12 Maart 1898 | Danie du Plessis gebore

South Africa in the late 1960s (33).jpg

Spoorwegwerf, Johannesburg, 1960’s. Toe Danie Du Plessis in 1953 hoofbestuurder word, het die Suid-Afrikaanse Spoorweë 220 000 mense in diens gehad.

Spoorweghoof op Dopperplaas by Colesberg gebore

Daniël Hendrik Celliers du Plessis was hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en een van die groepie jong Afrikaners wat in die winter van 1918 in Johannesburg byeengekom het om die “vertroulike” Afrikaner-Broederbond te stig “om ’n vooruitstrewende eensgesindheid onder alle Afrikaners te bewerkstellig en om die Afrikaanse tradisies en kultuur op elke lewensterrein uit te bou en te bevorder”.

Daniël_du_Plessis.jpg

Danie du Plessis was 20 jaar oud toe hy die Afrikaner-Broederbond help stig het. Die stigtingsvergadering is in sy huis gehou

Danie du Plessis is op die plaas Kleinfontein, ’n deel van die familieplaas Springfontein, distrik Colesberg, gebore. Sy vader, I.D. du Plessis, was ’n seun van Izak David du Plessis en Hester Venter, medestigters van die Gereformeerde kerk Colesberg op 8 Desember 1860.

Du Plessis was die tweede van drie seuns van I.D. du Plessis en sy tweede vrou, Hester Cornelia Cecilia Lessing. ’n Oom van hom, ds. L.J. du Plessis, was die vader van prof. J.A. du Plessis, wie se seuns Hugo en Wicus albei professor aan die PUK was.

Toe Danie se gesin in 1907 weens ernstige droogte na Parys verhuis, waar sy vader eers slagter en daarna skoenmaker was, het hy daar skoolgegaan en smiddae help vleis aflewer. Vanweë finansiële probleme het die gesin in 1912 na Germiston aan die Oos-Rand verhuis, waar pa Izak as arbeider op die Spoorweë werk gekry het.

ID_du_Plessis,_seun_van_ID_du_Plessis_op_wie_se_plaas_Hamelfontein_die_Gereformeerde_kerk_Colesberg_gestig_is.jpg

Danie du Plessis se vader, I.D. du Plessis, was ‘n seun van Izak David du Plessis en Hester Venter, medestigters van die Gereformeerde kerk Colesberg.

Met geldelike hulp van familie het Du Plessis op Parys bly skoolgaan en einde 1912 in die Junior Sertifikaateksamen geslaag. Van sy skoolmaats was onder andere die latere speaker H.J. Klopper, regter Clemens Brink en die spoorwegkommissaris dr. C.V. von Abo.

Deur privaat studie het hy aan die St. John’s College in Berea, Johannesburg, onderrig in Afrikaans en geskiedenis ontvang en die Taalbondeksamen afgelê, en ook ’n diploma in die Nederlandse letterkunde verwerf. Hy het nooit die Matrieksertifikaat verwerf nie omdat hy een vak kortgekom het en met sy druk werkprogram dit nooit kon bybring nie.

Ná sy skoolopleiding het Du Plessis twee jaar lank as kantoorklerk by die prokureurs M.H. Keet en daarna P. Lion-Cachet in Germiston gewerk en kon sy gesin toe finansieel bystaan. Op 10 Junie 1915 het hy as bode in die telegraafkantoor van die Spoorweë begin werk.

Daarna het hy agtereenvolgens in die kantoor van die assistent-hoofbestuurder en die hoofbestuurder gewerk, waar hy vertaalwerk moes doen. Die kommer het voortdurend by hom bestaan dat Afrikaans slegs ’n vertaaltaal in spoorwegsake sou wees.

In 1931 het hy kontroleur van Transportmededinging in Johannesburg geword; dus was hy die skakelpersoon tussen die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (SAS & H) en die Sentrale Padvervoerraad. In 1934 is hy aangestel as privaat sekretaris van die minister van spoorweë en hawens en sekretaris van die Spoorweg-en-Haweraad, en het dié ampte beklee tot 1937, toe hy superintendent (parlementêr) geword het.

Twee jaar later is hy as afdelingsbestuurder na Bloemfontein en is vier jaar later in ’n soortgelyke hoedanigheid in Johannesburg aangestel. Hy is in 1945 op hoofkantoor as hoof van die afdeling Hawens, Skeepvaart en Ontwikkeling aangestel en het in Februarie 1949 hoof van die personeelafdeling geword.

Die jaar daarna is hy bevorder tot adjunk-hoofbestuurder en in 1952 het hy W.H.L. Heckroodt as hoofbestuurder opgevolg, ’n betrekking wat hy tot sy aftrede in Maart 1961 beklee het.

In sy hele loopbaan van 46 jaar was hy net een keer afwesig, toe hy pampoentjies gehad het. Hy was trots op die rol wat die Spoorweë kon speel om die regeringsbeleid van apartheid in te voer en het op ’n keer aan besoekende sakelui uit die buiteland vertel die regering se plan om swart mense grootskaals gedwonge te verskuif sou uitbreiding van £50 miljoen vir die Spoorweë beteken.

Hy het bereken tussen 1956 en 1963 sou sowat 932 000 swart mense in townships aan die buitewyke van Johannesburg, Germiston, Benoni, Kaapstad en Durban hervestig word, van wie sowat 400 000 per elektriese trein na en van die werk sou pendel.

Eerste uitvoerende komitee van die Broederbond.jpg

Die eerste uitvoerende komitee van die Afrikaner-Broederbond, 1918. Agter: Danie du Plessis, J. Combrink en H. le R. Jooste. Voor: L.J. Erasmus, H.J. Klopper, ds. William Nicol en J.E. Reeler.

As medestigter van die Afrikaner-Broederbond (AB) was sy amp as hoofbestuurder van die Spoorweë ’n beloning wat die Broeders beloof het hy voor sy aftrede sou kry. Du Plessis was wel ’n uiters bekwame spoorwegman uit eie reg, maar as die Broederbond nie agter die skerms gewerk het om Marshall Clark, ’n aanstelling van voor die Nasionale Party die bewind in 1948 oorgeneem het, te verwyder nie, sou Du Plessis nooit die hoogste sport in die Spoorweë bereik het nie.

Danie du Plessis is op 5 Junie 1918 saam met J. Combrink, H. le R. Jooste, L.J. Erasmus, H.J. Klopper, ds. William Nicol en J.E. Reeler tot die Broederbond se eerste uitvoerende komitee verkies. Die aanleidende oorsaak vir die stigting van dié “vertroulike” en later geheime organisasie was die agterstand wat Afrikaners destyds op elke lewensterrein ervaar het. In ’n stadium het die sowat 12 000 lede van die AB die lot van elke Suid-Afrikaner bepaal omdat dit deur strategies geplaaste lede die regering en al sy instellings beheer het.

Dit was Du Plessis, Henning Klopper en H.W. van der Merwe wat besluit het om ’n organisasie te stig wat in die belang van die Afrikaner sou optree. Ná verskeie samesprekings is die AB op aan huis van Du Plessis gestig. Hy was die eerste sekretaris, ’n amp wat hy anderhalf jaar beklee het, lid van die uitvoerende raad en ná 25 jaar een van die enigste drie stigterslede wat nog lid van die organisasie was.

Danie du Plessis, hoof van die Suid-Afrikaanse Spoorweë.jpg

Du Plessis het ná sy aftrede in 1961 as hoofbestuur van die Spoorweë as voorsitter van die staat se kommissie van ondersoek na derdepartyversekering opgetree.

In die openbare lewe het Du Plessis opgetree as trustee van die Nasionale Parkeraad, die Poliomiëlitis-navorsingstigting en die Suid-Afrika Stigting, waarvan hy ook vise-president was; as direkteur van die Kleurlingontwikkelingskorporasie, Uniewinkels, die Witwatersrandse Streekraad, Ou Mutual, die Suid-Afrikaanse Buitelandse Handelsorganisasie (Safto) en Afrikander Proprietary Mines Ltd; en as lewenslid van die Suid-Afrikaanse Publisiteitsvereniging.

Hoewel hy uit huis uit lidmaat van die Gereformeerde Kerk was, het hy later oorgegaan na die Nederduitse Gereformeerde Kerk en was hy leierouderling in die gemeente Aasvoëlkop in Northcliff, Johannesburg. Daar was hy vroeër jare goed bevriend met dr. Beyers Naudé, ’n seun van ds. Jozua Naudé van Graaff-Reinet, waar Naudé sr. met sy sterk Nasionalistiese gesindheid ’n skeuring in die NG Kerk veroorsaak het wat eers onlangs geheel is. Du Plessis en Beyers Naudé was goed bevriend tot dié in 1963 weens gewetensbesware teen apartheid as predikant en uit die AB bedank het.

In 2018 is Du Plessis se seun Dawid steeds lidmaat van dié gemeente.

Du Plessis is in 1928 getroud met Susanna Seugnette du Toit van Hopetown, wat presidente van die Spoorwegvrouevereniging, voorsitster van die Vrou-en-Moederbeweging van die Spoorweë in Johannesburg en bestuurslid van die ATKV was. Drie seuns en ’n dogter is uit die huwelik gebore.


PB 01

Lewer kommentaar