hy kon pragtig sing, en dan word ons gewoonlik aan die slaap gesing.

“‘Later, toe ons groter geword het, het ons dikwels onsself afgevra: Het Vader gesing net om ons te kalmeer en te troos, of het hy ook gesing om uiting te gee aan sy eie leed en lyding?

“Sy gesang het altyd iets meer in gehad as bloot om ‘n neulerige kind uit die pad te kry. Saans om die tafel is gereeld godsdiens gehou: elke kind moes ‘n stukkie uit die Bybel lees, dan word saam ‘n paar Psalms gesing – en Vader het altyd bo al die kinders uit gesing.

“En hoe moeiliker die dag vir hom was en hoe sieker hy gevoel het, hoe meer Psalms moes gesing word, en hoe inniger en pragtiger het sy stem geklink.

“‘Dikwels moes ons ons na die ete om die klavier skaar om nog tot so negeuur gewyde liedere te sing – hy het dan op die klavier begelei. Daar was ook altyd ‘n harmonium in die huis en soggens vroeg (hy het met baie min slaap klaargekom) hoor ons maar weer die heerlike stem van Vader daar in die eetkamer by die harmonium.

“Sang was die enigste wyse waarop hy ooit aan ander sy gevoel openbaar het – nie doelbewus nie, maar hy het homself dit tog gegun om in sang en musiek geen masker oor sy gevoel te trek nie.” Ω


 

12 Desember

Gereformeerde_kerk_Magalakwin_GGSA.jpg
Die Gereformeerde kerk Magalakwin.

12 Desember 1931 | Hoeksteen van Magalakwin se kerk gelê

In 1930 het ene Cornelia Grobler van die Hervormde Kerk 2 morg grond op Alldays aan die wyk Brakrivier van die Gereformeerde kerk Pietersburg geskenk. Dié wyk het later deel geword van Louis Trichardt en in 1945 afgestig as Magalakwin.

Reeds aan die begin van die dertigerjare het lidmate self aan die werk gespring en hul eie kerk gebou. Die hoeksteen is op hierdie dag gelê en die gebou is ingewy op 2 April 1932.

Omdat ’n voordeur weens ’n tekort aan geld nog gekort het, is die ingang aanvanklik met doringtakke toegemaak. Later is genoeg geld ingesamel om ’n deur aan te bring.

Dié kerk bied glo sitplek aan 200 kerkgangers, maar dié bewering is nog nooit getoets nie omdat Magalakwin in sy hele bestaan nog nooit so baie lidmate gehad het nie, want selfs in die bloeitydperk omstreeks 1960 was hier maar 66 belydende en 57 dooplidmate.

Dié gebou, wat jare gelede tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, is hoogs doelmatig, maar moes met die jare meermale opgeknap word weens die rousteen-samestelling.

’n Ruim saal, wat eers net ’n afdak agter die kerkgebou was, is later voltooi. Dit het eers vroeg in die 21ste eeu ’n plafon gekry en dit is hier waar lidmate Sondae bymekaarkom om gesellig te kuier.

Deesdae het Magalakwin ’n sieletal van sowat 100. Ω


Ds_en_mev_PJ_Venter_en_Anna
Ds. en mev. Venter en hul eersteling, Anna Pasch.

12 Desember 1913 | Ds. Peet Venter op Pietersburg gebore

Ds. Petrus Johannes Venter (oorlede op 1 Desember 1994) was tussen 1942 en 1979 predikant in ses Gereformeerde kerk, waarvan vyf in die destydse Transvaal en een in Suid-Rhodesië.

Ds. Venter se eerste vrou, Babie Pasch, ‘n dogter van ds. Hendrikus Pasch, het hom in 1952 ontval. Met die twee kinders, Anna Pasch (3) en Hendrik (amper 1), het die wewenaar ‘n tyd lank self gesien kom klaar.

Toe is hy getroud met Hanna Janse van Rensburg (‘n nooi Venter), wat die pastorie verryk het met ‘n spannetjie van ses van haar eie kinders. Hulle sou eindelik ‘n huwelik van oor die 25 jaar hê.

Ná haar oorlye aan die begin van die tagtigerjare was hy weer alleen, nou op sy oudag, maar vir ‘n tweede maal sou hy met ‘n nooi Venter trou, dié keer met Lena Wissing. Volgens oorlewering het hy gesê: “As dit maar vyf goeie jare kan wees.” Dit het 11 geword. Ω


 

Prof_Jan_Kamp.jpg
Prof. Jan Kamp.

12 Desember 1862 | Prof. Jan Kamp in Enschede, Nederland, gebore

Prof. Jan Kamp was ’n skrywer, literêre kritikus en hoogleraar aan die Potchefstroomse Universiteitskollege vir CHO. As innige gelowige en stoere Calvinis het hy vaste koers en rigting aangedui, en op sy studente het hy ‘n blywende invloed gehad; hy kon meedeel en inspireer en het hoofde en harte gevorm.

As onderwysman was hy ’n vurige vegter vir CNO en onder die Afrikaners wat in die openbare pers die pen hanteer het, het hy ‘n vername plek ingeneem. Prof. Kamp was jare lank een van die ywerigste en hardwerkendste lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns en is in Februarie 1922 as lid van die Raad gekies waarin hy altyd ‘n toring van krag was.

Uit sy huwelik in 1899 met Margo M.E. Herman (1871 1943), wat ook in 1897 na Suid-Afrika gekom en daarna skoolgehou het op Bethlehem, is drie seuns en een dogter gebore. Sy eggenote was ‘n natuurgeneser en die skryfster van Hoe om gesond te word en gesond te bly.

Een seun, Willem C.W. Kamp (1903–1941), was ook ‘n skrywer en hy gee in Pretoria uit: Matteo en Leonardo (1933); Delwerye in die ou dae (‘n verwerking van ‘n dagboek); Twee eenakters (1935); Vergete helde (1935); Vrugbare aarde en ander verhale (1936); en Die visboot (1938). Ω


Ds_en_mev_PJ_de_Klerk_en_Petrus.jpg
Ds. Petra de Klerk, sy vrou, H.M. van Andel, en seun, Petrus.

12 Desember 1902 | Ds. Petra de Klerk aanskou die lewenslig

Ds. Petrus Jacobus is op hierdie dag op die plaas Kraaifontein, distrik Bethulie, in die Oranjerivierkolonie gebore en oorlede op 20 Maart 1990. Hy was predikant in drie Gereformeerde kerke.

Petra de Klerk het sy opleiding aan die Potchefstroom Gimnasium, die Potchefstroomse Universiteitskollege en die Teologiese Skool Potchefstroom ontvang.

In April 1930 is hy bevestig as predikant van Pietersburg (in kombinasie), maar neem in 1941 ’n beroep aan na die kombinasie Vereeniging-Alberton, waar hy sou bly tot hy in 1945 na die Gereformeerde kerk Durban gaan en daar arbei tot hy sy emeritaat in 1968 aanvaar.

Ds. De Klerk het 23 jaar lank – meer as die helfte van die tydperk van sy ampsbediening – in Durban gedien. In dié tyd het hy onvermoeide ywer aan die dag gelê, nie slegs in belang van sy gemeente en die ander Natalse Gereformeerdes nie, maar ook in dié van alle Afrikaners in Natal.

En in al die jare het sy vrou, ’n toonbeeld van selfopoffering en mensliewendheid, hom getrou bygestaan. Die oorlog was reeds verby, en die lidmate se salarisse is van toe af periodiek verhoog sodat hulle betreklik welvarend begin word het.

Boonop is die gemeente se geledere gestadig versterk deur die aankoms van staatsamptenare, onderwysers en ander beroepslui, en werknemers in die sakewêreld.

Onder hierdie steeds gunstiger wordende omstandighede wat sowel die getalsterkte as die finansiële vermoëns van die lidmate betref, en onder ds. De Klerk se doelgerigte leiding het die gemeente ‘n tydperk van pragtige groei en bloei belewe: ‘n stuk of sewe persele in en om Durban en aan die Noord- en Suidkus van Natal is vir kerkdoeleindes aangekoop, en twee maal is tot afstigting van gedeeltes van die gemeente oorgegaan. Ook het Durban ’n sendende gemeente geword.

Ds. De Klerk was lid van die deputaatskappe sinodale sending, Eeufeesbedieningsfonds en CNO. Van 1953 tot 1958 was hy kurator van die Teologiese Skool. Ω


1947 Professore & studente Teologiese SKool van die GKSA 208.jpg
Op dié gedeelte van ‘n foto van Potchefstroomse teologiese professore en studente van 1947 staan Hendrik-Jan Boshoff naaslinks agter.

12 Desember 1922 | Ds. H.J. Boshoff gebore

“Hy het sy roeping, reeds as student, met alle erns bejeën, en saam met Baba, sy eggenote, het hulle vrugbare diens gelewer in die verskillende gemeentes waar hulle opgetree het,” skryf ds. Louis Botha van ds. Hendrik-Jan Boshoff in sy lewensberig in die Almanak van 1991. “Hy was ’n harde werker, en kon hom so met oorgawe toelê op die dinge wat vir hom eerste moes kom.”

Ds. Boshoff was tussen 1949 en 1985 predikant in vier Gereformeerde kombinasies of gemeentes en in een sendingwerkkring. Hy was skaars ’n jaar in sy eerste gemeente, Piet Retief, toe hy ’n beroep aanvaar na Philipstown.

Twee jaar later vertrek hy na Petrusburg in die Oranje-Vrystaat en bly daar tot 1955, toe hy die beroep aanneem na Bergsig in Pretoria, waar hy die eerste leraar was.

Dié keer bly hy 12 jaar, want in 1967 aanvaar hy ’n beroep as sendeling van die Laeveld-kombinasie. Sy laaste werkkring was die kombinasie Theunissen/Brandfort, van 1975 tot hy sy emeritaat 10 jaar later in 1985 aanvaar het.

Hierna het hy en sy vrou, Baba, hulle op Heidelberg, Tvl., gaan vestig, maar hy is net ’n kort aftrede van nagenoeg vyf jaar gegun.

Hy en sy vrou was op verskeie terreine aktief. Sy vrou, wat ’n doktorsgraad in opvoedkunde gehad het, het weer begin skoolhou. Ds. Boshoff het nog dikwels die Woord in ander gemeentes gaan bedien.

In 1989 het hulle na Pretoria verhuis. Sy laaste Woordbediening was in gemeente Wonderboom-Suid. Ná die aanddiens het hy vir sy vrou gesê hy voel moeg. Nadat hulle tuisgekom het, het hy ’n ernstige beroerteaanval gehad. Hy is in die hospitaal opgeneem en is die Woensdag oorlede. Ω


Dr_en_mev_D_Kempff
Ds. Dion Kempff en sy vrou, Esthet du Plessis.

12 Desember 2000 | Dr. Dion Kempff oorlede

“Hy het respek afgedwing sonder om meerderwaardig te wees, reguit maar sonder venyn, altyd gereed met goeie raad en advies. Soos ‘n vader het hy wyse raad uitgedeel. Kwinkslae en grappies was daar genoeg,” skryf prof. B.J. de Klerk van dr. Dion Kempff, gebore op 15 Julie 1922 en oorlede op hierdie dag.

Dr. Dionysius (Dion) Kempff was van 1949 tot 1963 predikant in vier Gereformeerde kerke, en daarna tot 1987 sowat 23 jaar lank redakteur van die Kerk se nuusblad Die Kerkblad.

Kempff is in ‘n sterk Christelike huis opgevoed en was van jongs af ‘n knap student met ‘n ondersoekende gees. Daarom het hy as skrander student en leier op die PUK ontluik.

Onder prof. H.G. Stoker behaal hy die M.A. in filosofie en vertrek daarna na Nederland vir sy doktorale studie. Hoewel hy ‘n alleenmens op universiteit was, kon hy tog die sprankelende Esther du Plessis se liefde wen en sy volg hom na Nederland, waar hulle getroud is. Hy behaal sy D.Theol. in Nederland.

Dr. Kempff is kort nadat hy sy studie in Nederland voltooi het in 1949 in Sannieshof bevestig. Hy dien ongeveer vyf jaar in die gemeente voordat hy na Salisbury gaan om ‘n baie groot gebied te bedien. Die mense van daardie wêreld tot in Karoi het altyd met groot lof van sy baanbrekerswerk in dié streek gepraat.

Ná die vier jaar in Rhodesië is sy volgende gemeente Viljoenskroon, en daar werk hy byna ses jaar lank. Hy was skaars ‘n jaar in Vereeniging-Oos toe hy redakteur van Die Kerkblad word.

Dr. Kempff was bekend vir sy liefde vir die predikantsbediening en hy het selfs in sy redakteursdae hulpdiens in Potchefstroom-Suid gedoen. Hy was, volgens prof. De Klerk in sy lewensberig in die Almanak van 2002, “‘n lerende prediker met ‘n skerp insig in die Skrif en belydenis”.

Dr. Kempff het sy vroue langer as 30 jaar bygestaan in ‘n siekte en kruis wat sy moes dra. Dr. De Klerk skryf: “Miskien was sy grootste lewensvrug nie die talle geskrifte (soos artikels en boeke) wat uit sy pen verskyn het nie. Ook nie die indeksering van Calvyn se werke, Kerkblad-artikels en die deeglike taalkundige versorging van sinodes se agendas en handelinge nie. Dit is eerder sy liefde, geduld, lewensblydskap, selfbeheersing en diep geloof waarmee hy sy lewensmaat bygestaan het.”

Dr. Kempff was in sy laaste lewensjare alleen, maar nog wakker van gees, op die hoogte van gebeure en ’n raadgewer en vriend vir baie. In die ouderdom van 78 het hy rustig ontslaap. Ω

11 Desember

Studente_en_professore_van_die_Teologiese_Skool_van_die_GKSA,_1915.jpg
Studente en professore van die Teologiese Skool Potchefstroom, 1915. C.J.H. de Wet is in die ligter kring.

11 Desember 1899 | Prof. C.J.H. de Wet se vader sneuwel

Prof. dr. Casparus Jan Hendrik de Wet (1887–1959) was van 1916 tot 1925 ’n Gereformeerde predikant en van daardie jaar tot 1946 ’n professor in die teologie aan die PU vir CHO, toe hy weens ’n leergeding as hoogleraar sowel as lidmaat van die Kerk bedank het.

De Wet was die vierde van die sewe kinders van Johannes Marthinus de Wet, oudste broer van die Boere-generaal C.R. de Wet, en Lasya (of Lazya) Christina Kruger, ‘n niggie van pres. Paul Kruger.

Hy het grootgeword in die rustige, landelik atmosfeer van die Oos-Vrystaat op die plaas wat sy vader, ‘n gesiene inwoner en veldkornet, ná die Tweede Basoeto-oorlog (1865) in die Verowerde Gebied as beloning vir kommandodiens ontvang het.

De Wet het die gebrekkige skoolonderrig gekry wat kenmerkend van sy tyd was, maar is “getoë in ‘n Calvinistiese ouerhuis waar vaderlandsliefde en ‘n diepgewortelde trots in die republikeinse staatspraktyk van jongs af by hom ingeskerp” is.

Vir die tienerjarige Casparus de Wet se gesin het die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) groot smart gebring. As waarnemende kommandant van die Ladybrandse kommando het sy vader op hierdie dag, presies ‘n maand nadat die vyandighede begin het, tydens die Slag van Magersfontein gesneuwel.

Sy moeder en drie van sy sibbes is oorlede in ‘n konsentrasiekamp, terwyl ‘n broer as krygsgevangene op die eiland St. Helena weens maagkoors beswyk het. Die dertienjarige De Wet het saam met sy ouer broers by die Ladybrandse kommando aangesluit, maar omdat hy nog so jonk was, is hy nie tot die gevegslinies toegelaat nie en moes hy diens doen in die voorrade-afdeling.

In April 1901 is hy en sy drie broer krygsgevangene geneem en na St. Helena gestuur, waar ook hy ernstig siek aan maagkoors geword het, maar kon oorleef danksy ‘n sterk gestel en onverbiddelike gees.

Vier maande ná die Vrede het De Wet in September 1902 teruggekeer na die Vrystaat as vyftienjarige weeskind, feitlik ongeletterd en afhanklik van familielede se sorg. Net drie van die sewe sibbes het die oorlog oorleef.

Eers het hy ingewoon by ‘n ouer broer, J.J. (Kootjie) de Wet, naby Sannaspos. Deur die verkoop van hul geboorteplaas kon De Wet bekostig om op eie inisiatief vir onderwys Boland toe te gaan, eers na die Blauwvlei-skool van meester Stucki by Wellington en toe na die geskiedkundige Franschhoek-skool, waar hy in 1908 op 21-jarige leeftyd matrikuleer het.

In 1911 behaal hy sy B.A.-graad aan die Victoria-kollege op Stellenbosch. Hy was van plan om vir predikant in die NGK te studeer, maar het hom in 1912 laat inskryf as student aan die Gereformeerde Kerk se Teologiese skool op Potchefstroom toe hy ook lidmaat word van die Gereformeerde Kerk.

Dis nie bekend hoekom hy ’n Dopper geword het nie, net dat sy hart na die Gereformeerde Kerk toe getrek het, hoewel sy moeder moontlik voor haar troue tot dié Kerk behoort het waarvan haar neef pres. Kruger en sy gesin getroue lidmate was.

In 1915 het hy die kandidaatseksamen in die teologie geslaag en is toe beroepbaar gestel in die Gereformeerde Kerk.

10 Desember

Johannesburg se nuwe hof (1892), ontwerp deur Sytze Wierda.jpg
Johannesburg se nuwe hofgebou (1892).

10 Desember 1911 | Die argitek Sytze Wierda ontslaap in Seepunt

Sytze Wierda
Sytze Wierda as jong man.

Sytze Wopke(s) Wierda (gebore in Friesland op 28 Februarie 1839) het saam met Klaas van Rijsse jr. ’n belangrike bydrae tot pres. Paul Kruger se ambisie gelewer om Pretoria ’n meer hoofstedelike bekoring te gee, veral rondom die sentrale Kerkplein, maar albei het ook buite die middedorp en elders in die Zuid-Afrikaansche Republiek gebou.

Wierda was die seun van Wopke(s) Sjerps Wierda, ‘n Friese boer, en sy vrou, Pietertje Roelofs de Vries. Reeds as kind toon hy kunssinnigheid en ‘n besonderse belangstelling in die boubedryf.

Mettertyd bekwaam hy hom as argitek, prakties sowel as teoreties. In Januarie 1866 tree hy in diens van die Nederlandse Staatspoorweë en word mettertyd een van hul bekwaamste argitekte. Hy het onder meer ‘n belangrike aandeel in die ontwerp en bou van die bekende Amsterdamse Centraal Station.

Intussen ontwerp hy ‘n groot aantal kerke en ander geboue vir die Christelike Gereformeerde Kerk in Nederland, waarvan hy omstreeks sy huwelik in 1862 met Harmke Tjibbeles Kamp (1839, Drachten – 1926, Johannesburg) lidmaat geword het. Sy en haar familie was toegewyde lidmate van dié kerk, wat ontstaan het uit die Afscheiding van 1839.

Daar is voorbeelde van sy kerke in plekke soos Zaandam, Tilburg, Baarn en ‘s Hertogenbosch, asook op die Duitse dorp Emlichheim.

Nadat hy deur H.T. Bührmann by die Driemanskap van die ZAR aanbeveel is, aanvaar Wierda op 1 November 1887 die pos van goewermentsingenieur en argitek van die ZAR nadat sy landgenoot, vroeëre leerling en kollega, Van Rijsse, tydelik in die betrekking waargeneem het.

Onder Wierda se leiding het die departement van openbare werke van die republiek tot stand gekom en het hy eerste hoof daarvan geword.

Die ekonomiese voorspoed van die ZAR ná die ontdekking van goud en die groot behoefte aan staatsgeboue het hom en andere ruimskoots geleentheid gebied om die heersende Franse, Italiaanse en Vlaams-Nederlandse Neo-Renaissance-boustyl in die ZAR toe te pas.

Voorbeelde hiervan is in Pretoria te sien: die Goewermentsgebou op Kerkplein (1888-’92); die Staatsdrukkery (1890); die eerste Volkshospitaal (1890); die Staatsmeisjesschool (1894); die Staatsartilleriekaserne met aangrensende stalgeboue; offisierswonings, kanon- en waenhuise en die Veldtelegrafiekaserne met bygeboue (1895-’98); die Staatsgymnasium; die Staatsmodelschool (1897); die Paleis van Justisie (1896-’99) en die Staatsmuseum (1899).

Dan is daar die landdroskantore op Klerksdorp en Krugersdorp (1890), die hoofposkantoor in Johannesburg (1897) en die Johannesburgse Fort (1899). Wierda was ook ‘n ontwerper van brûe, waarvan die Leeubrug oor die Apiesrivier in Pretoria en die Wierdabrug oor Sesmylspruit die bekendste is.

‘n Besonderse skepping van Wierda is die Paardekraalmonument naby Krugersdorp, wat in 1891 onthul is. Ná die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) was Wierda in Jeppestown, Johannesburg, as argitek werksaam. In 1906 verhuis hy na Kaapstad.

Wierda se verdienste lê op die gebied van die invoering van die Neo-Renaissance-boustyl in die ZAR, wat statigheid aan sy openbare geboue verleen het, asook in die gebruik van plaaslike bouklip in sy skeppings. Eers in die afgelope sowat 40 jaar geniet sy bouwerke die waardering waarop hulle geregtig is.

In Nederland is sy vakmanskap en tegniese bekwaamheid in 1887 erken deur sy benoeming tot lid van die Koninklijk Instituut van Ingenieurs. In Johannesburg is hy in 1894 benoem tot erelid van die South African Association of Engineers and Architects.

Wierda word beskryf as ‘n diep godsdienstige, moreel hoogstaande en onkreukbare persoonlikheid. Hy het ‘n kombinasie van kunssinnige aanvoeling en praktiese vakmanskap gehad wat hom uitnemend geskik gemaak het vir die belangrike pos wat hy in die ZAR beklee het.

Wierda, wat vier dogters gehad het, is in Eureka in Kusweg, Seepunt, die huis van sy skoonseun C. J. G. van Hoogstraten, oorlede, en is begrawe in die Woltemade-begraafplaas. Sy vrou is in 1926 in Sandown, Johannesburg, oorlede en by haar eggenoot ter ruste gelê. Ω


Ds_CE_Malan
Ds. C.E. Malan.

10 Desember 1902 (?) | Ds. C.E.G. Malan op die plaas Vergenoeg, dist. Parys, gebore

Ds. Ernst Malan was tussen 1936 en sy tragiese dood in die amp predikant in vier Transvaalse kerke.

Weens die lang afstand na die skool het hy eers op agtjarige leeftyd skool besoek wat hy iedere dag te perd moes doen tot en met st. 5. In die dae van die 1914-rebellie het dit soms broekskeur gegaan om die “kakies” te ontsnap wat gedurig op die loer was vir ryperde.

In die jaar 1918, tydens die Spaanse Griep, het die skole op Parys gesluit en moes hy gaan boer vir sy vader. Daarna is hy na die Potchefstroom Gimnasium, vanwaar hy, ná sy matrikulasie in 1932, sy teologiese studie voltooi het.

Ná al die eksamens kom die moeilikhede: Dit was die Groot Depressie, nie net op ekonomiese gebied nie maar ook op kerklike terrein, want vakante gemeentes was net so skaars soos geld.

In prop. Malan se jaar was dit vyf studente wat gelyktydig hul studie voltooi het en toe was daar nog proponente van die vorige jaar wat op beroepe gewag het.

En toe hy saam met sommige van sy klasmaats voor die Algemene Vergadering van die OVS in 1933 vir sy peremptoir-eksamen moes verskyn, het die masels hom platgetrek aan huis van sy oudste broer. Sy laaste ouer, naamlik sy moeder, het hom reeds op 19-jarige leeftyd ontval.

Deur die goedgunstigheid van die kerkraad van Kroonstad kon hy toe daar as proponent gaan arbei teen die vergoeding van £8 per maand plus vry losies. Huisbesoek moes hy op eie koste doen en dit het plaasgevind met ’n rooi motorfiets.

Later sou ds. Malan skryf: “Die geliefde ouderling moes maar agter op die fiets sy plek inneem. Ag, die arme bejaarde ouderlinge het maar styf-styf en steun-steun afgeklim — veral ná so ’n slegte pad!”

Later het hy ook Bethlehem, Reitz en Harrismith bedien. In Julie 1933 het hy die eerste Gereformeerde kerkdiens op Bothaville waargeneem waar die plaaslike Gereformeerde kerk eers in 1957 sou afstig van Viljoenskroon.

In Julie 1936 is hy in Ermelo in kombinasie met Carolina bevestig deur ds. JV Coetzee. Hier het hy op 12 Desember 1936 in die huwelik getree met Marie de Klerk van Potchefstroom.

In 1943 het hy ’n beroep aangeneem na Pretoria-Noord, waarvandaan hulle in 1948 na Pietersburg verhuis tot 1951.

Tydens hulle verblyf in Pietersburg kon hulle ’n nuwe gebou as pastorie betrek en was ds. Malan nie net konsulent van Laeveld wat hy ’n lang tyd moes bedien nie, maar het af en toe ook Woord en Sakramente bedien by al die gemeentes van die Klassis Waterberg.

Ds. en mev. Malan het ook baie aktief deelgeneem aan die samelewing in Pietersburg en ds. Malan het nie alleen in al die skoolkommissies gedien nie, maar was ook van enkeles voorsitter. Hy het ook die hele tyd in die Hospitaalraad gedien en was tot met sy vertrek voorsitter van die Afrikaanse Skakelkomitee.

In 1951 het hulle na Linden waar ds. Malan 15 jaar sou arbei tot sy dood in die amp op 23 Maart 1966. Die Burger het op sy sterfdag berig ds. Malan het twee dae vantevore (21 Maart) drie ribbes gebreek toe hy afstort in die kerktoring van Linden se Gereformeerde kerk, maar dat hy goeie vordering gemaak het.

Hy het in die toring opgeklim om lastige swerms bye uit te roei wat daar ingetrek het. Ds. Malan het op ‘n hoogte van 70 vt. gegly en op ‘n luik 15 vt. na onder geval en daar bly hang tot hy opgetrek kon word. Volgens dié beriggie het ds. Malan “goeie vordering” gemaak.

Die Malan-egpaar se enigste kind, Susan, was die eerste Mej. Huisgenoot-tiener. Ω


Gereformeerde kerk Krugersdorp-Oos.jpg
Die destydse Gereformeerde kerk Krugersdorp-Oos.

10 Desember 1978 | Destydse Krugersdorp-Oos stig af van Krugersdorp

In die 1970’s het die oostelike woongebiede van Krugersdorp so vinnig uitgebrei dat besluit is om van Krugersdorp af te stig.

Die stigtingsvergadering van die Gereformeerde kerk Krugersdorp-Oos is gehou op hierdie dag en in 1980 is ’n boukommissie aangewys. Die plan was om ’n gebou met sitplek vir sowat 500 kerkgangers op te rig.

Bouwerk het in Augustus 1981 begin en die gebou, wat die lidmate self gebou het, is ’n jaar later, op 7 Augustus 1982, in gebruik geneem. Die muur agter die preekstoel loop skerp na bo, wat die kerkganger se aandag hemelwaarts lei.

Krugersdorp-Oos het in 2010 ’n sieletal van 260 gehad, Krugersdorp 735 en Krugersdorp-Wes 283. Die jaar daarna het die Oos-gemeente ontbind en sy lidmate ingeskakel by Krugersdorp, wie se sieletal nou 790 is, vergeleke met Wes se 224. Ω


Grafsteen_Dirk_Postma_jr.jpg
Ds. Dirk Postma (1877–1940) se grafsteen)

10 Desember 1943 | Ds. Dirk Postma se grafsteen op Burgersdorp onthul

Teen die einde van 1940 het die gesondheid van ds. Dirk Postma (gebore 1877) van Burgersdorp ernstig agteruitgegaan sodat hy op die vergadering van 21 September weens siekte nie teenwoordig kon wees nie en deur die kerkraad ses maande siekteverlof toegestaan is, met die byvoeging dat as dit aan die end van die tydperk sou blyk dat hy nog nie sy werksaamhede kan hervat nie, die kerkraad verder sal besluit.

Op die laaste vergadering van die jaar het die kerkraad weer die siektetoestand van ds. Postma bespreek en toe besluit om sy vorige besluit te herroep en aan hom vir ‘n onbepaalde tyd verlof toe te ken. Maar die kerkraad het nie geweet dat die einde van sy lewe so naby was nie, want reeds op Sondag 29 Desember 1940 het hy ontslaap.

Toe die kerkraad die reëlings moes tref vir die begrafnis, kon ds. Martinus Postma, ds. Dirk Postma se seun, aan die vergadering die wense van sy vader wat hy vooraf aan hom meegedeel het, aandui en is dit deur die kerkraad so aanvaar.

Alles is tot in die fynste besonderhede deur die kerkraad gereël en dit was beslis nodig, want dit was ‘n besonder groot begrafnis aangesien die oorledene so bekend was en die hoë agting geniet het van almal met wie hy in aanraking gekom het.

In die volgende jaar is die gedagte uitgespreek dat die kerkraad die inisiatief moes neem vir die oprigting van ‘n grafsteen vir wyle ds. Postma. Hierin is die medewerking van die gesin van die oorledene gevra en is dit met graagte toegesê.

Die saak is deur die kerkraad opgedra aan ‘n kommissie en die geld is vir daardie doel ingesamel. Op hierdie dag is die grafsteen onthul deur die oudste seun, ds. M. Postma. Ω


Burgermonument, Burgersdorp.jpg

10 Desember 1899 | Dertien Burgersdorpers sneuwel in die Slag van Stormberg

Die Burgermonument is ‘n gedenkteken van twee Boerekrygers op Burgersdorp in Noordoos-Kaapland wat die Slag van Stormberg op hierdie dag tydens die Tweede Vryheidsoorlog gedenk.

Aan die gedenkteken is die name van die 13 Burgersdorpse slagoffers aangebring en die teks uit 2 Sam. 1:25a: “Hoe zijn de helden gevallen in het midden van den strijd!”

Die monument is op 10 Januarie 1908 onthul tydens ’n geleentheid wat die Boeregeneraals Koos de la Rey en C.F. Beyers bygewoon het.

Die tweede foto kom uit die GKSA se argief en is van die Boerekrygers wat aan die slag deelgeneem het.

Links van die Burgermonument kan die Nederlandse Taalmonument gesien word wat die Engelse tydens die oorlog onthoof en eindelik op ‘n vullisterrein op King William’s Town gestort het, waar dit eers in 1939 ontdek en onder leiding van ds. Abraham en mev. Anna Aucamp en andere heropgerig is.

9 Desember

Gereformeerde kerk Heidelberg

9 Desember 1950 | Ds. N.H. van der Walt se eggenote, Elizabeth, het die hoeksteen van die Gereformeerde kerk Heidelberg op hierdie dag gelê. Die argitek was Pieter Dykstra. Dis in gebruik geneem op 27 Oktober 1951. In 2016, weer op 9 Desember, verskyn die eerste uitgawe van My Dopperdagboek, op wie se buiteblad die Heidelbergse kerk pryk. Ω


Gereformeerde kerk Noord-Oosrand
Die Gereformeerde kerk Noord-Oosrand.

9 Desember 1961 | Gereformeerde kerk Noord-Oosrand in gebruik geneem

Noord-Oosrand is in 1955 afgestig, blykbaar van sowel Kemptonpark as Benoni. Eers nadat Kemptonpark die wyke Bredell en Pomona in 1961 aan Noord-Oosrand afgestaan het, kon die kerkraad met die beplanning van ’n eie kerkgebou begin, want tot in daardie stadium het die belydende lidmate net sowat 140 getel.

Op 24 Julie 1961 het die kerkraad besluit om ’n kerkgebou op te rig. Gerrie Opperman van Kempton Park is as bouaannemer aangestel.

Die gebou is opgerig volgens die oorspronklike plan van die Gereformeerde kerk Pretoria-Sunnyside. Ds. J.C. Kruger het die hoeksteen op 30 September 1961 gelê en op hierdie dag, ’n Saterdag, om drieuur is die nuwe kerk amptelik ingewy.

Die katkisasiekinders van Cloverdene het ’n Kanselbybel geskenk wat dekades later nog in gebruik was. Prof. S.J. du Toit het die kerk oopgesluit.

Oudl. P.J. Venter het die Kanselbybel in ontvangs geneem en dit op die preekstoel geplaas. Daarna het prof. Du Toit ’n rede gelewer na aanleiding van Jeremia 7:4 (b) en 14 (a). Ω


9 Desember 1838 | Die Gelofte die eerste keer afgelê

Mijne broeders en medegenoten,
Hier staan wij tans op een ogenblik voor een
heilige God van hemel en aarde om een belofte
aan Hem te beloven, als Hij Zijn bescherming met
ons zal wezen, en ons vijand in onze handen sal
geven, dat wij hem oorwinnen, dat wij die dag
en datum elke jaar als een verjaardag en een
dankdag zoals een Sabbat in Zijn eer sal
doorbrengen en dat wij een tempel tot Zijn eer
stichten sal, waar het Hem sou behagen en dat
wij het ook aan onze kinderen zal zeggen, dat zij
met ons er in moeten delen, tot gedachtenis ook
voor onze opkomende geslachten, want de eer
van Zijn Naam zal daardoor verheerlikt worden,
dat de roem en eer van overwinning aan Hem
sal worden gegeven. Amen. Ω


GPL van der Linde trou met Cornelia van der Merwe
Dr. G.P.L. van der Linde trou met Cornelia van der Merwe. Hulle was Alberton se pastoriepaar van 1955 tot 1958.

9 Desember 1939 | Die Gereformeerde kerk Alberton stig af

Onder die eerste inwoners van die dorp Alberton was ook lidmate van die Gereformeerde Kerk. Reeds van 1904 af het hulle na Germiston gereis om daar kerk by te woon.

Intussen moes hulle plaaslik onderling kerk en Bybelstudie aan ouderlinge se huis hou. Op 11 Junie 1927 het die Albertonse lidmate met die goedkeuring van Germiston se kerkraad ’n sinkkerkie van die plaaslike NG moedergemeente bekom.

In 1940 het Alberton in ’n kombinasie met Vereeniging gevorm. Ses en ’n half jaar ná die gemeente se stigting, in Mei 1946, besluit die kerkraad van Alberton die tyd is geleë vir die oprigting van ’n nuwe kerk.

Die huidige perseel in Parklandslaan is in November 1946 gekoop. Die hoeksteen van die nuwe kerkgebou is op 5 Junie 1948 gelê en die kerk op 2 Julie 1949 amptelik in gebruik geneem. Ω


Die eertydse Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid.jpg
Die eertydse Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid. (FOTO: Rudi van Wyk)

9 Desember 1930 | Die argitek Henry Rowe-Rowe oorlede

Henry Rowe-Rowe (gebore in Hertfordshire, Engeland, op 6 Julie 1870) was ’n Suid-Afrikaanse argitek van Britse herkoms wat huise, woonstelle, winkels, sakegeboue en sover bekend een kerk, die destydse kerkgebou van die Gereformeerde kerk Johannesburg-Suid, ontwerp het.

Nadat hy ’n ruk lank vir sy vader, ’n bouaannemer, gewerk het, het hy na Londen verhuis waar hy hoofassistent van H. Woodzell van Tottenham Court Road geword het.
In 1893 het hy na die Kaap geïmmigreer en in die moederstad die hoofassistent van die Kaapse argitek Max Rosenberg geword.

Rowe-Rowe het in 1899 of 1900 sy eie praktyk opgerig. Sy vernaamste werk was as argitek van woonhuise en so het hy gehelp met die ontwikkeling van Kampsbaai en Oranjezicht.

In 1911 het hy na Transvaal verhuis en teen 1915 op Krugersdorp gewoon en daarna na Johannesburg verhuis, waar hy ook hoofsaaklik woonhuise asook woonstelblokke ontwerp het. Blykbaar het hy hoofsaaklik as landmeter gewerk.

Rowe-Rowe was ’n vooraanstaande Vrymesselaar. Hy het op 23 April 1896 by die Wynbergse Losie aangesluit en op 10 November 1914 daaruit bedank.

Op 30 Oktober 1903 was hy ’n stigterslid van die losie in Mowbray, tot hy daaruit bedank het op 15 April 1907. Op 17 Mei 1905 is hy erelid van dié losie gemaak en was blykbaar ook meester van die Stellenbosse Losie.

Hy was ook lid van die beheerraad van die Tegniese Hoërskool Forrest Hill, ’n ouderling van die Anglikaanse Christ Church in die Goudstad, lid van die Wetenskaplike en Tegniese Klub van Johannesburg.

Min. Piet Grobler het die hoeksteen van Johannesburg-Suid se kerkgebou op 13 September 1930 gelê, drie maande voor Rowe-Rowe se dood; dus het hy nooit die voltooide gebou gesien nie. Ω

8 Desember

Gereformeerde_kerk_Colesberg_2012.jpg
Die Gereformeerde kerk Colesberg. (FOTO: Morné van Rooyen)

8 Desember 1860 | Colesberg as derde Dopperkerk in Kaapkolonie gestig

Die stryd oor die sing van die evangeliese gesange in die NG gemeente Colesberg in  ds. Thomas Reid se dienstyd (1836–1856) was sekerlik die hewigste in die land.

Daarom het oudl. I.D. du Plessis en sy vrou, Hester Venter, die ouers van ds. L.J. du Plessis en grootouers van prof. J.A. du Plessis, die leiding geneem om ds. Dirk Postma na sy plaas Hamelfontein te bring waar die Gereformeerde kerk Colesberg op hierdie dag gestig is as die derde gemeente in die Kaapkolonie.

Weens die pynlike aanleiding daartoe, het die plaaslike NG gemeente begrip getoon vir die afskeiding. Hulle kon nie die ou kerkgebou aan die nuwe gemeente verkoop nie, maar het wel ’n erf aan die Gereformeerde kerk geskenk.

Ook kon die NG gemeente nie op Du Plessis se versoek bewillig om ’n Spesiale Sinode van die Kaapse Kerk op te roep om die moontlikheid van hereniging te oorweeg nie. Tog het hulle die Kanselbybel wat Du Plessis se vader aan die NG gemeente geskenk het, aan sy seun terugbesorg.

Eers kon die gemeente nie besluit of hulle die kerk op die dorp of ’n plaas moes bou nie. ’n Sakeman het toe £1 000 van nie-Gereformeerdes op die dorp aan die nuwe gemeente beloof as hulle die kerk op die dorp sou bou, want ’n kerk in die distrik kon ’n groot verlies aan sake vir Colesberg beteken en selfs tot die stigting van ’n kerkdorp lei.

Nadat ds. Postma die gemeente aangeraai het om eers die omstandighede op die dorp te beproef, het die NG gemeente ’n erf geskenk aanliggend tot dié wat Douw G. Steyn reeds bewillig het en selfs hul lidmate aangespoor om by te dra tot die boufonds.

Teen Augustus 1861 kon die kerkraad met die beplanning van die gebou begin en so het Du Plessis die gebou se hoeksteen op 15 Maart 1862 onder leiding van ds. Postma gelê. Vandag is dit die naasoudste Dopperkerk wat nog in gebruik is omdat Middelburg, Kaap, se kerkgebou eerste voltooi is.

Ná die onaangenaamheid met ds. Reid het Colesberg se Doppers uitgesien na goeie betrekkings met die NG gemeente en sy nuwe leraar, prop. A.D. Lückhoff, maar dié predikant was ’n verbete vyand van die Gereformeerde Kerk.

Ná die afskeiding van Desember 1860 het lidmate steeds gedurig na die Gereformeerde kerk oorgegaan. Lückhoff het ds. Postma in briewe wat hy laat publiseer het in The Colesberg Advertiser bestempel as “een verleider des volks, en wat erger is, een antichrist”.

Dié aanvalle het die Gereformeerde kerkraad op 14 Maart 1862 daarvan oortuig dat hulle dankbaar moes let op die voorsienigheid van God wat hulle tot by die Gereformeerde leer en diens gebring het.

Du Plessis se vrou, Hester (née Venter), A.P. Venter en andere kon nie verstaan waarom daar so op diegene wat so veel jare lank ’n aanstoot in die midde van die NG gemeente was, nou gefulmineer word terwyl hulle stil uit die kerk wil gaan nie.

William Shaw Giddy, redakteur van The Colesberg Advertiser en dus ’n buitestander, het opgemerk dat die stigting van die plaaslike Gereformeerde kerk die gevolg was van beginselsverskille en swak hantering oor lang jare in die Kaapse Kerk. Ω


Ds_Jacs_van_Rooy_en_sy_vrou,_Elsje_Kruger,_met_hul_oudste_drie_kinders_in_die_tyd_dat_hy_predikant_van_Ventersburg_se_Gereformeerde_kerk_was.jpg
Ds. Jacs van Rooy, se vrou Ellie en hul drie kinders, onder wie die latere ds. Koos van Rooy middel).

8 Desember 1904 | Ellie van Rooy in die distrik Molteno gebore

Elsje Petronella Elizabeth Maria Kruger was van 1929 tot haar dood in die ouderdom van net 36 jaar predikantsvrou van die Gereformeerde kerk Ventersburg, waar haar man, ds. Jacs van Rooy, gearbei het van 1928 tot 1942.

Ellie Kruger is moontlik nie in die distrik Molteno nie, maar in die Trompsburgse distrik in die Oranje-Vrystaat gebore. Die grootste deel van haar kinderjare het sy op die plaas Broekpoort in die distrik Bethulie opgegroei. Reeds op negejarige leeftyd het sy haar moeder verloor en moes sy as weeskind by haar broer en susters inwoon.

Op 17 Julie 1929 is sy op Bethulie getroud met ds. J.A. van Rooy, wat die jaar vantevore in sy eerste gemeente, Ventersburg, bevestig is. Drie kinders is uit dié huwelik gebore: (ds.) Koos (1932), Martie (1933) en Brechtje (1937).

Mev. Van Rooy het dadelik haar plek in die gemeente met roepingsbewustheid aanvaar. As jong predikantsvrou het sy sterk onder leiding en invloed van haar skoonmoeder, Brechtje van Rooy, eggenote van ds. J.A. van Rooy van Bethulie, gestaan.

Sy was nederig en beskeie, maar hiermee het bekwaamheid en deursettingsvermoë gepaardgegaan. In die sustersvereniging het sy intens belanggestel en het met haar man baie gesels oor die verlange van die susters om in breër verband saam te werk.

Op ‘n gesamentlike konferensie van diakens en susters op Theunissen in 1935 het sy, terwyl die susters apart vergader het, die gedagte van samewerking na vore gestoot.

‘n Ontmoeting van die verteenwoordigers van die OVS en die Algemene Gereformeerde Sustersvereniging het op Potchefstroom plaasgevind en so is die eerste Kongres van Uniale formaat van stapel gestuur.

Op die kongres van Reddersburg, 6 Desember 1936, is sy tot lid van die Uniale Bestuur van die Bond van Gereformeerde Sustersvereniging verkies.

Plaaslik op Ventersburg was sy voorsitter van die Dorkasvereniging en van die Gereformeerde Sustersvereniging.

Op 22 Februarie 1941 is sy in die bloei van haar lewe ná ’n hartaanval skielik oorlede. Ida Bosman beskryf haar in Die Gereformeerde Vrou 1859–1959 as ’n baie beminde persoon, ’n saggeaarde en liefdevolle vrou.

Haar man het op 27 Februarie 1943 op Pietersburg hertrou, met Susanna Elizabeth (Sannie) Cloete. Uit hierdie huwelik is nog sewe kinders gebore. Ω


Hester_Venter-du_Plessis_en_haar_seun_ds_Louw_du_Plessis
Hester Venter en haar seun L.J. du Plessis in Kaapstad waarheen sy hom geneem het om skool te gaan aan SACS.

8 Desember 1860 | Gereformeerde kerk Colesberg gestig

Nadat ds. Dirk Postma die Gereformeerde kerk Colesberg as die derde gemeente in die Kaapkolonie gestig het, het hy plaaslik dienste waargeneem in die afwesigheid van die konsulent, ds. Johannes Beijer, van Reddersburg.
In dié tyd het oudl. I.D. du Plessis, op wie se plaas Hamelfontein die gemeente gestig is, die hoeksteen van die gebou gelê wat vandag nog as die naasoudste Gereformeerde kerkgebou in Suid-Afrika in gebruik is.
In dié tyd het Hester Venter, Du Plessis se vrou, gegaan na die pastorie van ds. A.D. Lückhoff, leraar van die plaaslike NG gemeente, en in die aanwesigheid van ds. A.A. Louw van die NG gemeente Fauresmith met kerkraadslede en verskeie lidmate oor die kerklike onenigheid gesprek gevoer.
Sy het die leraars versoek om hul gemeentes tot vrede te maan en het ds. Postma so vurig verdedig dat ds. Lückhoff, ’n verbete vyand van die Gereformeerde Kerk, uitgeroep het: “Mev. Du Plessis, u moes ds. Postma gewees het!”
Uit haar “Levensgeschiedenis” wat later deur die Paarlse drukkery van D.F. du Toit (Oom Lokomotief, ’n oom van Totius) uitgegee is, blyk hoe die lewe van ’n talryke kroos deur kindersiektes en koorsepidemies afgemaai is.
Daaruit blyk ook hoe die ouers gedurig oor die sieleheil van hul kinders besorg was. Hul gebedslewe het nooit verflou nie en was ’n bron van krag en troos, het haar agterkleindogter Ida Bosman in 1959 in die gedenkboek Die Gereformeerde vrou 1859–1959) geskryf. Ω

Teologiese_studente_van_Potchefstroom_in_hul_vierde_jaar,_1931
Izak van der Walt (naasregs) in 1931 saam met sy medestudente in hul vierde jaar aan die Teologiese Skool op Potchefstroom: L.S. van der Walt, Abraham Aucamp en Jan Schutte.

8 Desember 1975 | Ds. I.J. van der Walt oorlede

Ds. Izak Jacobus van der Walt (gebore op 10 Augustus 1904) was ’n predikant in vyf kerke, waarvan vier in die destydse Transvaal en een, Hennenman, in die Vrystaat.

Van der Walt het die lewenslig in die distrik Rustenburg aanskou en is daarna gedoop in die Gereformeerde kerk Rustenburg. Later het sy ouers, algemeen bekend as oom Izak en tant Miemie, na die Moot getrek waar Van der Walt en sy tweelingbroer, Willie, hul eerste onderwys aan die CNO-skool op Hartbeesfontein ontvang het.

Die CNO-skool is egter later gesluit en moes hulle toe na die goewermentskool op Hartebeestfontein gaan waar meester A. Bosua die hoof was. Aan die einde van st. 5 het Van der Walt ’n beurs verwerf wat sy ouers in staat gestel het om hom na die Potchefstroom Gimnasium te stuur waar hy gematrikuleer het.

Aan die Teologiese Skool het hy einde 1931 sy finale eksamens afgelê.

Begin van 1932 het die gemeente van Matlabas hom gevra om tydelik as proponent daar te kom werk. In April van dieselfde jaar is hy daarheen beroep en in Julie as eerste predikant van dié kerk bevestig deur prof. J.A. du Plessis.

In 1958 sou ds. Van der Walt skryf: “Die beginjare in die nuwe gemeente was moeilik. Die mense was arm, ’n swaar depressie het gedruk, die nuwe kerk wat gebou is, moes afbetaal word, ens. Tye en toestande het later darem verbeter.

“Vervoermiddels met huisbesoeke was nie van die modernste nie. Dit het gegaan soms per muilkar, soms per motor en ’n enkele keer ook te perd, te donkie en te voet.

“Grappies het ook nie ontbreek nie, veral nie as ons die dag met die perde en donkies moes gaan nie. En toe op ’n keer die diaken vlak voor die huis waar ons moes gaan huisbesoek doen, van sy perd afgeval het met al sy potsierlike manewales daarby, het dit moeilik gegaan om die nodige erns by die huisbesoek te bewaar.” Ω


GK_Uitenhage_eerste_kerkgebou_(3).JPG
Die eerste kerkgebou van die Gereformeerde kerk Uitenhage. (FOTO: Gustav Opperman)

8 Desember 1951 | Die Gereformeerde kerk Uitenhage gestig

Die gemeente Uitenhage het op hierdie dag van Port Elizabeth afgestig. Dienste is aanvanklik in huise en skoolsale gehou en op uitnodiging van die Kongregasionalistiese kerk is hul saal en later kerkgebou vir eredienste gebruik.
In 1956 het die gemeente ’n kerkgeboutjie gekoop (eerste foto), maar dit ná 16 jaar verkoop en besluit om ’n groter gebou op te rig. Die erf vir dié doel het die gemeente teen die nominale bedrag van R2 van die stadsraad aangekoop.
Prof. J.P. Snyman het as argitek opgetree in ’n tyd toe hy lidmaat was van Port Elizabeth. Die bouaannemer was Jaap vermaak, ’n lidmaat van Uitenhage.
Hierdie gebou het ’n unieke karakter. Van die ingang af loop die mure van klein na groot, wat die klein mens voorstel wat na die grote God toe gaan.
Die enigste venster in die hoofdeel van die gebou is so geplaas dat alle lig op die preekstoel val, want deur prediking van die Woord ontmoet die Here die gemeente.
Dié kerk is op 1 Februarie 1975 in gebruik geneem. Ω

Gereformeerde_kerk_Johannesburg-Noord_Eerste_Kerkgebou_1915.jpg
Die saaltjie waarin die Gereformeerde kerk Johannesburg-Noord eers eredienste gehou het.

8 Desember 1917 | Hoeksteen van Johannesburg-Noord se kerksaaltjie gelê

Die gemeente Johannesburg-Noord het, nes Johannesburg-Oos, in 1924 van Johannesburg afgestig en wel op 1 Maart.

Eers is ’n kerksaaltjie in Tweedelaan, Melville, as kerkgebou gebruik. Die erf is vir dié doel bekom van Lourens Geldenhuys, Volksraadslid en bekende weldoener van die Afrikaanse inwoners van Johannesburg.

Die kerksaal se hoeksteen is gelê op hierdie dag, presies ’n eeu gelede, met die woorde van Matt. 16:18 daarop: “De poorten der hel zullen haar (in die Statebybel ‘dezelve’) niet overweldigen.”

Die saaltjie is in April 1918 in gebruik geneem met ’n openingsrede deur ds. Dirk Postma, ’n kleinseun van die stigter van die Gereformeerde Kerk, en indertyd predikant van Burgersdorp nadat hy van 1904 tot 1908 leraar was van die Witwatersrand se oudste Gereformeerde kerk, Krugersdorp, maar ook die lidmate van Johannesburg bearbei het.

Met die bou van Johannesburg-Noord se nuwe kerkgebou in Eerstelaan, is die hoeksteen van die saaltjie verwyder en ingemessel in die noordelike muur van die nuwe gebou. Ω


Ds_Thomas_Reid.jpg
Ds. Thomas Reid.

8 Desember 1860 | Gereformeerde kerk Colesberg gestig

Ds. Thomas Reid (‘n gebore Skotsman, foto) se bediening in die NG gemeente Colesberg van 1836 tot 1854 is oorskadu deur ‘n bittere twis oor die invoer van die evangeliese gesange.
Jare lank het die Kaapse (NG) Kerke net die berymde psalms gesing. Van 1814 af is die gesange ook in die een gemeente ná die ander ingevoer.
Mettertyd verset sekere lidmate met meer behoudende opvattings, veral in die noordelike en noordoostelike distrikte van die Kaapkolonie, hulle teen die sing van die gesange omdat dit nie soos psalms regstreeks uit die Bybel berym is nie en sommiges boonop na hulle mening strydig was met die Skrif.
In November 1841 rig die Ring van Graaff-Reinet ‘n herderlike skrywe aan die gemeente Colesberg waarin hulle die besware van die anti-gesangmense wil weerlê, sonder om enigsins tegemoetkomend te wees.
Hulle verklaar ook dat as lidmate uit vooroordeel of styfhoofdigheid weier om gesange te sing, hulle die liggaam van Christus “deurboor”, selfs verskeur. Dié krasse taal gee diep aanstoot en veroorsaak ‘n geweldige beroering onder die ontevredenes van die gemeente Colesberg.
Die saak is vererger toe Reid, gewapen met hierdie sterk Ringsbesluit, die gesange wil afdwing deur in sommige gevalle selfs sekere kerklike voorregte te weier tensy die betrokkenes hul verbind tot die sing daarvan.
In dié aangeleentheid het hy meermale uiters taktloos en selfs beledigend opgtree. Namate die ontevredenes geen bevrediging van die Ring of die Sinode verkry het nie, is hulle aanvalle ál meer op ds. Reid self gerig.
Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy sy amptelike plig versuim en het daarop aangedring dat hy verplaas word. Eers nadat geweldige druk uitgeoefen is, ook van die Ring en die Sinode, het hy in 1854 as predikant van Colesberg bedank.
Toe was die breuk in die gemeente reeds te groot en met die (her)stigting van die Gereformeerde Kerk op 11 Februarie 1859 op Rustenburg, was die saad vir die Gereformeerde afskeiding op Colesberg reeds gesaai.
Op hierdie dag sluit ‘n deel van die gemeente hulle dan ook by die nuwe Kerk aan en so ontstaan die Gereformeerde kerk Colesberg, net ’n week ná Middelburg, Kaap. Ω

Die Hanekoms bied aan Oom Paul ten bate van die Reddingsdaadbond
‘n Reklameplakkaat vir ‘n opvoering van Oom Paul deur die Hanekoms vir die Reddingsdaadbond.

8 Desember 1939 | Die Reddingsdaadbond gestig

Die Reddingsdaadbond, met die leuse: “’n Volk red homself!” was ’n beweging wat ds. J.D. Kestell op hierdie dag begin het vir die ekonomiese rehabilitasie van verarmde Afrikaners. Die Bond het in 1957 ontbind.

Die stigting was sowat ’n jaar ná die reuse-saamtrek van Afrikaners tydens die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in Pretoria op 16 Desember 1938 op ’n tydstip toe uitsonderlike samehorigheid onder Afrikaners geheers het.

Leiers van die volk het hulle destyds daaroor bekommer dat sowat 300 000 Afrikaners (byna ’n derde) verarm was.

Baie Afrikaners wat pas hul voete begin vind het ná die verwoesting wat die Anglo-Boereoorlog gesaai het, het tydens die Groot Depressie van die vroeë jare dertig weer alles verloor.

Terselfdertyd is Afrikaners se volksbesef aangewakker deur die simboliese Ossewatrek na Pretoria in 1938. Daarom belê die FAK onder aansporing van ds. Kestell ’n volkskongres in Bloemfontein vir Oktober 1939.

Op dié kongres besluit afgevaardigdes om ’n volksorganisasie op te rig met ’n Christelik-Nasionale grondslag om die spaarkrag, koopkrag en mensevermoëns van Afrikaners te mobiliseer tot voordeel van die volk. So ontstaan die Reddingsdaadbond.

Die Bond het binne vyf jaar 400 takke en 70 000 lede gehad wat elkeen maandeliks ’n lidmaatskapfooi van ses pennies bygedra het.

’n Derde van die gelde is vir administrasie gebruik, ’n derde vir die afbetaling van ’n lewenspolis of spaarplan vir elke lid en die orige derde as kommissie vir die persoon wat die fondse ingesamel het.

Die bond het honderde Afrikaanse ondernemings op die been help bring, wat werksgeleenthede vir Afrikaners in veral die stede geskep het, onder meer Federale Volksbeleggings en die Afrikaanse Handelsinstituut.

NOTA: Ds. Kestell was ‘n boesemvriend van en mentor vir ds. Willem Postma, wie se seun Calman die toneelstuk Oom Paul geskryf het.

7 Desember

GK Steynsburg  liturgiese ruimte.JPG
Die liturgiese ruimte in die Gereformeerde kerk op Steynsburg. (FOTO: Gustav Opperman)

7 Desember 1872 | Die Geformeerde kerk Steynsburg is 145 jaar oud

Br. Ben Aucamp het onlangs die gemeente se geskiedenis vir ons gestuur. Ons het dit toe ook geplaas, maar met die oog op die mylpaal en al die nuwe lede, plaas ons ’n verkorte weergawe, plus van ds. Gustav Opperman se pragtige foto’s van die kerk.

Die eerste inskrywings op 7 Desember 1872 in die lidmaatregister van die Gereformeerde kerk Steynsburg was 160 lidmate van Burgersdorp en Middelburg, Kaap. Daar was nog nie ’n dorp nie en hierdie gebied was deel van die landdrosdistrik Cradock.

Oudll. Andries Steyn en L.S. van der Walt het die leiding geneem. Dorpstigting het spoedig gevolg, en die dorp is genoem na Andries Steyn, die broer van pres. Paul Kruger se moeder van die plaas Bulhoek.

Die huidige kerkgebou is in 1880 in gebruik geneem. Groot veranderinge en aanbouings is gedurende 1938 gedoen toe onder meer die toring aangebou is en die orrel geïnstalleer is.

Hierdie gemeente het in die opvolgende jare ’n bloei tydperk beleef en ’n hoogtepunt bereik voor die Eerste Wêreldoorlog met meer as 1 300 siele. In die eefeeusjaar was dit nog 370, maar nou net 31.

Vanaf die stigting het hierdie gemeente aandag gegee aan die stigting van ‘n Christelike skool. Daar is onmiddellik skoolgehou in die noodkerk en gedurende 1905 is die Christelike nasionale (CNO-) skool geopen. Dit was die eerste CNO-aksie in Kaapland.

Die CNO-skool op Steynsburg het aanleiding gegee tot die opening van ’n gimnasium wat kon voortgaan met sekondêre onderwys. Vanaf 1909 het “kwekelinge” opgedaag in Steynsburg wat hul wou bekwaam as onderwysers.

Aan die begin van 1914 is die Normaal geopen. Die posisie was dat Steynsburg nou die drie fases van onderwys verskaf het, naamlik laer onderwys, hoër onderwys en onderwysopleiding, dit alles onder een hoof, H.J.J. van der Walt.

Die Normaal is gedurende 1926 oorgeneem deur die Kaaplandse onderwysdepartment en het altesaam ongeveer 850 onderwysers opgelei tot 1950.

Die Hoërskool Paul Kruger het in 1924 geopen en dit het die einde van die gimnasium beteken. Hierdie skool is in 2006 gesluit.

“Hierdie gemeente roep die lidmate van die verlede in herinnering met lof en dank aan die Hoof van die kerk: Jesus Christus,” skryf br. Aucamp.

“Ons klein gemeente het ’n erfenis om te bewaar solank ons kan en ons waak jaloers daaroor.

“Ons is dankbaar teenoor die Here dat ons kan voortgaan met eredienste, sakramentbediening, diakonale diens, en susters wat, ten spyte van klein getalle, aktief is.

“Ons hartlike dank aan gemeentes in kerkverband, oudlidmate en afstammelinge van oudlidmate en ander gewaardeerde vriende vir finansiële skenkings en ook hul voorbidding vir ons toekoms en begrip op die meerdere vergaderings van die Gereformeerde Kerk.” ⊗


7 Desember 1920 | Prof. S.J. du Plessis gebore

Prof SJ du Plessis.jpg
Prof. Sarel du Plessis.

Prof. Sarel Jacobus du Plessis (oorlede op 11 Augustus 1972) was eers ’n predikant en van 1963 af professor aan die Teologiese Skool Potchefstroom.

Du Plessis het in 1938 aan die Colesberg Collegiate High School gematrikuleer met ’n onderskeiding in chemie in ’n tyd toe alles behalwe Afrikaans en geskiedenis deur medium Engels onderrig is. Hy studeer van 1939 tot 1945 voltyds aan die PUK en verwerf ook in 1950 ’n doktorsgraad in Ou-Testamentiese teologie.

Daarna volg ’n  M.A. aan Tukkies, gevolg deur die Th.M. en D.Litt. aan die PUK. Met die oog op sy eerste doktorsgraad was Du Plessis in 1949 vier maande lank in Europa waar sy vrou, Judie, by hom aangesluit het.

As voltydse student was Du Plessis twee jaar lank lid van die studenteraad, waarvan hy een jaar ondervoorsitter was, voorsitter van Korps Veritas Vincet, lid van die redaksie van die Besembos en drie jaar lank voorsitter van die huiskomitee van al die destydse manskoshuise (Heimat, Ons Huis en Postma-huis).

Dr. Du Plessis was van Januarie 1946 tot Januarie 1958 predikant van Port Elizabeth, toe Heidelberg-Volksrust en eindelik Vanderbijlpark. Van Heidelberg af moes hy baie in Oos-Transvaal ry om konsulentgemeentes te besoek. Dit het gebeur dat hy dikwels die oggend op Volksrust sou preek, die middag op Vrede (in die Vrystaat) en die aand op Heidelberg.

As predikant was hy daarvoor bekend dat hy kort en kragtig gepreek het. Tydens die jare op Vanderbijlpark was hy medewerker aan die “Bybel met Verklarende Aantekeninge” wat in 1958 verskyn het.

Afgesien van die talle skoolkomitees waarin hy gedien het, was hy op Heidelberg sowel as Vanderbijlpark lid van die plaaslike skoolraad. Van die skoolraad van Vereeniging, waaronder Vanderbijlpark geval het, was hy die voorsitter.

Hy was ook ‘n stigterslid van die Rapportryerskorps. As predikant van Vanderbijlpark moes hy Sasolburg ook bedien en was hy in die beginjare dag en nag op ‘n pont aangewese om die Vaalrivier oor te steek.

In 1958 aanvaar hy ‘n lektoraat in Semitiese tale aan die PU vir CHO, en word in 1963 tot professor bevorder. Sy eerste doktorsgraadstudent was ‘n Joodse rabbi wat tans (2017) in Jerusalem woon. Die Jode in Potchefstroom het Du Plessis bestempel as ‘n “ere-Jood”, wat ‘n aanduiding van hulle toegeneentheid teenoor hom was.

Uit Du Plessis se huwelik met Judie Goossens is vier kinders gebore, onder wie Daniël Jacobus (Kobus) op 10 November 1947. ⊗


Hendrik_Hermann
Oudl. Hendrik Hermann van die Gereformeerde kerk Pretoria.

7 Desember 1912 | Genl. J.B.M. Hertzog lewer De Wildt-toespraak – op ’n Dopperplaas

Oom Hendrik Hermann (gebore 9 April 1857) was 40 jaar lank kerkraadslid van die Gereformeerde kerk Pretoria en een van die manne wat die gemeente opgebou het.

Hy is gebore in die wapad tussen Graaff-Reinet en Cradock in die jaar dat sy vader saam met sy gesin die Kaapkolonie besoek het. Die gesin het destyd naby Krokodilrivier in Transvaal gewoon.

In1861 het sy vader die plaas Greylingspost gekoop waar later die stasie De Wildt gebou is. Hier het genl. J.B.M. Hertzog op hierdie dag sy sogenaamde De Wildt-toespraak op ’n vergadering van nagenoeg 100 mense gelewer.

Sy uitlatings oor trou aan Suid-Afrika bokant trou aan die Ryksgedagte het die wekroep van “Suid-Afrika Eerste” laat ontstaan het en aanleiding gegee tot die skeuring tussen die Sappe en die Natte.

Op De Wildt het Hendrik Hermann ’n tyd lank onderwys ontvang van ’n oom van hom wat in die Kaapkolonie studeer het. Die meeste kategese het hy gekry van ds. Dirk Postma, die Gereformeerde Kerk se eerste predikant ná die kerk se herstigting op 11 Februarie 1859 onder ’n seringboom op Rustenburg. ⊗


Gereformeerde_kerk_Paarl_regop.jpg
Die Gereformeerde kerk Paarl.

7 Desember 1963 | Hoeksteen van Paarl se kerk gelê

Twee wyke van die Gereformeerde kerk Kaapstad het in November 1954 afgestig as die Gereformeerde kerk Worcester-Paarl. Aan die begin is eredienste een maal per maand op ’n Sondagmiddag in die Paarl gehou.

Met ’n druiwestalletjie op die Druiwefees van 1954 is reeds begin met die geldinsameling vir ’n eie gebou. Op 23 April 1963 het Paarl en Worcester dan twee afsonderlike gemeentes geword met die Paarl se afstigting.

In die Paarl het die gemeente ’n erf bekom en het hulle met argitekte onderhandel oor die ontwerp van ’n kerkgebou. Die tender wat die kerkraad aanvaar het, het R26 640 beloop.

Die hoeksteen is op hierdie dag gelê en enkele maande later is dié kerkgebou in gebruik geneem. ⊗


GK Dordrecht konsistorie (2)
Die konsistorie van die Gereformeerde kerk Dordrecht. (FOTO: Gustav Opperman)

7 Desember 1868 | Gereformeerdes op Dordrecht wil ’n kerk bou

Reeds vroeg ná die stigting van die Gereformeerde kerk Dordrecht op 6 Maart 1869 is gedink aan kerkbou; trouens, die twee erwe wat die NG gemeente aan die Gereformeerde kerk geskenk het, is reeds op hierdie dag getransporteer op die naam van die “Hervormde Kerk te Dordrecht”.

Dit blyk uit verskeie transportaktes dat die Gereformeerde Kerk in hierdie tyd as die Reformed Church of Hervormde Kerk bekendgestaan het; laasgenoemde is waarskynlik ‘n verkeerde vertaling van die Engels.

Ds. Postma het egter in sy verslag oor die stigting van die gemeente uitdruklik na ‘n “Gereformeerde” gemeente verwys.

In 1869 is ‘n begin gemaak met die bou van die kerk, soos blyk uit talle kwitansies, gedateer 7 Januarie, 4 Mei en 17 Mei 1869, en onderteken deur C. Parkes, die kerk se boukontrakteur. ⊗


GK Burgersdorp uitsig op oorkantse gallery
Die binnekant van Burgersdorp se kerk. (FOTO: Gustav Opperman)

7 Desember 1918 | Burgersdorp se kerkraad betuig meegevoel met griepslagoffers

Nes byna al die ander gemeentes is Burgersdorp swaar getref gedurende die maande Oktober en November van 1918. Die kerkraad van die gemeente het ‘n buitengewone stap gedoen om die rou en smart te gedenk en dié wat getref is te troos en op te beur met Gods Woord.

Op sy vergadering van hierdie dag het die kerkraad die volgende stuk goedgekeur om aan die huisgesinne te stuur wat getref is deur die griep saam met ‘n lys van die slagoffers:

“Seer geliefde broeder (suster) in ons Here Jesus Christus. Wie sal die twee maande van die jaar wat nou byna verby is ooit vergeet?

Toe is vir die eerste maal in die geskiedenis van ons dierbaar vaderland ‘n pestilensie onder ons uitgebreek. Hoewel dit eers ligvaardig genoem en behandel werd as die Spaanse Influensa is daar nietemin sowat 50 000 van die bevolking van die Unie van Suid-Afrika getref.

“En dit is meestal die keur en bloem van onse geliefde nasie wat also deur die sikkel des doods afgemaai is. Van onse dierbare gemeente is 28 lidmate aan die gevreesde siekte dood en daaronder is ook u dierbare … (naam van oorledene).

“Op onse eerste kerkraadsvergadering ná die siekte is dit aan die ondergetekendes opgedra om hiermee van harte onse innige deelneming met u te betuig in u swaar verlies.

“Nog nooit was ons gemeente so swaar beproef nie. Nog nooit het ons so goed verstaan as nou die ernstige waarheid van Gods Woord in Jesaja 5:14 ‘Daarom zal het graf zichzelf wijd oopsperren en zijn mond opendoen zonder maat opdat nederdale hunne heerlijkheid.’

“Dit is om onse sonde dat die dood in die wêreld gekom het, en as God met tye die dood meer mag gee om onder ons te maai, soos ook nou weer met die wêreldoorlog en pestilensie, dan besef ons beter as ooit tevore die heiligheid van God en die verdorwenheid van die mens.

“Hoe swaar dit nou ook al vir u mag wees om u dierbare … (naam van oorledene) te moet mis, so is onse bede dat onse Hemelse Vader u in die bittere droefheid tog die genade mog verleen om te verstaan, dat Hy ons met ‘n liefdevolle hart kasty.

“Hy wil ons terugbring van onse sondes en ons heen lei na sy ewige woning in die nuwe Jerusalem, waarheen ons vertrou dat u dierbare ons voorgegaan het.

“Laat ons sy Hand kus en aan die hand wandel na die nuwe Jerusalem waar volgens Openbaring 21:4 God alle trane van hulle oë sal afwis; en die dood nie meer sal wees nie, nog droefheid en geween en moeite sal wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan . . .” ⊗

6 Desember

Prof_J_Chris_Coetzee_en_Aletta_van_Rooy_op_hul_troudag.jpg
Prof. J.C. Coetzee en sy vrou, Lettie, op hul troudag, 27 Maart 1927.

6 Desember 1989 | Prof. J. Chris Coetzee in Karmel, Pretoria, oorlede

“Ons kan hom as pionier en grondlegger van die opvoedkunde in die Afrikaanse taal beskou,” haal prof. G.C.P. van der Vyver ’n naamlose skrywer in verband met prof. J. Chris Coetzee aan.

Johannes Christiaan Coetzee is gebore op die plaas Dassiepoort, Venterstad, op 8 Maart 1893. Twee van sy ooms aan moederskant was Dopperpedikante, di. G.H.J. Kruger en J.H. Kruger.

Sy kinderjare was onbesorg en gelukkig. Volgens sy eie oorvertelling is hy “opgevoed in die vrese van die Here en touwys gemaak in wêreldlike kennis deur” sy “moeder veral, wat besonder skrander was”.

Coetzee is in 1902 vir die eerste keer skool toe ná die Driejarige Oorlog, maar na ’n privaat rebelleskool onder ene G. Knothe.

Ná sowat ’n jaar het mnr. Knothe die dorp verlaat (na alle waarskynlikheid Venterstad), en is Coetzee noodgedwonge na die goewermentskool, waar die kinders van Kaapse rebelle aanvanklik verag en/of afgeknou is.

Einde 1908 het hy die “School Higher” afgelê en begin 1909 saam met meester G.G. Rossouw na Worcester in die Boland gegaan. Daar het hy einde 1909 onder Paul Roos, die oud-Springbokkaptein, gematrikuleer.

Nadat hy hom aan die PUK bekwaam het, het hy ’n tyd lank onderwys gegee, eers op Steynsburg en toe op Potchefstroom.

Begin 1921 is Coetzee aangestel as dosent in wiskunde, natuurkennis en skoolorganisasie en –tug aan die Potchefstroomse Onderwyskollege POK, waarvan hy waarnemende hoof was van Oktober tot Desember 1924.

Op 24 Februarie 1924 het hy na die PUK teruggekeer toe hy aangestel word as professor in opvoedkunde. Van 1934 tot 1951 was hy dekaan van die fakulteit opvoedkunde en van 1951 tot 1953 ondervoorsitter van die senaat.

In 1953 het hy prof. J.C. van Rooy as rektor van die PU vir CHO opgevolg. Nes prof. Coetzee se vrou, Aletta, was prof. Van Rooy ’n kleinkind van die Van Rooy-stamouers.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het prof. Coetzee in 1957 vereer met die Stalsprys vir Taal en Geesteswetenskappe (Afdeling Opvoedkunde).

Eredoktorsgrade is aan hom toegeken deur die Universiteite van Potchefstroom vir CHO en Pretoria.

Dr. Van der Vyver skryf hy het deur middel van sy geskrewe en gesproke woord ’n stempel afgedruk op die onderwys in Suid-Afrika. “Wat ’n seën dat hierdie diep gelowige onderwysman en kultuurleier van formaat sy kragte van hart en verstand aan die PU vir CHO kon gee. Die tyd van sy rektorskap word dan ook gekenmerk deur fenomenale groei en uitbreiding.”

Met die jare het meer as 600 onderwysers onder hom afstudeer en is sowat 100 meestersverhandelings en 60 doktorsdissertasies onder sy leiding saamgestel. ⊗


Gereformeerde_kerk_Vaalwater_GGSA.jpg
Die Gereformeerde kerk Vaalwater.

6 Desember 1958 | Die Gereformeerde kerk Vaalwater gestig

Die dorpie Vaalwater lê aan die oewer van die Mogolrivier, noordwes van Modimolle. Op hierdie dag het die gemeente van Waterberg afgestig. Net ’n jaar later het die jong gemeente besluit om ’n kerk te bou.

In Maart 1960 het die boukommissie die terrein besoek en ds. J.T.C. Snyman die eerste pen ingeslaan. Die gemeente sou self onder leiding van oudl. J. Bekker bou.

Daar is beplan vir ’n gebou met sitplek vir 160 kerkgangers. Dit is binne vier maande voltooi en op 9 Julie 1960 in gebruik geneem as die eerste kerkgebou op Vaalwater.

Die losstaande toring is iets besonders: Bo-op ’n A-vormige spitsdakkie is nie die gebruiklike weerhaan nie, maar ’n troffel, ’n simbool van bouwerk. ⊗


Gereformeerde kerk Totiusdal.jpg
Die Gereformeerde kerk Totiusdal. (FOTO: Morné van Rooyen)

6 Desember 1959 | Totiusdal se kerkgebou in gebruik geneem

Totiusdal het op 20 Oktober 1957 van die destydse Eloffsdal-Wonderboom-Suid (later Pretoria-Wonderboom-Suid genoem) afgestig.

So vinnig was die vermeerdering van Gereformeerdes in dié omgewing destyds dat die Gereformeerde kerk Oos-Moot op 30 Julie 1966 kon afstig uit die westelike wyke van Totiusdal en die oostelike wyke van Eloffsdal-Wonderboom-Suid.

Aanvanklik het Totiusdal eredienste gehou in die Hoërskool Oos-Moot se saal. ’n Eie kerkgebou is beplan op grond wat behoort het aan ds. S.J. du Toit, die vader van Totius. Daarom is besluit om die gemeente Totiusdal te noem.

In 1958 besluit die gemeente om ’n kerkgebou op te rig met Johan de Ridder, ’n lidmaat van Pretoria-Sunnyside, as argitek.

Hulle het gevra dat die gebou ’n gevoel van ruimte gee; ’n mens moes kon wegkyk die hoogtes in . . . (Sy plan het egter die teenoorgestelde uitwerking aangesien die laagste punt van die gebou aan die preekstoel se kant is.)

Die hoeksteen is op 13 Junie in die eeufeesjaar gelê en die gebou is op hierdie dag in gebruik geneem. Dit het ’n leiklipdak wat steil na agter boontoe styg (die teenoorgestelde kant van die preekstoel), so tipies van De Ridder se kappiekerke of tentstyl.

By die ingebruikneming van die kerk het mev. Marie du Toit, ’n dogter van ds. Dirk Postma en eggenote van Totius, ’n seringboom geplant as simbool van die stigting van die Gereformeerde Kerk, ’n eeu vantevore onder ’n seringboom op Rustenburg, deur haar vader. Nie lank gelede nie is dié boom per ongeluk uitgekap. ⊗


Steynsburg inwoners.jpg
Gereformeerde inwoners van Steynsburg uit die 19de eeu.

6 Desember 1872 | Vooraand van die stigting van die Gereformeerde kerk Steynsburg

In die omgewing van Steynsburg het ‘n aantal lidmate van Middelburg en Burgersdorp gewoon. Die afstand na hul tuisdorp was groot en met die oog op getroue kerklike meelewing het die behoefte aan ‘n eie tuisdorp en kerkplek ál sterker geword.

Oudl. A.P.J. Steyn van Middelburg, ‘n broer van pres. Paul Kruger se moeder, was die siel van die onderneming. Hy was ongetwyfeld ‘n man van besonderse bekwaamhede en groot invloed. Ds. Koos van Rooy beskryf hom in sy herinneringe as “‘n eerbiedwaardige gestalte, sy gelaat en hele liggaamsbou wys dat hy ‘n oom is van pres. Kruger.”

’n Kommissie is benoem en het die plaas Grootvlei aangekoop van twee eienaars: Die dorpsgrond ongeveer suid van die spoorlyn van Andries van der Walt; die deel hoofsaaklik noord van die treinspoor van L.P. Vorster, grootvader van ds. Louis Vorster.

Oudl. Steyn laat nie gras onder sy voete groei nie. Op 30 Augustus 1872 kyk hy weer die kerkraad van Burgersdorp in die oë. Die kerkraad word eenvoudig meegedeel dat ‘n plaas gekoop is tussen Burgersdorp en Middelburg om ‘n nuwe dorp te stig; daarvoor moet die kerkraad ’n kommissie benoem.

Die amper outokratiese optrede van Steyn dwing die kerkraad tot versigtigheid. Hulle benoem wel ‘n kommissie, maar met die opdrag om eers met die kommissie van Middelburg hieroor te onderhandel, wat wel gedoen is.

Op uitnodiging van Middelburg benoem die kerkraad op sy vergadering van 28 November 1872 ds. Dirk Postma en oudl. W. van Biljon om die stigting “der gemeente te Steynsburg” by te woon. Die te stigte dorp is genoem na hom wat die leiding in die omgewing geneem het, oudl. A.P.J. Steyn.

Die verrigtinge met die oog op gemeentestigting sou op 5 Desember begin. Die byeenkoms vind plaas in die plaashuis aangekoop van Andries van der Walt.

Hier is ook ‘n kerkgeboutjie opgerig waar voorlopig die dienste waargeneem sou word. Die geelhoutbalke wat in die eerste “kerkgeboutjie” diens gedoen het, is later ingemessel in ‘n buitegebou op die plaas Fonteintjie, naby Teebus, wat met die gemeente se eeufeesviering in 1972 nog in gebruik was.

Op Vrydag 6 Desember 1872 vergader die kommissie van die kerkraad van Middelburg, onder wie se leiding die gemeentestigting sou plaasvind, op die bestemde plek en besluit om die volgende dag ’n nuwe gemeente te stig. ⊗


Ds_PC_Blackie_Kruger_lê_die_hoeksteen_van_die_Gereformeerde_kerk_Vryheid_op_6_Desember_1958.jpg

6 Desember 1958 | Ds. P.C. (Blackie) Kruger lê op hierdie dag die hoeksteen van die verbouings aan die ou Gereformeerde kerk van 1929 op Vryheid. Die huidige kerkgebou (tweede foto) is in 1974 opgerig en sluit aan by die ou kerkie (derde foto), wat van toe af as saal gebruik word.

5 Desember

NG_kerk_Chubut,_Comodoro_Rivadavia.jpg
Die Gereformeerde kerk in Comodoro Rivadavia, Argentinië. Dis in gebruik geneem in die naweek van 17 en 18 Maart 1934.

4 Desember 1903 | Groot trek Boere kom aan in Comodoro Rivadavia

 
Ná die Tweede Vryheidsoorlog het Argentinië gesante na Suid-Afrika gestuur om nedersetters vir die dorre streke van die land te werf omdat die staat graag die ylbevolkte dele van Argentinië beter wou vestig en ontwikkel.
 
Ds. L.P. Vorster van die Gereformeerde kerk Burgersdorp het die tweede trek (1903) vergesel, maar ná sy terugkeer ontmoedig hy die verdere verhuising van Afrikaners wat nie minstens £500 besit nie.
 
Gunstige verslae het Suid-Afrika wel bereik en so het heelwat Afrikaners besluit om liewer in die vreemde opnuut met hul lewe te begin as in Suid-Afrika onder die Britse vlag. Party bronne sê die getal was eindelik 600 mense; ander stel dit op tot 800 gesinne.
 
In Oktober 1903 het 322 Boere Kaapstad aan boord van die Highland Fling verlaat. Enkele gekleurde werknemers het hulle vergesel. Die skip het in die Kaap aangekom met ‘n vrag muile en is toe daar omskep om passasiers te vervoer.
 
Nadat hulle in Buenos Aires aangekom het, het hulle 17 dae later aan boord van die Presidente Roca na Chubut gevaar en op hierdie dag in Comodoro Rivadavia aangekom. ⊗

Ds_JM_Opperman_en_eggenote_saam_met_Totius_voor_hul_vertrek_na_Argentinië.jpg
Ds. J.M. Opperman en eggenote saam met Totius voor hul vertrek na Argentinië waar hy Gereformeerde leraar was van 1951 tot 1953.

5 Desember 1903 | Groot trek Boere kom aan in Comodoro Rivadavia

In 1934 was daar nog 900 Afrikaners in Argentinië van wie 80% in die provinsie Chubut gewoon het. Van hulle het 535 tot die NG gemeente Chubut behoort en die meeste van die res tot die Gereformeerde Kerk.

In 1938 het die Unieregering aangebied sy hulp aangebied om die Boere terug te bring. Gerepatrieerdes se Unieburgerskap sou herstel word en die staat en NG Kerk het saamgewerk om die koste van repatriasie te bestry en om werk aan hulle te voorsien.

In die loop van 1938 het twee derdes van die Afrikaners van Argentinië teruggekeer na Suid-Afrika. Sommige is ingeneem deur familielede en die meeste ander is werk gegee.
Net enkeles het voldoende geldmiddele gehad om opnuut selfstandig te begin boer. Die hele repatriasieskema is met die hartlike samewerking van die Argentynse regering uitgevoer.

Diegene wat die aanbod om terug te keer van die hand gewys het – altesaam skaars 200 – was hoofsaaklik die jonger garde wat reeds die nuwe land, waar heelparty gebore is, as hulle eie aangeneem het. Ds. A.C. Sonneveldt van die Nederlandse Gereformeerde Kerk het omgesien na hul geestelike behoeftes.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Gereformeerde Kerk vir oulaas ’n poging aangewend om sy lidmate te behou. In 1951 het ds. J.M. Opperman ’n beroep van die Gereformeerde kerk in Chubut aanvaar en daar vertoef tot 1953.

Daarna het die gemeente hom geskaar by ander Gereformeerde elemente in Suid-Amerika en een van sy eie jong manne uitgekies om opgelei te word vir die bediening. ⊗