Oudvoorsitter van SR in fleur van sy lewe weggeneem
“In Jan-Louis du Plooy het ons ’n besondere ledemaat van ons liggaam verloor,” het ds. Eric Kayayan, sendeling in GK Potchefstroom-Noord, op die troosdiens van die gemeente se ontslape predikant gesê, “en nou kry die hele liggaam baie seer, en elkeen van die ander lede deel aan die hartseer.
“Ons hartseer is ’n liefdevolle hartseer, dit wil sê, ’n meelewende hartseer, met baie gebede wat die gesin aan ons Here opdra. Slegs ’n jaar en drie maande van bediening in die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Noord.
“Die eerste gedagte wat opkom, is dat dit hopeloos te kort was. Maar dit was nie die gedagte van ons Hemelse Vader wat oor alles beskik nie. Hy het selfs die tyd van Jan-Louis se bediening onder ons bepaal.
“En as ’n mens kyk na die mylpaal van 50 jaar van bestaan van ons gemeente, is dit ook merkwaardig dat Jan-Louis die een is wat deur ons Hemelse Vader aangewys is om ons te begelei om hierdie mylpaal te bereik.
“Die gawes, die visie, die toewyding het hy gehad, en sy bydrae tot die opbou van ons gemeente sal altyd onthou word – nie net hier op aarde nie. Maar onse Vader in die hemel het dit ook opgeteken.
“Die bou en die opbou is nog nie klaar nie. Ons weet dit, daar is nog baie bouwerk wat gedoen moet word. Maar Jan-Louis se Geesvervulde en doelgerigte bediening het ons laat help groei in baie opsigte, sodat ons dié mylpaal kon bereik.
“Die mooi erfenis wat sy voorganger in die diens, prof. Ben de Klerk, aan hom oorgelaat het, het hy versterk en verder gevat. Ons eie gawes, visie en toewyding is ook aan die groei, met al die pyn en die swaarkry wat ’n persoon aan die groei altyd ervaar.
“In dié opsig is Jan-Louis se skielike dood volledig deel van ons eie groei. Hoe misterieus om te sien hoe Christus in die bou van sy kerk werksaam is . . . ’n Ledemaat van die liggaam gaan dood, en desnieteenstaande groei die liggaam daardeur!”
Ook op ds. Du Plooy se troosdiens het prof. A du Plooy gesê: “Hy was ’n mooi gawe van God aan ons, en ’n belowende jong man wat vroeg van ons weggeneem is. Dit is ’n dood wat totaal onverwags en as ’n groot skok tot ons almal gekom het. Dit raak wyd en diep. Dit ontroer ons. Die rimpelings hiervan het ver uitgekring.”
Prof. Fika van Rensburg het ds. Du Plooy se lewensberig in die Almanak vir 2001 geskryf, waarvan onderstaande ’n geredigeerde weergawe is:
Hy is gebore in Oos -Londen uit verbondsouers, wat albei reeds oorlede is, as die middelste van drie kinders. Hy het eintlik in Burgersdorp opgegroei en in 1974 daar gematrikuleer, waarna hy aan die Puk ingeskryf het met die bedoeling om predikant te word.
As student het hy gou ’n leidende rol in die studentelewe gespeel sodat hy twee jaar lank voorsitter van die SR was: 1980 en 1981. Hy was ook bevoorreg om die Abe Bailey-reisbeurs te ontvang vir besoek aan Groot-Brittanje. Hy het sy teologiese studie (Th.B. en Kandidaats) met onderskeiding geslaag.
In 1980 is hy met Erina du Toit getroud en uit hierdie huwelik is vier pragtige kinders gebore: Alta (17), Gerhard (14), Ruben (11) en Ilze (9).
Ná sy studie in Potchefstroom en twee jaar militêre diensplig is hy in 1984 na Meyerspark beroep. In 1991 is hy daarvandaan na die Strand beroep, en begin 1998 is hy in Potchefstroom-Noord bevestig.
Hy het ook nog tyd gemaak vir verdere studie in die teologie, en in 1994 sy Th.M.-graad met vakrigting Diakoniologie met lof verwerf oor die onderwerp: Die betekenis van gemeente-opbou vir die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Hy was hy vir die Th.D. graad ingeskryf.
Ds. Jan-Louis du Plooy het saam met sy eggenote met groot ywer en bekwaamheid sy kragte en diens in belang van die gemeentes waar hy gewerk het asook in belang van die kerkverband aangewend. Hy het ’n passie gehad vir die opbou van die kerk van die Here.
Hy het voluit gewerk en voluit gelewe vir die koninkryk van God. Die kerke het vertroue in hom gehad. Nie net in klassikale en partikuliere sinodale verband nie, maar ook in nasionaal sinodale verband.
Hy het nog tot op die dag van sy oorlye as deputaat vir die Bewaring en vermeerdering van die kerk aan die rapport met die oog op die aanstaande sinode gewerk; hy was ook lid van die breë kuratorium.
Uit die Boland kom die getuienis dat hy en Erina kostelike werk daar verrig het – eintlik pionierswerk in die Strand, Bredasdorp, Hermanus, Kleinmond ensovoorts. Die tyd wat die Here hom as instrument gebruik hot, was relatief kort, maar tog intensief en effektief.
Elkeen word volgens sy of haar gawes gebruik. So het hy ook sy eie aanpak gehad, sy eie styl. Hy was ’n selfstandige denker, soms onkonvensioneel, maar altyd lief vir die gereformeerde leer.
Hierbenewens het die Here dit so beskik dat iemand wat ’n goeie begrip van ons kulturele samestelling in die land en aan die Skool het, die studente aslid pastoraal kon begelei. Ons studente het besondere waardering vir die wyse waarop hy as bedienaar van die Woord die studente on die belange van die Skool op die hart gedra het.
Sy bede was altyd dat die resultaat van sy werk oftewel die uitkoms daarvan tot eer van God, tot heil van die koninkryk en tot die opbou van die kerk mag wees. So is dit ook ons bede teenoor die Here dat die werk van sy hande bevestig mag word.