17 November 1945 | GK Uitschot gestig

GK Uitschot.jpg

Die Gereformeerde Kerk Uitschot.

Klassis keur 11 jaar lank versoek om afstigting af

Oudl. Koos Schutte het reeds in 1928 die gedagte geopper om ’n kerkgebou op die kerkgrond tussen Sannieshof en Coligny op te rig. Eers drie jaar later het dié ideaal begin gestalte kry toe Jurie Snyman en sy medebouer opdrag gekry het om te begin bou op Vermaas, sowat 20 oos van Sannieshof.

Op 26 Maart 1932 is die gebou feestelik in gebruik geneem. Destyds was ds. J.C. van der Walt leraar van die GK Lichtenburg en het reeds die volgende dag die eerste kind in die nuwe kerk gedoop. Die plan was om van toe af een maal per maand ’n leesdiens in die nuwe kerk te hou en katkisasie elke Sondag.

Hoewel die kerk voltooi is, was daar nog nie banke nie en ook nie geld om dit mee te koop nie. Die wyk het wel kans gesien om later geld daarvoor byeen te bring, maar vir eers het hulle gaan hulp soek by die Administratiewe Buro van die Gereformeerde Kerk vir ’n lening van £380.

Die penningmeester van die Buro wou nie graag dat geld aan ’n wyk geleen word nie, maar wel aan ’n gemeente, in dié geval Lichtenburg. Op oudl. Tom Catton se voorstel is besluit Lichtenburg sou die lening namens die wyk Uitschot aangaan vir ’n bedrag van £3 100 nie te bowegaande nie.

Ook sou ’n bank uit Lichtenburg se kerk aan die wyk geleen word om as patroon vir Uitschot se banke te dien. Dit is op diaken Frans Schutte se wa gelaai, op Uitschot uitmekaargehaal en so kon Jurie Snyman en Tol Venter van Boschpoort begin om die banke te maak. Jare later is dié banke verkoop aan die NG sendinggemeente op Sannieshof.

Weens die toename in motorverkeer op die pad na Lichtenburg het die beweging van ossewaens ál moeiliker geword en so het dit ’n instelling geword om Nagmaal net een maal per jaar in die nuwe kerk te hou.

Oudl. A.S. Schutte het hom al in 1934 vir die afstigting van die wyk as selfstandige gemeente beywer, maar die Klassis het talle versoeke afgekeur en 11 jaar lank sou die toestand so voortduur.

Eindelik is afstigting tog goedgekeur en so is die ideaal van ’n Gereformeerde Kerk Uitschot op hierdie dag verwesenlik.

Lewer kommentaar