9 Julie 1890 | Joon van Rooy gebore

Prof_JC_(Joon)_van_Rooy.jpg

Prof. Joon van Rooy was een van die grootste Afrikaanse kultuurleiers uit Doppergeledere.

Voorsitter van Broederbond Van Rooy-stamouers se kleinseun

Prof. Johannes Cornelis van Rooy was ’n akademikus van die Potchefstroomse Universiteitskollege, Afrikaanse kultuurleier en twee maal voorsitter van die Afrikaner-Broederbond: van 1932 tot ’38 en weer van 1942 tot ’52.

Van Rooy is op Steynsburg gebore as ’n kleinseun van die Van Rooy-stamvader, Johannes Cornelis van Rooy, wat in 1857 na Suid-Afrika verhuis het en wie se name die latere prof. Van Rooy gekry het.

Studente_en_personeel_van_die_Voorbereidende_en_Teologiese_Skool_op_Potchefstroom_voor_die_eerste_gebou,_1913.jpg

Studente en personeel van die Voorbereidende en Teologiese Skool op Potchefstroom voor die eerste gebou, 1913. Van Rooy staan links in die vierde ry. Die mense in voorste ry is, van links: Hester Coetzee, Betsie Postma, S.G Yssel, J.J.A. Coetzee, prof. Ferdinand Postma, prof. J.D. du Toit (Totius), prof. A.P.C. Duvenage, prof. Jan Kamp, Piet van der Walt, Rachel Wentzel, Vera Gill.

Joon van Rooy het aan die Gereformeerde Kerk se Teologiese Skool op Potchefstroom studeer, aan Unisa en aan die Vrije Universiteit in Amsterdam. Met sy aanstelling as lektor in filosofie aan die Potchefstroomse Universiteitskollege in 1919, opgevolg deur sy bevordering tot professor in 1921, aanvaar hy sy lewensloopbaan as akademikus.

Aan die PUK vir CHO het hy as hoogleraar, dekaan van verskillende fakulteite, as registrateur, sekretaris van die senaat en die raad, ondervoorsitter van die senaat, rektor en kanselier diens van onskatbare waarde gelewer.

Hom en talle van sy medegrondleggers en -bouers was dit beskore om die klein en geringgeskatte kollege te sien uitgroei tot die volwaardige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in 1951.

Prof. Joon van Rooy se diens was egter nie beperk tot die akademie nie. Sy leiersvermoë, wat hy reeds in sy studentelewe en ook op akademiese terrein geopenbaar het, is vervul in sy diens aan sy volk in wyer verband.

Staf_en_studente_van_die_PUK,_1933.jpg

Personeel en studente van die Potchefstroomse Universiteitskollege, 1933. Prof. Van Rooy is in die middel, links van prof. Ferdinand Postma.

Hy het nooit ’n leidende rol in die partypolitiek gespeel nie, maar hom tog aanhoudend vir volkseenheid beywer. Die hoogtepunt van dié strewe het hy ongetwyfeld bereik met sy toespraak op Monumentkoppie in Pretoria op 9 September 1939, toe die (kortstondige) hereniging tussen dr. D.F. Malan en genl. J.B.M. Hertzog plaasgevind het.

Vir dié saamtrek het Totius huiwerig ingewillig om ’n “volksverklaring” op te stel en voor te lees, waardeur almal teenwoordig “met die opsteek van hul hand” uitdrukking sou gee aan hul wil en begeerte om as Afrikaners vorentoe saam te werk en saam te stry op die pad van Afrikaner-selfstandigwording.

Prof. Van Rooy was ook ten nouste betrokke by die uitbouing van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), waarvan hy van 1941 tot ’51 voorsitter was. Onder sy leiding het die FAK in die oorlogsjare aktief die stryd om moedertaalonderrig aangeknoop nadat die Verenigde Party wetgewing aanvaar het ten gunste van dubbelmedium-onderrig, wat sou beteken alle blanke kinders sou in die helfte van hul vakke in hul huistaal en in die ander helfte in die ander ampstaal onderrig word.

In Pietermaritzburg het die FAK self daartoe oorgegaan om ’n CNO-bewaarskool te bou om te verseker dat Afrikanerkinders van daardie stad in hul eie taal onderrig ontvang. Onder sy leiding het die federasie ook die nodige geld ingesamel om die Kruger-sterfhuis in Clarens, Switserland, aan te koop en aan die staat oor te dra.

Volksherenigingskongres.jpg

Prof. Van Rooy het die skare toegespreek tydens die Volksherenigingsbyeenkoms op Monumentkoppie in Pretoria op 9 September 1939.

Van 1932 tot 1938 en weer van 1942 tot 1952 was hy voorsitter van die Afrikaner Broederbond. Met dié dat prof. Wicus du Plessis voorsitter was van 1930 tot ’32, het ’n Gereformeerde dus dié organisasie van 1930 tot 1952 gelei, buiten die vier jaar tussen 1938 en ’42 toe die voorsitter Nico Diederichs was, die latere staatspresident.

Ds. P.J. Meyer het ná sy dood as volg van prof. Van Rooyen getuig: “Prof. J.C. van Rooy het as volksman en kultuurleier die Calvinisties-Christelike grondslag en inhoud van die Afrikaanse kultuurstrewe steeds duidelik vertolk, omlyn, doelgerigte leiding daaraan gegee en daarvoor geesdrif gewek. Daarby het hy hom veral beywer vir die eenheid van sy volk as voorwaarde vir die volbrenging van sy Godgestelde roeping.”

Hy is op 29 Augustus 1954 oorlede toe hy 64 jaar oud was. Hy was getroud met Rachel Aletta (Burgersdorp, 24 September 1893 – Potchefstroom, 6 Maart 1981), prof. Jan Lion Cachet se jongste dogter.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s