21 Maart 1925 | Kuruman-kerk in gebruik

Gereformeerde kerk Kuruman.jpg

Kuruman se derde Dopperkerk is in gebruik geneem op 20 Mei 1967. (FOTO: bluebengu.co.za)

Tweede Dopperkerk op Kuruman in gebruik geneem

Ou Gereformeerde Kerk Kuruman

Kuruman se tweede Dopperkerkie. Dit was ’n nasionale gedenkwaardigheid onder die ou bedeling. (FOTO: Facebook/Gereformeerde Kerk Laeveld)

Die Gereformeerde Kerk Kuruman is die naasoudste gemeente in Klassis Griekwaland-Wes. Einde 2017 was hier 253 belydende en 86 dooplidmate vir ’n sieletal van 339, die tweede meeste in die Klassis (net Maruping is groter), meer as selfs Kimberley, en ’n mooi toename van 7 persent vergeleke met die sieletal van 316 einde 2001.

Die gemeente Kuruman is in 1919 gestig. Geen foto’s van die eerste kerkgebou het behoue gebly nie. Ds. J.H. Kruger het die tweede kerkgebou, ’n klipkerk in Stewartstraat, op 21 Maart 1925 in gebruik geneem.

Die geskiedkundige gebou is later tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar, maar die gemeente het dit in 1981 vir R60 000 verkoop. Op hierdie kerk se perseel is ’n boomstomp met ’n gedenkplaatjie aangesien dit die boom was waaronder die eerste boukomitee vergader het om die ligging van die kerkgebou te bespreek.

Die argitek van die nuwe en huidige kerkgebou, in die gewilde tentstyl (kappiekerk) van destyds, was B. De Wet Hartman, wat ook onder meer verantwoordelik was vir die Gereformeerde kerke Kemptonpark-Noord, Roodepoort, Vryburg en Frankfort, asook twee NG kerke op Koppies in die Vrystaat.

Die bouaannemer was Frans Lubbe van Hartswater. Die boukoste het R58 600 beloop en die gebou is in gebruik geneem op 20 Mei 1967. Die kerkperseel op die hoek van Breë- en Kromstraat bestaan uit vier erwe.

Kuruman se preekstoel.jpg

Die kansel in Kuruman se derde kerk. (FOTO: Elsa Reynecke Olivier)

Tydens die beplanning van die kerkgebou is besluit die dak moes ’n Voortrekkerkappie voorstel; daarom moes die dak hoër wees om die agterste deel van die kappie te vorm. ’n Kruis wat geteël is, is in die toring ingebou.

Die kerk se plafon is van sederhout gemaak en die klankbord agter die preekstoel stel ’n gekruisigde figuur met ’n hangende hoof voor. Weerskante van die kansel is ligte wat lyk soos sewe kandelare.

Predikante

  • Van der Merwe, Johannes Lodewikus, 1930 – 1939
  • Snyman, Nicolaas Tjaart, 1939 – 1943 (in kombinasie)
  • Van Wyk, Rudolf Stephanus Jacobus, 1945 – 1949
  • Smit, Cornelius Hermanus, 1951 – 1955
  • Steyn, Tjaart, 1956 – 1970
  • Maas, Samuel, 1967 (in kombinasie met Groenwater; verlaat die bediening ná net ’n jaar)
  • Du Plessis, Pieter Johannes Lodewyk, 1970 – 1981
  • Kruger, dr. Mechiel Andries, 1977 – 1978 (sendeling)
  • Van der Merwe, dr. Sarel Jacobus, 1978-1982
  • Kruger, dr. Petrus, 1982-2001 (aanvaar sy emeritaat)
  • Van der Walt, Abraham Barend, 2002-2004
  • Aucamp, Jan Christoffel, 2005-2011 (verlaat die bediening)
  • Reinecke, Hendrik, 2012 – hede

(BRON: Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke)


Die pes

Lewer kommentaar