21 September 1912 | Prof. J.L. Cachet oorlede

Prof_Jan_Lion_Cachet_se_begrafnis_op_Potchefstroom,_1912.jpg

Prof. Cachet se begrafnis op Potchefstroom, 1912.

Vader van die Teologiese Skool ook Taalstryder

Nadat hy 26 jaar as professor aan die Gereformeerde Kerk se Teologiese Skool gedien het, het prof. Jan Lion Cachet (gebore op 29 November 1838) se kragte weens ouderdom en siekte afgeneem. Uit die notules van die kuratorevergaderings is dit duidelik dat hy hom nie uit eie beweging kon losbreek van die werk en die skool wat vir hom dierbaar was nie.

Lion Cachet Jan.JPG

Moontlik die bekendste foto van prof. Jan Lion Cachet.

Op sy vergadering van 1 Desember 1909 het die kuratore baie taktvol besluit om by die sinode aan te beveel dat, vanweë die afnemende kragte van prof. Cachet, vir hom ’n assistent benoem sal word, wat dan tegelyk sy opvolger sou wees. Maar op die sinode wat vanaf 7 Maart 1910 gesit het, is toe berig dat prof. Cachet gevra het om op 1 Mei 1911 af te tree. Die sinode het die kuratore toestemming verleen om die ontslag toe te staan.

Op 14 April 1911 lewer hy sy afskeidsrede oor “Wie veracht den dag der kleine dingen” (Sag. 4: 10a).

Net ’n kort rustyd was prof. Cachet beskore waarin hy nog deeltydse diens aan die Teologiese Skool verrig het, want op 21 September 1912 is hy oorlede op Potchefstroom, waarheen hy agt jaar vantevore saam met die Teologiese Skool vanaf Burgersdorp verhuis het.

Lion Cachet.JPG

’n Bondige lewenskets van prof. Cachet. (Bron onbekend)

Ds. Petrus Postma het sy begrafnisrede gehou na aanleiding van Spreuke 10:7. Almal het getreur oor hierdie nederige, eenvoudige dienskneg van Jesus Christus, ’n vader, ’n vriend. Hy was breed in kennis en wetenskap, sterk in die geloof, ’n steunpilaar vir kerk, skool en volk.

Dr. J.D. du Toit (Totius) noem hom by sy heengaan ’n “wegwyser”: “Ons is soos pelgrims wat op ’n kruispunt gekom het en nie weet waarheen nie. Ons vra na die weg, maar sy stem is stil.”

Dikwels het hy van die Teologiese Skool gespreek as sy kind. Soos ’n vader het hy dit bemin en oor die belange daarvan gewaak. Sy heengaan is ook ’n verlies vir land en volk. Sy stryd vir die Afrikanervolk, Afrikaanse taal en vir Christelik-nasionale onderwys gee hom ’n eervolle en blywende plek in die vestiging en groei van die Afrikaanse gedagte in Suid-Afrika.

So skryf De Zuid-Afrikaan by sy heengaan oor hom: “Veelsydig was die invloed wat van hom, ’n kragtige persoonlikheid, uitgegaan het. Wie sal kan beskryf wat deur sy verlies gely word in sy huisgesin, in die skool, in die kerk, in die maatskappy.”

Lion Cachet Prof Jan in sy studeerkamer 2.JPG

Die bejaarde prof. Cachet in sy studeerkamer.

Met die heengaan van Cachet is ’n periode van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika afgesluit. Met hom, so het dr. Sietse Los van GK Pretoria dit gestel, is die Sturm und Drang-periode van die kerk beëindig.

“Zij horen bij Christus. Maar gedenkt hem en zegt: ‘Zie, hier ben ik, Heere, bij het graf van Cachet. En ik zweer een dure eed, dat mijn goed, en mijn vlees, en mijn bloed, zijn voor uwe heilige zaak, O Heere, God onzer vaderen.’”

Met Dirk Postma en Jan Lion Cachet eindig die periode van die “Vaders”, aldus dr. J.D. du Toit in later jare. Hulle plek in die kerk was dié van ’n vader. Albei het hulle daarop toegespits om in hulle opleiding werkers te vorm.

Cachet was met sy lewenswysheid ’n man van die praktyk. Na almal het hy geluister en oor alle sake, ook die geringste daaronder, kon hy wyse, vaderlike advies gee. Hy was in die volle sin van die woord ’n vader van die skool, ’n vader van die studente.

Cachet Jan Lion begrafnis te Potchefstroom.jpg

Die lykswa op pad na die graf.

Sprekend is die beskrywing van dr. J.D. du Toit later jare in hierdie verband. “Hoe sal ek die leser kan inlig aangaande die ryke persoonlikheid prof. Cachet, om wie alles hier draai? Vir my persoon, en baie saam met my, is ek gedagtig aan die woord van Paulus: Al sou julle tienduisend leermeesters hê, dan het julle tog nie baie vaders nie.

“’n Leermeester, ’n professor kan die kerk beroep, natuurlik in biddende opsien tot God. Maar ’n vader moet deur God gegee word. Eers kom dan ook die vaders en dan die leermeesters. In die kerkgeskiedenis: eers die patres en dan die doctores.

“So het dan ook die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika sy vaders Postma en Cachet gehad. Daarna het die professore gevolg. Vaders vanweë die krisistoestand.”

Cachet Jan Lion begrafnis Potchefstroom 1912.jpg

Nog ’n foto van die begrafnis wat behoue gebly het.

In 1913 het lede en erelede van die Gereformeerde Studentekorps Veritas Vincet besluit om geld in te samel vir ’n fonds, waarvan die rente gebruik sou word om boeke vir die biblioteek te koop. Voorin elke boek sou aangeteken word “Cachet-biblioteek”.

2 thoughts on “21 September 1912 | Prof. J.L. Cachet oorlede

Lewer kommentaar